{ARGIEF}


Liewe vriende,
Dit is tans ‘n brose tyd vir die Brugbediening in ons land en veral vir NIMSA. Ons het pas begin en daar is nog soveel dinge wat uitgeklaar en deurdink moet  word. Maar, soos Errol tereg sê, Rome is nie in een dag gebou nie. Ons sal geduld met mekaar moet hê en ‘n deursettingsvermoё moet openbaar. Die baba is gebore en ons sal die baba, NIMSA, moet vertroetel en versorg. Dit gaan nog veel toewyding, geloof en wilskrag vra om ‘n breёr aanvaarding en waardering vir hierdie belangrike oorbruggings-bediening in ons geliefde land te kan bereik. Baie bouwerk en groei is op sinodale en gemeentelike vlak, asook in die harte en denke van ons kerkleiers nodig. Nie net vir die aanvaarding van die interimbediening nie maar ook vir die “transitional specialists” om waarde te begin toevoeg tov die geestelike welsyn van ons gemeentes.
Heelwat van ons energie en ontwikkelingoogmerke sal gerig moet wees op die vasstelling van akademiese standaarde en die meetinstrumente om die kwaliteit van opleiding en sinvolle akkreditasie te bepaal. Om as “brugpredikant” bestempel te word, moet as ‘n gesogte en betekenisvolle dienswerk gesien word. Met die oog hierop het NIMSA se beheerraad tentatiewe gesprekke tussen die Pretoria en Stellenbosch aangeroer om mekaar hieroor beter te vind. Wie en wat ‘n brugpredikant is, is dus tans as’t ware in die weegskaal. Ons vertrou dat die betrokke komitee van NIMSA oor akkreditasie groter duidelikheid sal kan bereik.

  • Ons tesourier, Dolf de Beer, was onlangs met vakansie in Nieu-Seeland, waar hulle aan die ander punt van die aarde saam met hulle kinders kwaliteit tyd kon hê. Welkom terug!
  • Ons voorsitter, Errol, moet eersdaags sy evaluering by die Interim Ministry deurloop. Die eerste internet-gesprek kon nie deurgaan nie omdat een eksaminator in die VSA nie opgespoor kon word nie.  Sterkte aan jou, Errol! – ons hou duim vas. Geluk ook aan Errol met sy aanstelling as “canon” in die ACSA. Wat beteken dit?
  • Howard het sy boek oor die eenwording (“merging”) van gemeentes  vir publikasie ingehandig – maar die titel bly nog geheim!
  • Bossie Muller en Bruce Theron is besig om die Kaap al meer rooi te verf  ter wille van die brugbediening. Die Kaap het onlangs twee opleidings-geleenthede aangebied!

Onlangs was Errol en Howard in Pretoria om die eerste groep van Engelssprekende predikante te help oplei om “interim ministers specialists” te word.  Hierdie oulike groep van meesal Anglikane en sommige uit die swart gemeenskap,  het albei kontakweke reeds voltooi. Ons hoop dat daar uit die verskillende denominasies en areas van ons land geskikte predikante geїdentifiseer en gestuur kan word om die opleiding as brugpredikante te kom deurloop. Ons maak op julle samewerking staat om predikante te motiveer en te werf.
Die Kaap en Pretoria het reeds met hulle opleidingsessies vanjaar begin. Die Afrikaanse opleiding in Pretoria se tweede week lê nog voor op 17-21 Augustus 2009. Dit is in orde indien mense in Pretoria eers met die tweede week se opleiding wil begin. Daar word dan wel sekere leeswerk vooraf vereis. Kursusgangers kan ook in die toekoms die Engelstalige opleiding as alternatief volg  (en andersom) aangesien ongeveer dieselfde kurrikulum in Pretoria met die opleiding in Engels en Afrikaans gevolg word. So kan die mees gepaste tye vir opleiding gekies word. Verder het die Kaap begin om die aanbieding ook by ander sentra aan te bied. Dit is ook moontlik wat Pretoria betref om hieroor te onderhandel. Al hierdie aanpassings word gedoen ten einde die opleiding van brugpredikante makliker haalbaar te maak.
Twee belangike gebeurtenisse is op die tafel vir die res van die jaar, nl die Jaarvergadering en Konferensie van NIMSA op 1 en 2 September 2009 in Kemptonpark, Kempton-Kruingemeente  NGK (sien bylaag vir meer besonderhede), asook die Lentekonferensie in Pretoria op 6-8 Oktober 2009 waar die Brugbediening een van die konferensietemas is.  Graag sou ons huisvesting wou aanbied vir mense wat van ver kom om die verrigtinge op 1 en 2 September by te woon ten einde dit goedkoper te maak. Is daar mense in die omgewing van Kemptonpark wat mense kan huisves? Dit sou goed wees indien ons mekaar sodoende ‘n ietwat beter kan leer ken. Ek, Howard, sal graag een persoon by ons in die woonstel in Johannesburg vir 1-2 September wil huisves.
‘n Belangrike aspek in die bevordering van NIMSA en die Brugbediening is om God toe te laat om deur sy Gees ‘n passie in ons lewens te ontwikkel om te help ten einde die oorgangsituasies vir gemeentes sinvol en verrykend te laat verloop. As ons kan bydra om die vrees en bekommernis van gemeentes wat veranderings beleef te relativeer en  met hoop en geloof te vervang, dan sal Jesus Christus as die Hoof van die sy Kerk erken kan word. Mag die Here Jesus Christus ons voortdurend lei en bemagtig tot sy eer en verheerliking.
Julle vriende in christus,
Errol Dengler (voorsitter)
Howard du Toit (sekretaris)
Naskrif :
Onthou asb die ledegeld van R150-00 vir individue en R500-00 per jaar vir organisasies en gemeentes. Die nuwe baba moet die nodige versorging ontvang!   Dit kan oorbetaal word aan ABSA-spaarrekening onder die naam Nimsa-brugbediening, met as rekeningnommer 9216 421 615. Faks die inbetalingsbewys asb aan Howard na 086 567 2384 of e-pos na howard@nimsa.co.za

Bylaag : Voorlopige Program van die Jaarvergadering en Konferensie van NIMSA, op 1 en 2 September 2009, te Kemptonpark.

  • Jaarvergadering : Dinsdag, 1 September 2009

9:30      Registrasie en Koffie/tee
10:00    Opening en verwelkoming
10:30    Allerlei Verslae
13:00    Ligte ete

  • Konferensie : Dinsdag vanaf 14:00

14 :00 – Opening
14:30  – Prof Malan Nel oor “Foundational Aspects of IM”.
15:00 –  Canon Errol B Dengler : “Cultural Aspects and Interim Ministry”.
15:30  – Verversings
16-00  – Bespreking
18:00  – Dinee
19:00 – Komitee’s vergader na aandete  in plaaslike lokale
Woensdag, 2 September 2009

9:00    Opening
9:15    Interimbediening in die Praktyk :spreker uit die Kaap
10:00  Verslae van komitee’s, ens.
11:00  Tee/koffie
11:15  Paneelbespreking
12:00  Afsluiting