Om te glo

Written by Mariette Steyn on . Posted in Argief Vrouelidmate

Annalise Wiid is van woorde en wysies aanmekaargeweef. Sy skryf – stories, liedjies, rubrieke, wat vertel van God en van die lewe. En sy reis – sing-sing, die land deur – om dit met gehore te deel.

Gaan kuier gerus by www.annalisewiid.co.za

 

Om te glo …

Jesus se laaste Sabbat, ses dae voor die Paasfees, was ‘n stil dag. Aan Sy optrede sou jy nooit kon dink Hy het geweet hy het nou minder as ‘n week oor om te lewe nie. Hy’t nie geskarrel om nog ‘n honderd en een goed af te handel nie. Hy’t nie gesê die tyd is min, kom ons ignoreer liewer die rus van die Sabbat nie. Hy was oënskynlik kalm, en ongejaag. Onversteurd eintlik. Hy het net op sy stil, vasbeslote manier aanhou leef deur nog ‘n dag…

 Hy het in Betanië gaan eet. By die huis van Simon, die melaatse. Dit is wat die man vroeër was: Simon, die melaatse. Nou was hy Simon, die gloeiende. ‘n Heel man. Met ‘n nuwe, gladde vel wat gloei van gesondheid en ‘n gesig wat straal van dankbaarheid. Hy, wat vir soveel jare op die buiterand van die samelewing moes leef; wat in die uiterste eensaamheid nooit meer aan sy vrou of kinders kon raak nie, nie meer met mense mag gepraat het nie, behalwe om vir hulle te skree: “Ek is melaats, bly weg!” – dié uitgeweke Simon, het op die laaste Sabbat die voorreg gehad om as Simon, die gasheer, Jesus en sy vriende in sy huis te ontvang!

 Dit was ‘n wonderlike ete. Lasarus en sy twee susters was ook daar. Lasarus, die dooie, wat weer Lasarus, die lewende geword het. Seker met ‘n onophoudelike verwondering in sy oë en ‘n onafveebare glimlag om sy mond. Ek stel my dit voor: Jesus wat tussen die twee van hulle aan tafel sit; Jesus, die bron van albei se tweede kans…  En hulle saamwees, hulle saameet vier die wonder van lewe en genade! 

“Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.”   Johannes 12: 3

 

 

 Judas, en klaarblyklik van die ander dissipels ook, was verontwaardig oor die verkwisting en hulle het teen haar uitgevaar. (Jy kan daarvan lees in Matteus 26 en Markus 14). Maar Jesus verdedig haar teen hulle. Hy noem haar optrede ‘n “weldaad” aan Hom en Hy sê: 

“Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis.”

“Let her alone. She’s anticipating and honouring the day of my burial.”   (The Message)   Johannes 12: 7

 

Hierdie weldaad van Maria was nie ‘n impulsdaad nie – sy moes dit vooraf fyn bedink en beplan het. Sy het daai fles reukgoed met voorbedagte rade spesiaal van Lasarus se huis af, waar sy gewoon het, na Simon s’n toe, waar Jesus kom eet het, aangedra. Sy’t duidelik vooruit geweet wat sy wil doen…  iets so geweldig betekenisvol! Dalk was Maria die enigste een van die klomp aan tafel wat daardie dag al regtig geglo het dat Jesus, soos Hy oor en oor vir hulle gesê het, gaan doodgemaak word. Haar toewyding en troos moes Hom ontsettend diep geraak het! Toe die soldate ‘n paar dae later onder die kruis sit en lootjies trek om te sien wie van hulle Sy kleed sal kry, het die reuk van haar liefde en geloof nog aan die materiaal gekleef…

 Vroue wat glo doen dinge anders, met ‘n liefde vir Jesus wat alles deurdring

Dis hierdie soort vrou wat haar kosbaarste olie dankbaar en graag vir haar Koning sal bring

                ‘n Vrou wat glo salf Jesus se voete met trane en met ‘n hart wat sing

                ‘n Vrou wat glo doen dinge net anders oor liefde vir Jesus haar hart daartoe dring

                                                                                                                               –  Annalise Wiid,  Blou Kitaar  –

 

Trackback from your site.

Leave a comment