{ARGIEF}

`n Vriend sê my dat die regter in die Oscar Pistorius-saak klaar sy finale uitspraak voorberei het: “Skuldig! Die hele samelewing is skuldig! Veral die kerke, die regering, die media, ons opvoedkundige instellings en sommer elkeen wat help vorm het aan ’n samelewing waarin sulke hartseer dramas hoegenaamd moontlik is”. “Skuldig”, lees die uitspraak verder, “nie deur wat gedoen is nie, maar veral deur wat nagelaat is om te doen.” “En”, voeg die regter by, “dit geld sommer ook vir die Griekwastad-moorde, die Sondagverkragter, die Modimole-monster, Anene Booysen en al die ander…”
Ek het min twyfel oor die feit dat Suid-Afrika tans in ’n morele krisis verkeer. Die nuusberigte waarvan ons daagliks kennis neem is die empiriese bewys daarvan. Laat ek dit egter eers baie duidelik stel: met hierdie skrywe maak ek geen uitspraak oor Oscar Pistorius nie. Tog wil ek dit waag om te sê dat al die gebeure om ons, wel simptome is en die kulminasie is van breuklyne wat baie diep lê en oor ’n lang tyd aankom. Ja, selfs al word Oscar onskuldig bevind, kom die vraag by `n mens op: in watter tipe samelewing gebeur so iets?
Laat ek nog `n voorbeeld gee en daar is baie meer. Ons almal is dit eens dat die huidige vlakke van geweld teen vroue en kinders onaanvaarbaar is. Tog is kundiges dit eens dat ’n reuse persentasie van hierdie gevalle vermy kon gewees het as ons drankmisbruik en dwelms in ons samelewing uitskakel. So nou is die vraag: waarteen gaan ons opstaan? Natuurlik is geweld teen vroue en kinders ’n simptoom van veel meer as drank en dwelms, maar wat gaan ons doen om regtig die probleem aan te spreek? En wie is die skuldiges as ons dit nie doen nie? Dit klink my of versuim en/of nalatigheid ewe strafbaar is voor die reg.
Ja, die breuklyne lê diep. Weet ons wat tans by die platinummyne van Rustenburg aangaan? Gooi duisende enkellopende mans, vroue sonder inkomste en heenkome en hemelhoë vigsstatistiek in die gebied, in een pot en jou verbeelding neem vrye teuels.
Of kom ons praat oor wat die Bybel “die wortel van alle kwaad noem”. Jare gelde het Julius Nyerere die volgende gesê: “Mense word inhalig en hou vas aan geld as hulle begin twyfel of die samelewing nog `n gelukkige toekoms vir al sy inwoners bied” (vry vertaal). Dalk is dit waar van wit en swart Suid-Afrika vandag. Mense word inhalig as die gemeenskap bankrot is.
Geen enkele instansie kan die morele krisis alleen oplos nie. Dit sal by my en jou moet begin. Dit sal in ons ouerhuise moet begin. In kerklike taal: ons het herlewing nodig. Gaan luister `n slag weer na John Lennon se “Mother” soos gesing deur Barbara Streisand. Jy sal dit op YouTube kry. Luister fyn en jy sal die rou emosies van baie kinders hoor. Ja, die breuklyne lê diep.