{ARGIEF}

Soms as ek sukkel om te bid, wonder ek of daar dalk iemand anders is wat ook vandag vir my bid. Ons verseker so maklik vir ander dat ons vir mekaar bid. Dan wonder ek of almal wat so in die verbygaan vir my ‘n belofte om gebed gee, dit regtig doen. Het dit nie maar ʼn spreekwyse geword om mense te troos nie. Bid ons regtig vir mekaar?

Op ʼn gereelde basis kom die boodskap van Heb. 7-9 by my op. In die gedeelte word verduidelik oor Christus en die Levitiese priesterskap. Vs. 26 en 27 “ Vir ons was so hoëpriester nodig, een wat heilig is, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars, en verhoog bo die hemele, een wat nie, soos die hoëpriesters elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ʼn offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.

Die funksie van die hoëpriester is om vir die volk by God in te tree. In Heb. kom bevestig God dat Jesus my hoëpriester is wat reeds met sy offer aan die kruis vir my permanent ʼn pad oopgemaak het na God. Jesus is my Hoëpriester wat elke dag vir my intree by God. Dit beteken: Terwyl ek in my daaglikse lewe besig is met verskillende dinge, weet ek dat Jesus besig is om vir my te bid. As ek deur die donker nag slaap is Jesus besig om vir my in te tree by God. Die Seun van God tree voordurend vir elke gelowige in by God. Daar word dus op hierdie oomblik vir my gebid! Jesus is besig om vir my te bid en Hy hou nooit op nie. Die wete maak my gebedslewe nie net meer aktief nie , maar maak my nog meer bewus van God se teenwoordigheid in my lewe. Soos ek nou hier sit en skrywe kom ek agter dat die wete dat Jesus nou vir my bid – ʼn glimlag op my mondhoeke plaas.

Dankie Here dat ek in my oorvol lewe kan weet dat U vir my bid. Dat daar iemand is wat heeltyd vir my bid ! Here help my om ook met vasberadenheid gereeld vir almal rondom my te bid.