{ARGIEF}

Sondag 17 Julie 2011 ~ Vierde Sondag in Koninkrykstyd: Gen 28:10-19a

Ons fokusteks is ryk aan inhoud. Dit het vele kante wat relevant is vir die konteks waarin ons vandag in Suid-Afrika leef. Van hierdie talle perspektiewe is daar drie gedagtes wat ek hier wil deel. Indien een van hulle jou aanspreek, sal jy dit self verder moet gaan uitwerk.

1. Bedrog en Korrupsie
Oor ’n baie lang tydperk al hoor ons kort-kort berigte van bedrog en korrupsie wat op talle vlakke van ons samelewing plaasvind. Ek was verstom oor die aantal berigte wat ek op Die Burger se weblad gevind het op die soekwoord “korrupsie”. Dikwels lei hierdie beskuldigings  tot heftige debatte en beskuldigings oor en weer. Dink net aan die onverkwiklike debat die afgelope tyd rondom die Openbare Beskermer, advokaat Thuli Mandosela, en haar ondersoek na die aankoop van geboue deur die polisie en die rol van polisiekommissaris Bheki Cele daarin. Luister net na die koerantopskrifte in Die Burger van die afgelope twee weke:

Minister het amptenaar geboelie (2011-07-01);
Openbare Beskermer – “Lasterlike bewerings” (2011-07-06);
Bewerings van korrupsie is kwaadwillig, sê OB (2011-07-07);
Polisie ‘voer intimidasieveldtog teen openbare beskermer’ (2011-07-07);
Span Zuma wil net intimideer (2011-07-08);
Dit is alles leuens, sê Mthethwa (2011-07-08);
Madonsela wél deur polisie ondersoek, sê koerant (2011-07-08);
Cele en Mthethwa tjoepstil ná koerant ‘bewyse’ publiseer (2011-07-09).

Hoe voel jy as jy hierdie berigte lees en hoor van al die korrupsie in ons land? As jy na die reaksies op Die Burger se webblad op bogenoemde berigte kyk dan is daar baie mense wat sterk aanvallend en selfs met rassistiese ondertone reageer teenoor die beskuldigdes.

In hierdie selfde tyd het daar ook berigte in die pers verskyn oor moontlike ondersoeke na bewerings van ander korrupsie. Moontlike korrupsie wat veel nader aan ons eie vel is. Daar was die volgende opskrifte hieroor in die Burger:
Apartheid se ‘skemerjare’ ondersoek (2011-07-07);
Regering steun OB se ondersoek (2011-07-08);
Ondersoek lyk na ’n rookskerm (2011-07-10).

Soos verwag kon word, was die reaksie op hierdie berigte uit ons eie kringe heftige ontkenning. En dalk heel ten regte, want daar is op hierdie stadium geen bewyse vir hierdie wilde bewerings nie. Tog het al die berigte my laat wonder: Hoe behoort ons as Christene en as kerk op te tree wanneer sulke beskuldigings gemaak word, en ook teenoor hulle wat wel skuldig bevind word aan korrupsie? En is daar nie dalk tog in elkeen van ons ook iets van bedrog en korrupsie nie? Is ek nie maar ook ’n Jakob nie?

Kan God se verhaal met Jakob, die bedrieër, die vlugteling as gevolg van die korrupsie wat hy gepleeg het, en veral die gebeure hier by Bet-El, ons dalk hiermee help?

2. Verandering/Transformasie
Victor Yap begin sy preek oor ons fokusteks met die volgende fabel:
A Chinese fable tells of the owl’s flight to the east to escape its neighbors, who were increasingly tired and vocal of the bird’s incessant noise in the night. As it was packing, the owl met a pigeon, which asked: “Where are you going? Why are you in such a hurry?”

The owl answered tersely, “I’m moving to the east.” The pigeon asked again, “Why are you moving there?” The owl moaned, “Because people here all complained about my singing. They cannot stand my hooting. I am going to move east so that they will have no reason to complain anymore.”

The pigeon then frankly told the owl, “Moving to another place is a good idea only if you change your voice. If you don’t, the people in the east too will complain about your singing.”
(http://otpreaching.blogspot.com/2007/09/jacob-pt-3-better-late-than-never-gen.html)

In ’n bespreking van ons fokusteks beklemtoon prof. Julie Claassen op aangrypende wyse juis die transformerende invloed van God se werksaamheid op die plek van ontmoeting en die mens wat ontmoet word. “In this grace-filled encounter, we see how God can transform an ordinary stone and an ordinary place into something special; a place where God’s presence has made a home in the world. Similarly, this trickster who has deceived his father and brother, and who since birth has lived in strife with the people around him can be transformed by God into a richly blessed man who serves as a source of God’s blessing to others.”  (http://www.workingpreacher.org/preaching.aspx?lect_date=7/17/2011&tab=2).  Vergelyk ook haar aanhaling van die liriek van die lied “Yahweh” van U2 oor die vermoë van God om gewone dinge, plekke en mense te transformeer in iets spesiaals.

God se transformerende werk hier by Bet-El, en veral in Jakob se lewe, gekoppel aan God se beloftes vir Jakob is vir ons ’n wonderlike troos. Dit is egter ook ’n uitdaging aan ons: Wat is dit wat God vandag in ons wêreld, in die kerk en ons lewens wil transformeer? Waartoe wil God vir ons transformeer hier in Suid-Afrika, in ons elkeen se plaaslike konteks?

3. Grond en Grondhervorming
Die berig in Sondag se Rapport (10 Julie 2011) oor “Grond: Dís ANC se plan” en die hele debat oor grondhervorming in ons land het my laat wonder oor die betekenis en die implikasies van God se belofte aan Jakob van die grond wat God aan hom sal gee, vir ons en ons konteks. Hierdie belofte is ’n belofte wat God alreeds aan Abraham gegee het en daarna op talle punte in God se reis met Israel herhaal het. As landbouers was die permanente “besit” van grond natuurlik vir feitlik elke Israelitiese familie van lewensbelang. In Israel is daar dan ook wetlike tradisies ontwikkel om die grond in die besit van die huishouding te laat bly. Hierdie wetlike tradisies is ten diepste bepaal deur Israel se godsdienstige oortuigings. Trouens, die besit en hantering van grond is so sentraal in die hele Ou Testament dat daar selfs gepraat kan word van “Israel se teologie van die land.”  Omdat God die Eienaar was van die grond wat aan hulle gegee is, was hulle eintlik net die bewoners daarvan. Daarom moes hulle dit in ooreenstemming met God se wil bewerk en bestuur. As Israel ontrou was aan God kon God selfs die grond terugneem. As die eintlike Eienaar van die grond was God ook die Een wat die grond vrugbaar gemaak het en die oeste voorsien het. Israel het juis hierdie feit erken deur die eerstelinge van die oes aan God toe te wy.

Alhoewel grondbesit en grondhervorming ’n tameletjie in ons dag is, is dit dalk nodig dat predikers die uitdaging sal aanvaar om op ’n sensitiewe manier hierdie saak in die prediking aan te spreek.

Jan Grobbelaar

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in Argief