{ARGIEF}

Gisteraand verwonder ek my weer op `n andersoortige wyse oor die wonder van die kerk. Ons gemeente hou kerkbasaar en `n menigte mense lag en kuier saam. Maar daar is iets anders wat my opval en bybly. Ek sien ook individuele mense raak. `n Man wat sy vrou onlangs aan kanker verloor het. Hy stap `n bietjie krommer (verbeel ek my?) maar geniet sy kleinkinders in dié veilige ruimte. Ek sien `n pa met sy klein dogtertjies. Ek hoor hoe hy sê: Kom kinders dit was lekker maar ons moet huistoe. Soos `n moederhen vat hy hulle om hul skouertjies en stap glimlaggend weg. Ook hulle ma is onlangs aan kanker dood… en my hart wil breek. `n Vrou kom vertel my met dankbaarheid `n storie oor haar man wat in `n gu-ongeluk was, wie se lewe permanent verander het, maar kom sê net dankie wat die kerk vir haar beteken. Klein kindertjies baljaar in hul honderde by die speletjies-ruimtes. Ek sien `n egpaar wat uit die buiteland teruggekom het. Die rede? Hulle het die basaar gemis en wou hulle kinders kaalvoet kom grootmaak. Ooms braai, mammas staan agter die tafels, opvallend baie nuwe jongmense kuier saam en drink `n glasie wyn…. En ek is dankbaar oor die ou wat die musiek uitgesoek het van Gerry Rafferty tot Bonny Tyler. En ek dink by myself. Dis kerk. Ek dink Christus glimlag stil-tevrede.