{ARGIEF}

Verkiesingstyd is ‘n tyd waar selfs gelowiges diepgaande met mekaar verskil. Dan word mens bewus van ons verskeidenheid. Ook as jy luister hoe mense op kerklike en sinodale gebied soms van mekaar verskil, moet ‘n mens waardering kry vir die geweldige verskeidenheid wat daar tussen ons is ! As ek myself  soms teen die muur vasdruk en luister hoe mense verskillend dink oor gebed en selfs  sukkel om die verskille te verdra, dan weet ek dat ons wonderlike  God  veeldimensioneeld is. Petrus het die volgende hieroor te sê gehad in

1 Pet 4:10

”  Namate elkeen ‘n genadegawe van God ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelkleurige genade van God”

Ons verskeidenheid moet ons dus nie uitmekaar dryf nie, maar eerder diensbaar aan mekaar maak sodat God se koninkryk kan kom! Die verskillende invalshoeke, oor hoe mense oor gebed en God dink moet ons eerder  verryk as uitmekaar jaag! Ek dink aan iets wat  Ferdinand Deist destyds in sy boekie “Tussen Angs en sekerheid” hieroor skryf :

God het ‘n ruim hart. Want God is liefde. Daar is plek vir die impulsiewe Petrus, die berekende Paulus, die gevoelvolle Johannes, die gebore twyfelaar Thomas…en vir jou en my. Daarom het egte godsdiens-en daarmee egte gebed– nie ‘n sisteem en vaste patroon nie. Ons is nie almal eenders nie en ons ervaar die lewe nie almal eenders nie. Tog kan ons almal-elkeen  op sy eie manier- tot God nader. Want Hy het ‘n reenboog van genade. As ons mekaar volgens vaste sisteme en patrone beoordeel en meet, as ons mekaar verketter omdat jy nie soos ek is nie en ek nie soos jy nie, God is anders. Sy genade het baie kleure: een vir my en een vir jou en een vir die ander.

Ek dink ons moet ingestel wees om met ‘n gesindheid van God se veelkleurige genade in ons harte te leef!

Quintus