{ARGIEF}

Iemand sê my onlangs dat hy die gevoel het dat daar veral vier dinge is waaroor ons mense baie emosioneel kan raak. Dit is die kerk, hul taal, politiek en rugbyskeidsregters. As ek sien hoe dikwels die kerk die nuus en die briewekolomme die afgelope tyd gehaal het, dink ek hy het dalk `n punt beet.
Die vraag is egter wie die “kerk” is waaroor almal so praat? Laat ek myself eers in die rede val. Daar is mense wat sê dat die kerk besig is om te sterf. Ek het `n ander perspektief. My oupa sou gesê het: “Nou waarom sal jy soveel koeëls op `n sterwende of dooie donkie mors? Jy skiet net soveel skote as jy self die ding wil dood hê, maar bang is dat dit dalk nog lewe!”
Maar terug by die vraag oor wie die kerk is. Vir sommige is dit die leiers van die kerk. Jy sal soms hoor dat mense sê dat die “kerk” dit of dat gesê het as iemand in die leierskap iets gesê het. Ander sal hierteen protesteer en sê dat die “kerk” nie die leiers is nie, maar die “sinode”. Ook hierteen sal mense reageer en sê dat die kerk eintlik die gemeentes is. Nog ander sal sê dat die kerk eintlik die lidmate is. Diegene wat kla, kla dus eintlik oor hulself. Al hierdie uitsprake is natuurlik op `n manier reg en verteenwoordig breedweg twee menings. Aan die een kant is daar diegene wat sê die kerk is `n organisasie of `n instituut en aan die ander kant is daar weer die wat sê dat die kerk `n lewende organisme is, wat sy eie pad loop onder leiding van die Heilige Gees.
Daar is egter nog `n perspektief. Die kerk bestaan uit feilbare mense wat kan foute maak. Kerkmense is nie noodwendig beter as nie-kerkmense nie, maar ten diepste mense wat verstaan dat hulle foute op `n spesiale manier voor God hanteer word. Dit is juis hierdie feilbare mense wat saam die Liggaam van Christus vorm. Hieroor is die Bybel glashelder. Dit is as kerk dus dikwels `n gebroke liggaam, maar wat leef met die belofte dat hierdie Liggaam telkens gereinig en vernuwe kan word.
Die kerk leef ook met die belofte dat dit nie vernietig sal word nie (Matt 16:18). Gemeentes mag sterf en denominasies mag kwyn. Van die vroeë Christelike gemeentes bestaan nie een meer nie, maar die kerk as lewende organisme en Liggaam van Christus staan elke keer weer op, soos wat tans veral in Suid-Amerika, Afrika en Asië gebeur. Die verkiesing van die eerste Suid-Amerikaanse Pous is op `n vreemde manier deel van hierdie beweging.
En hierdie naweek vier die kerk Paasfees! Vir miljoene Christene is dit hul heel belangrikste fees, ja, selfs belangriker as Kersfees. Daar sal waarskynlik by Moria, noord van Polokwane, meer as `n miljoen kerkgangers byeen kom. In verwondering oor Christus se kruisiging en opstanding, kry die kerk, vir Christene net soveel meer betekenis.