{ARGIEF}

Mag Christene dan Kersfees vier?
Baie mense wil op grond daarvan dat Kersfees se datum  ʼn heidense oorsprong het,dit  daarom nie vier nie. Daar moet onthou word dat die sending van daardie tyd unieke aanpassingsprobleme gehad het. Hulle het geredeneer dat sekere gewoontes, wat nie so na aan die heidense kern is nie, verchristelik kon word twv die aanvaarbaarheid en uitbreiding van die Christendom.
Ons moet verder onthou dat die datum moontlik ooreenstem met ‘n heidense fees,  maar die inhoud en die viering van Kersfees  is baie Bybels. Dit is dus elke gelowige se keuse om Kersfees te vier. As jy dit vier met ʼn gesindheid dat jy die geboorte van Jesus Christus wil herdenk, is dit goed.

Betekenis en inhoudvan Kersfees:
* Kersfees is ʼn Christusfees. Daar gaan daarom dat Jesus Christus ons verlosser gebore is. Dat God sy eie Seun Jesus Christus na ons gestuur het om die verlore wêreld te red! Hierdie is die vertrekpunt van ons hele geloof en godsdienstige lewe gaan. Die eerste rede waarom ons dus Kersfees met vrymoedigheid kan vier is omdat ons dankbaar is vir Jesus se koms na die aarde, wat vir ons redding gebring het. Die Engele se lied “ Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het” (Luk 2:14) Ons is dankbaar en opgewonde dat die Here Jesus gekom het. Dat God mens geword het (Joh. 3:16)! Ons doen dit gewoonlik deur Kersfees  saam kerk toe te gaan.
* Kersfees is ook ʼn Jubelfees. Luk 2:10 gee vir ons die inhoud van Kersfees “ Moenie bang wees nie, want kyk ek bring vir julle ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die verlosser gebore, Christus die Here” Dit is ʼn groot en wonderlike gebeurtenis wat vra om gevier te word. Dit is die rede waarom Kersfees ʼn fees van blydskap is wat soos ʼn fontein opspring uit die dankbare hart van gelowiges. Ons blydskap het natuurlik ʼn ander inhoud as die wêreldse blydskap by sy feesvieringe.Kersliedere is maar een voorbeeld hie Chritene wil jubel. Deur om te gee vir ander mense , is jy ook besig om te jubel van dankbaarheid.
* Kersfees is ook ʼn Familiefees: Dit pas in dat Sondae ons weeklikse familiefees is. In ʼn tyd van blydskap en dankbaarheid wil ons graag die mense wat naaste aan ons is by ons hê. Daarom vier ons dit met vreugde, blydskap en dankbaarheid.

2. Gebruike tydens Kersvieringe:
* Geskenke
Die gebruik van geskenke kom natuurlik van die geskenke wat die Christus kind na sy geboorte ontvang het van goud, wierook en mirre. Die probleem is dat ons geskenke soms hand uitruk. Die geskenke moet eerder eenvoudige liefdesgeskenke wees wat ons vir mekaar ge, as wat dit ‘n duursame luukse karakter het. Anders is daar geen verskil tussen ons en die wêreld nie.
*Kersvader
Dit word verbind aan ʼn karakter wat Kersfeesvader of Santa Claus genoem word. Santa beteken Heilig en Claus kom van st. Nicolaas af. Hy was ʼn goeie biskop van Myra wat waarskynlik 6 Des 280 NC gebore is.  Volgens oorlewering was hy as biskop verkies en was baie geliefd in die Griekse Katolieke kerk. Hy is vervolg, in die tronk gegooi en later deur Konstantyn bevry. Hy was bekend as ʼn beskermheer van matrose omdat hy op ʼn keer teen ʼn storm gebid het. Meer nog was hy bekend vir sy sorgsaamheid vir arm kinders aan wie hy graag geskenke gegee het.
Die bekende verhaal wat oor hom vertel word is dat hy die dogter van ‘n edelman gehelp het met die bruidskat toe die Pa skielik alles verloor het. (Sommige beweer dat die  goud in ʼn kous geval het wat naby die skoorsteen gehang het om droog te word. ).
In Nederland was baie matrose en sy naam het gou helde-status bereik Later het ʼn hele tradisie rondom hom met ʼn rooi jas en baard ontstaan.
Ek gun kinders soms die pret en fantasie van Kersvader,  maar nooit mag Kersfeesvader met  Christus vergelyk, of ge-assosieer word nie. Jy moet altyd vir kinders presies vertel waarom ons kersfees vier. Die enigste rede is Christus. Kersvader het niks met Christus te doen nie.
*Kersboom:
Boomverering waarin die kersboom sy oorsprong het, dateer baie ver terug. Met kinders se geboorte plant mense soms ‘n boom. Die simboliese van bome, wat die lewe simboliseer,  is so oud soos die mens.
Volgens oorlewering het die kersboom omstreeks 733 NC ontstaan toe ʼn Engelse sendeling nl. Bonofacius, die Germane besoek het. Hulle het rondom ʼn groot eikeboom ter ere van Thor die dondergod feesvier. Hy het hom so vir hulle vervies dat hulle weer so terugval na sy evangelisasie-werk, dat  hy sy byl gegryp en die boom afgekap het. Nou word vertel dat in die plek van die eikeboom het ʼn jong boom opgekom wat hulle na die hoofman se huis geneem het. Bonifacius het toe rondom die boom vir hulle van Jesus vertel.

Weereens is dit slegs stories met geen werklike betekenis nie. Die gebruik van ‘n kersboom het niks met die Christelike kersviering te doen nie. As jy dit wil gebruik, moet dit net duidelik wees dat dit niks met Christus te doen het nie.

*Kersviering:
Aanvanklik het Christene Kersfees baie sober en gesinsgerig gevier. Veral Oukersaand! Met die jare het mense net soos die heidense volke begin feesvier op daardie dag – sodat dit soms meer ontaard in ‘n wêreldse fees. In hierdie sin dink ek nie die vroeë kerk het ons ‘n guns gedoen deur Kersfees op dieselfde dag as heidenste feeste te vier nie. Ons mense word so ingetrek in die wêreldse vieringe dat dit moeilik is om ‘n onderskeid te tref.

Dit het selfs in die vroeër jare so vermeng geraak met die wêreldse vieringe en vreugde, dat die Sinode van Dordt in 1574, Kersfees verbied het en gesê het Christene moet slegs Sondae as Opstandingsfees vier en niks anders nie. Later het die kerk ʼn meer gemoedelike standpunt daaroor gehad omdat besef is dat mense ʼn behoefte het om Jesus se geboortedag te vier. Die sinode van Dordt het in 1617/18 besluit dat die Gereformeerde kerke voortaan  drie feeste (kerksiklusse)sou vier  nl. Paasfees, Pinksterfees en Kersfees. Later het Hemelvaart ook bygekom..

Om Kersfees te vier is elkeen se keuse. Persoonlik vier ek en my gesin dit wel. Ons doen dit deur  kerk toe te gaan omdat ons Christus se geboorte saam met ons medegelowiges wil vier! Dan sing ons kersliedere saam, om die Here te loof . Dit is ook ‘n tyd waar ons as familie bymekaar kom en (as ons dit die jaar kan bekostig), ‘n klein geskenkie vir mekaar gee om ons onderlinge liefde te illustreer.  Elke Christen kan sy kersvieringe volgens eie keuse  inrig, maar indien jy Kersfees wil vier moet Christus die middelpunt bly!

Mag dit vir jou ook baie seën inhou om hierdie dae ‘n ware Christusfees te vier!

Quintus