{ARGIEF}

André, dankie vir jou besondere aanslag in die luister na die teks vir hierdie week. Die nagmaal-misterie het jou verseker aangegryp en jou bydrae help baie.
* Daar is egter ook ‘n ander misterie in die verhaal — God se uitverkiesing. Ongelukkig het die Revised Common Lectionary dit vir ‘n groot deel in ons luister na die verhaal uitgehaal — verse 35-40. Lina Hoffmann het dit ook nie aangeraak nie. Is dit dalk omdat dit te lastig vir moderne mense is? Onthou God se uitverkiesing maak mense magteloos gering! En moderne mense haat hierdie tipe ervarings!
*Nie minder as drie keer [dalk nie so vreemd vir Joodse luisteraars nie] word die misterie van die uitverkiesing in die verhaal herhaal. Dit is net diegene wat die Vader vir Jesus “gegee het” wat Hom “sien” en Hom “glo”. En dit is net die verkorenes wat die Lewensbrood eet en lewe!
* Ek reken hierdie verkiesende deel van die verhaal is juis die enigste bron van ware lewenskrag in die week se verhaal. Hierdie daad van God om sy mense na Hom te trek, is ons enigste ‘energie’ om Jesus te sien en Hom te glo en waarlik te lewe.
* En hierdie daad van God is die misterie van sy uitverkiesende liefde. Liefde wat nie spesifiek vir iemand kies nie bly vaag; is nie regtig vaste, betroubare liefde nie! Só, dat Hy op mense; sy mense “verlief” raak, en dan spesifiek kies, is die wonder van wonders. Verlief raak op gebroke sondaars! Die onmeetbaar grote God, ‘mal’ raak oor stippel-klein ‘stoffies’! Dit is Jesus van Nasaret in sigself! Wow!!
* Maar dis ‘n dubbele misterie. Dié op wie Hy “verlief raak” “sien” Hom en die vonk van wederliefde spring en hulle “glo” Hom.
* Om verlief te raak; om in liefde te “val” sal nooit verklaar kan word nie. Dis ‘n misterie. Niks kan dit ooit fabriseer nie. Dieselfde soort misterie dat ek en my vrou 47 jaar gelede op mekaar verlief geraak het en nog steeds in die liefde ‘gevalle’ is. Maar wat ‘n vreugde en energie om in die misterie te leef. Dit elke dag te eet en te drink …
Dis ‘n floue afskynseltjie van die misterie van God se liefde vir ons en ons wat Hom sowaar oor lief gekry het en Hom “eet en drink”.