{ARGIEF}

leesroostermet die sleuteltekse van die Leesrooster as basis
Twaalfde week in Koninkrykstyd
7 Augustus
Jes.1:1,10-20
Nuttelose godsdiens?
Ysbreker
Kan jy dink aan een maal in jou lewe toe jy gedink het jy is met iets goed besig om na ʼn ruk uit te vind jy is besig om jou tyd te mors? Wanneer was dit?
 
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here. Loof en aanbid dan die lewende Here met oorgawe. Raak dan stil. Dink aan Sy liefde vir jou, Sy vergifnis elke keer. Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand lees Psalm 50:1-8,23 terwyl die res met hulle harte luister en saamstem.
 
Woord
Jes.1:1,10-20

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur. Luister met jou hart na wat die Here nou vir jou wil sê. Sien die woord(e) raak wat jou aanraak en herhaal dit in jou gedagtes en hart. Sien jouself in die gedeelte en praat saggies met jou Here daaroor.
  2. Waaroor is die Here so ernstig met sy volk? Hoe pas ons dit toe op ons godsdiens? (Verse 10-15) Hoe laat die woorde “selfs al bid julle hoe baie, Ek sal nie luister nie” jou voel?
  3. Wat wil die Here dan hê moet hulle doen? (Verse 16-17)
  4. En na alles sluit die Here sy boodskap aan sy volk af met vers 18. Wat beteken die woorde vir jou?
  5. Raak nou weer stil en lees die gedeelte deur. Sien hoe jy verander om te word soos wol, sneeu. Hoe anders lyk jou lewe nadat jy deur hierdie woorde aangeraak is?

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien en dra mekaar dan aan die Here op.
 
Uitsending
Hoe kan ons in hierdie week met die Here saamwerk terwyl Hy besig is om alles wit soos wol, sneeu te maak?
 
Dertiende week in Koninkrykstyd
14 Augustus
Jes.5:1-7
Die teleurstellende wingerd
Ysbreker
Watter ding waaraan jy so hard gewerk het in jou lewe het uiteindelik vir jou meer hartseer en teleurstelling gebring as die moeite wat jy daar in gesit het?
 
Lof en aanbidding
Raak rustig by die Here. Loof en dank Hom dan met julle liedere. Dink aan die Here se verhouding met jou. Sien hoe Hy Homself die afgelope week aan jou kom gee het. Praat met Hom oor hierdie verhouding. Iemand lees Ps.80:8-20 voor en die res bid dit in hulle harte. Elkeen herhaal drie maal fluisterend die woorde: “Hou u hand oor ons”.
 
Woord
Jes.5:1-7

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur en soek die woord(e) wat vir jou uitstaan in die teks. Lees dit weer en weer en beleef die verandering wat dit in jou hart bring. Praat met die Here daaroor.
  2. Wat lees ons oor die moeite wat die Here gedoen het met Sy wingerd? (Verse 1,2) Watter tipe oes dink julle kon Hy dus verwag?
  3. En hoe lyk die oes toe? (Vers 2, 7)
  4. Wat beplan die Here met die oes? (Verse 3-6)
  5. Iemand lees nou Joh.15:5-9 twee maal en dink dan weer oor die manier waarop die Here se wingerd so kan wees dat Hy “Hom daarin verlustig”.
  6. Raak dan weer stil en lees die gedeelte deur. Herkou die woorde wat vir jou uitgestaan het sodat dit deel word van jou lewe.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan hierdie groep ons Gemeente help om weer die vrug te dra wat pas by die wingerd van die Here?
 
Veertiende week in Koninkrykstyd
21 Augustus
Jeremia 1:4-10
Here, hier is ek
Ysbreker
Wat is die beste verskoning wat jy al ooit gehoor of gebruik het?
 
Lof en Aanbidding
Loof en aanbid die Here spontaan met liedere en gedeeltes uit die Woord en gebede. Raak dan stil en dink in jou stilte aan die Here. Eers Wie Hy is en dan wat Hy doen in jou lewe. Dink na oor kere die afgelope week toe Hy jou aangeraak het, dalk jou mond, toe jy moes sê wat Hy wou sê. Of moes stilbly toe Hy wou hê jy moenie jouself verdedig nie. Dalk het Hy jou hande, voete, ore aangeraak om Hom teenwoordig te maak. Iemand lees Psalm 71:1-8 en die ander maak die woorde hulle gebed. Fluister die woorde: “U is my hulp van my geboorte af” driemaal.
 
Woord
Jer.1:4-10

  1. Lees die gedeelte weer in jou stilte. Hoor die Here se stem wat met jou praat. Dink aan Hom wat jou roep en jou verskonings. Beleef hoe Hy jou aanraak. Stil. Rus. Praat dan met Hom in jou hart oor wat jy gehoor en beleef het.
  2. Waar begin Jeremia se roeping? Wat sê dit vir jou? (Verse 4-5)
  3. Jeremia gebruik twee verskonings sommer so in een asem (vers 6). Noem hulle en dink sommer aan nog verskonings as jy Jeremia moes wees.
  4. As die Here vir Jeremia roep, wil HY die werk deur Jeremia doen. Wat is Sy antwoord op ons verskonings? (Verse 7-8)
  5. Die Here praat nie net nie, Hy doen ook (verse 9-10). Glo jy dat Hy jou ook so toerus as Hy jou roep?
  6. Raak nou eers stil. Lees weer die gedeelte saggies deur dat dit jou hart aanraak. Beleef die verandering in jou. Deel dit in stilte met die Here.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Bid nou vir mekaar se roeping en mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Na watter een persoon op die groep se gebedslys gaan julle die komende week uitreik en die Here vertrou met die woorde?
 
Vyftiende week in Koninkrykstyd
28 Augustus
Luk.14:1, 7-14
Geen diskriminasie
Ysbreker
Waar gaan sit jy gewoonlik in die kerkgebou met ‘n erediens en waarom? OF vir die kinders: Op watter plek in die klas sit jy die graagste en waarom?
 
Lof en Aanbidding
Gee nou genoeg tyd om die Here in julle midde te loof en te aanbid met liedere en gebede. Kom tot rus by die Here. Dink aan die manier waarop Hy jou elke keer ontvang in Sy teenwoordigheid. Rus nou terwyl jy die voorreg het om in sy teenwoordigheid te wees. Geniet net die stilte, die rus, die Here. Iemand kan dan afsluit met Psalm 112 terwyl die ander biddend luister. Herhaal die woorde: “Ek is gerus, ek vertrou op die Here” driemaal in jou hart.
 
Woord
Luk.14:1,7-14

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte biddend. Beleef die toneel en hoor hoe Jesus die foute ook in jou eie lewe regstel. Praat met Hom daaroor.
  2. Wat is die owerste van die Fariseërs se motivering om Jesus uit te nooi vir ete? Het jy al ooit gevoel mense nooi jou na hulle toe met bybedoelings? (Vers 1)
  3. Hierdie ete is vir Jesus ʼn wonderlike geleentheid om ʼn baie belangrike punt by die gaste tuis te bring. As julle Jesus se “boodskap” in een sin kan opsom, wat sal dit wees? (Verse 7-11)
  4. Hoe soek ons vir onsself eer en op watter maniere verneder ons onsself?
  5. Wat dink julle van Jesus se idee dat jy nie mense moet nooi wat weer op hulle beurt aan jou ʼn guns terug kan bewys nie, maar juis hulle moet nooi wat dit nie kan doen nie? (Verse 12-14)
  6. Raak nou weer stil en lees weer die woorde van hierdie gedeelte. Sien hoe die Here jou saggies begelei om die regte “skuiwe” in jou lewe te maak sodat jy al meer soos Hy lyk en klink.

 
Bedien mekaar
Draai nou weer 3-3 na mekaar toe. Kom ons bely vanaand voor mekaar ons soeke na “om raakgesien te wil wees” en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Daar is iemand in jou omgewing na wie niemand nog uitgereik het nie. Miskien was hy tot nou toe vir die groep net te arm, net te blind, net te kreupel of lam. Wie is dit? Watter feestelike verskil gaan die groep hierdie week in sy/haar lewe maak?
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, NG Gemeente Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net