{ARGIEF}

‘n Paar mense het ‘n pragtige tuin met wonderlike geleenthede gekry om in te leef. Op ‘n dag het die slim slang allerlei skeptiese maar vroom vrae oor God gevra. Dit vind aanklank by die meer intuïtiewe aspek van menswees en kritiese ondersoek ontbreek.

Duidelik was die mens nie meer tevrede om afhanklik van God te wees nie. Die mens wil soos God leef.

Die verhaal wil enersyds die onbegryplikheid van menslike gedrag verduidelik: “Hoe kan mense na ‘n siniese slang luister en God se goedheid betwyfel ?”

Andersyds illustreer die verhaal dat niemand anders as die mens self verantwoordelik is vir wat gebeur nie. Ons maai wat ons saai. ‘n Slang mag twyfel in jou wek maar jy as mens kies self na wie jy luister en maak jou eie besluite.

Die gevolge om jouself soos God te wil gedra, verduidelik die wyse aan sy geloofsgenote, beskadig ons hele lewe. Die verhoudinge tussen God en mens, mens en natuur en selfs tussen man en vrou, kry seer. Jy kan nie spontaan en in harmonie voortlewe nie.

Oor en weer beskuldiginge vererger net alles. God se genade moet eerder raakgesien word.

Die dood van gebroke verhoudinge het nie die laaste sê nie. God klee ons met sy vergifnis dat ons nie hoef weg te kruip nie. God skep nuwe moontlikhede. Selfs ballinge kan kinders kry en sy skepping bewerk. Weg uit die tempel en tuin se sekuriteit – waarin slange mens kan mislei – help die verhale van wyses ons nou om met God die toekoms tegemoet te tree.

Uit die Woord: “Die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: ‘Waar is jy?’” – Genesis 3:9.

(Uit Woord Onderweg in Die Beeld)