Author Archive

Kerkjaar simbole

Written by Mariette Steyn on . Posted in Kerkjaar

Op hierdie wyse is Advent ‘n tyd vir terugkyk na Israel se verwagting van die Messias, én ook ‘n vooruit kyk na die wederkoms as finale gestalte van Christus se triomf oor die magte van sonde en dood wat met die gebeure van Paassondag ‘n werklikheid geword het. Advent dra dus die betekenis van swangerskap en afwagting. Ons verlang na die geboorte (lees ook: wederkoms) van die Seun. Ons hele lewe word op die een of ander manier spandeer in afwagting – gebeure van hoop, verwagting en onvoltooide verlossing. Waar ‘om te wag’ in ons gejaagde, moderne samelewing geassosieer word met ‘n vermorsing, wil Advent ons leer om geduldig te wag op die Here. Om te wag word ‘n kuns waarin geleer word dat (soos in die geval van swangerskap) niks van waarde tereg kan kom sonder ‘n tyd van stille ontwikkeling nie. Daarom dat simbole soos om te bak, fermentering, rypwording alles dui op ‘n proses van wat besig is om te word. So berei ons onsself voor vir die viering van Kersfees én Christus se wederkoms.

Wat vier ons in Advent?

Advent is nie net ‘n voorbereidingstyd op Christus se eerste koms nie, maar ook op die tweede. In die Adventstyd leef daar iets van die spanning dat Christus reeds gekom het, maar ook dat Hy weer sal kom. Advent is die tyd waartydens ons onsself opnuut inleef in die wonder van die menswording van Christus. Ons berei ons opnuut voor om die Verlosser in ons lewens te verwelkom. Ons leef ook in die verwagting dat die Verlosser weer gaan kom en daarom is ons gebed: maranata (kom tog gou, Here!). Ons viering hiervan staan dus nie in die teken van boetedoening nie, maar van vreugde en afwagting. Ons vier fees in ‘n gees van voorbereiding en geduld. Dit maak van Kersfees self ‘n ryker ervaring. Advent is dus ‘n tyd van herinnering en verwagting. Die eerste week weke tema is verwagting. Die tweede week se tema is verkondiging. Die derde week se tema is vreugde. Die vierde week se tema is reinheid.

Wanneer vier ons Advent?

Die kerklike jaar begin met die eerste Sondag van Advent.

In Suid-Afrika gaan die betekenis van Advent maklik verlore tussen al die afsluitingsfunksies, gejaag van die vakansie en voorbereidings vir die feestyd. Tog bied die Adventstyd ons die geleentheid om van die haastige kommersialisme voor Kersfees te ontsnap en ons voor te berei op die wonder en misterie van Christus se menswording. Daar is vier Adventsondae voor Kersfees, waartydens ons vanuit verskillende perspektiewe met verwagting op die koms van Christus voorberei. Advent strek dus gewoonlik oor so bietjie meer as vier weke.

Die tweeledige fokus van Advent word ook gereflekteer in die vier Adventsondae. Waar die Adventstyd begin met ‘n fokus op Christus se tweede koms, verskuif dit stelselmatig na Sy geboorte (wat dan uitloop op Kersdagvieringe). In werklikheid word ons reeds tydens die laaste drie Sondae van die vorige Koninkrykstyd (wat oorgaan in Adventstyd) reeds voorberei vir ‘n fokus op Christus se wederkoms met temas wat reeds dan al daarop konsentreer.

Die eerste Sondag van Advent is dan baie spesifiek tematies gekoppel aan die wederkoms. Tydens die tweede en derde Sondae in Advent kom daar reeds ‘n verskuiwing, met konsentrasie op die Messiaanse boodskap van Johannes die Doper. Die vierde Sondag antisipeer dan baie spesifiek die geboorte van Christus.

Waar kom die tradisie van Advent vandaan?

Die voorbereiding vir Kersfees het ‘n lang tradisie. Reeds so vroeg as in die vierde eeu nC is daar in Spanje en Frankryk begin met liturgieë wat dui op die kerklike voorbereiding vir Kersfees. In die sesde eeu is soortgelyke liturgieë ook in Rome in gebruik geneem. In Rome was dit aanvanklik egter net bekend as ‘n enkele dag se vas ter voorbereiding van Kersfees. Gregorius die Grote was die eerste persoon wat die lengte van Advent vasgestel het op vier weke. Die tema van die Tweede Koms van Christus was altyd dominant in hierdie kerklike seisoen. Tot so laat as die twaalfde eeu was dit beskou as ‘n tyd waarin wit klere gedra is en die Gloria in Excelsis gesing is.

Simbole en rituele in Advent

In Adventstyd word die hoop op Christus gevier in die eredienste, maar ook in jou persoonlike lewe. Dit is ‘n besondere simboolryke tyd en bied die geleentheid om deur allerlei simbole en rituele ons geloof te vier.

  • Sedert die 16de eeu is purper die gebruiklike kleur vir Advent in die Westerse kerk. Soms is blou ook gebruik. In die antieke wêreld was purper die koninklike kleur omdat net die koninklikes die kleurstof kon bekostig.
  • Een van die sterk visuele hulpmiddels in dié tyd is die sogenaamde Adventskrans. Dit bestaan meesal uit vier kerse en ‘n groter wit Christus-kers in die middel.

Drie van die kerse is purper of donkerblou en ‘n vierde rooskleurig. Dit kan bydra tot die gevoel van verwagting deur op elke Adventsondag ‘n kers aan te steek. Die gebruik om gewoonlik elke Sondag ‘n kers aan te steek, terwyl die vorige kerse wat aangesteek is bly brand met die aansteek van ‘n volgende kers. So brand al vier kerse tydens die vierde Sondag, terwyl die groot wit Christus-kers in die middel op Kersdag aangesteek word. Die rooskleurige kers, wat juis ‘n uitsondering van die ander kerse is, word gewoonlik op die derde Sondag aangesteek deurdat hierdie Sondag se kers geassosieer word met die vreugde wat tiperend is van ons Adventvieringe. Die Adventskrans self leen dit uitstekend tot veral skool- en gesinsaktiwiteite rondom die betekenis van Adventstyd. Vir kinders is dit ‘n uitstekende manier om die betekenis van ‘om te wag’ oor die vier weke tot en met Kersdag tuis te bring.

  • In baie tradisies is dit ook ‘n bekende gebruik om kinders in Adventstyd te betrek by die maak van ‘n Adventskalender. ‘n Adventskalender help ons om die dae af te tel na Kersfees toe, en bring dus ook iets tuis van afwagting en ‘n geduldige wag waarvan Advent die betekenis dra. Een van die gewildste vorme van so ‘n kalender is dat dit in die vorm van ‘n huis is met vier vensters en een deur. Dit word gewoonlik op karton geteken en gemaak, maar op so ‘n manier dat die venstertjies en deur kan oopmaak. Verskillende kinders kan dan verantwoordelikheid aanvaar vir ‘n venstertjie en iets daaragter teken of plak wat met die Kersboodskap geassosieer word. Elke Sondag is dit dan deel van die verrassing dat een so ‘n venstertjie oopgemaak word, terwyl die deur op Kersdag self oopgemaak word.
  • Die gebruik van die Kersboom is baie bekend. Tog het dit ‘n sterker godsdienstige betekenis as wat die meeste mense vermoed. Die Kersboom verwys terug na die boom van die lewe in die tuin. Die boom herinner ons so aan die skepping, asook dat Christus weer sal kom om die skepping te verlos (Rom 8:19- 20). Die voorbereiding en versiering van die Kersboom kan iets van die voorbereiding en wag op die koms van die Koning weerspieël.
  • Die tradisie van die Isai-stomp sluit aan by die teksvers uit Jes 11:1, waar ons lees dat ‘n takkie uit die stomp van Isai sal uitspruit. Volgens tradisie word die stomp van Isai (ook genoem die familieboom van Jesus) gesimboliseer deur ‘n droë stomp met ‘n rooi lint daarom.
  • Woorde soos Maranata (kom, Here Jesus) en Immanuel (God met ons) kan ‘n sentrale plek in Adventstyd inneem en vir kinders verduidelik word.
  • Die gedagtes van wag en waak is sentraal in Adventstyd, en stilte is hiervoor belangrik. Stilte kan juis as alternatief dien op die gejaag en geraas wat dikwels met die tyd voor Kersfees gepaardgaan.
  • Die sing van Kersliedere in eredienste en by ander byeenkomste dra by tot die viering van die Adventstyd.

Kleure in Advent en met Kersfees

Die kleure in Advent moet ons herinner aan die koms van die Koning. Die mees algemene kleure wat gebruik word is daarom koningsblou en purper. (Let wel – nie pers nie). Op Kersdag is die kleure wit en goud. Hierdie kleure kan gebruik word ook in die dae na Kersfees tot Epifanie, die 6de Januarie. Die kleur verander dan na groen.

WAT IS EPIFANIE EN WAAR KOM DIT VANDAAN?

Die woord Epifanie dui op die verskyning of manifestasie van God in die wêreld. Die woord het sy betekenis in ‘n ou Oosters-kerklike fees waartydens die geboorte en doop van Jesus gevier is. In werklikheid is Kersfees en Epifanie nie twee afsonderlike feeste nie, maar die feit dat Kersfees ‘n Westerse, en Epifanie ‘n Oosterse oorsprong het, het gemaak dat twee afsonderlike tradisies rondom Kersfees en Epifanie ontwikkel het.

In wese het Kersfees en Epifanie ten nouste met mekaar te make, en daarom word die Kers- en Epifanietyd as aaneenlopend beskou van 25 Desember (die Westerse datum vir Kersfees) tot ná 6 Januarie (die datum vir Epifanie). Epifanie is waarskynlik die oudste van die twee feeste, maar is (soos Kersfees) eers sedert die vierde eeu werklik gevier.

Epifanie word tematies ten nouste verbind met veral die doop van Jesus, maar ook die bruilof by Kana. In die geheel word daar in die tyd ná Epifanie (tot die begin van Lydenstyd) gekonsentreer op Jesus se lewe hier op aarde tot Hy die lydenspad begin loop het.

Wat vier ons in Epifanie en die tyd daarna?

Vanuit die Oosters-kerklike oorsprong van Epifanie is hierdie feestyd mettertyd onderspeel in die Westers-kerklike wêreld en bloot gereduseer tot die bepaalde betekenis wat aan die besoek van die wyse manne geheg is. Sommige woordeboeke verklaar nou nog Epifanie met die woord ‘Driekoningsfees’. In werklikheid is die menswording van Christus die kern waaroor dit in Epifanie (en natuurlik Kersfees) gaan.

Die eerste Sondag ná Epifanie fokus op die doop van Christus en tydens die Sondae daarna word die klem gelê op wat Jesus geleer en gedoen het hier op aarde. Die tyd na 6 Januarie is dus ‘n tyd om te spandeer aan die bestudering en viering van wie die Een wat onder ons kom woon het, werklik is. Terselfdertyd is dit ook die tyd waarin ons, n.a.v. Jesus se doop, kan fokus op hoe getrou ons is aan ons doopbelofte. Daar word dikwels klem gelê op die bestudering van die Bergrede. In Protestantse kerke word daar in hierdie tyd in aansluiting hierby ook nagedink oor die sosiale implikasies van Jesus se lewe en leringe. Epifanie word afgesluit met Verheerlikingsondag, wanneer Jesus se verheerliking op die berg herdenk word. Verheerlikingsondag lei die geboorte in wat sou lei tot Jesus se kruisdood en opstanding.

Wanneer vier ons Epifanie en die tyd daarna?

Die Epifanie-fees val op 6 Januarie. Die tyd daarna word die tyd ná Epifanie (of soms ook gewone tyd genoem. Die tyd na Epifanie loop deur tot en met As-Woensdag wat Lydenstyd inlei.

Gebruike, simbole en rituele in die tyd ná Epifanie

Die simbole en rituele vir dié tyd is nie so algemeen soos bv. in die Adventstyd nie Tog is daar belangrike simbole om van kennis te neem.

  • In die eerste plek is dit ‘n tyd waarin die Bybel met erns bestudeer moet word. Die klem val veral op die gedeeltes oor Christus se verskynings voor sy Lydensweg. Ons word in hierdie tyd herinner daaraan dat Christus waarlik mens was.
  • Die beklemtoning van Christus se doop kan herdenk word met ‘n herinnering aan ons eie doop.
  • Die ster van Betlehem is die sterkste visuele simbool van hierdie tyd. Die ster as simbool van Lig in die duisternis is ‘n simbool van hoop.
  • Dit is belangrik om Verheerlikingsondag te vier nie net as ‘n afsluiting van die tyd na Epifanie nie, maar as ‘n inleiding tot die Lydenstyd. So word ons almal reeds voor die Lydenstyd daaraan herinner dat die Lydenstyd uitloop op die heerlikheid van die opstanding.

Kleure vir Epifanie en die tyd daarna

Die dominante kleur van Epifanie is groen soos in Koninkrykstyd. Op die dag van Epifanie, 6 Januarie, word groen vir die eerste keer in die kerkjaar gebruik. Daarna bly dit groen met die uitsondering van die Sondae waarop die doop en die verheerliking van Christus gevier word, dan is die kleur wit.

WAT IS LYDENSTYD?

Lydenstyd is ‘n seisoen van 46 dae waarin die kerk met vreugde, erns en pyn die versoenende sterwe van Jesus verkondig deur sy lyding in herinnering te roep en daarop te reageer in voorbereiding op die Paasfees.

Waar kom Lydenstyd vandaan?

Die Westerse kerk het in die tweede helfte van die vierde eeu in navolging van die Oosterse kerk begin om as voorbereiding vir Paasfees ‘n vastydperk van 40 dae in te stel. Die getal 40 is op die voetspoor van Jesus, Moses en Elia. Die vas het meestal beteken dat slegs een maaltyd per dag sonder vleis geëet is.

Tradisioneel begin die vastydperk op As-Woensdag. Aanvanklik was die plaas van die as op die kop van ‘n ernstige sondaar, ‘n soort tughandeling en boete-oplegging van die kerk. Later het die as ‘n meer seremoniële funksie gekry waarin die as, gewoonlik van die vorige jaar se palmtakke, op die voorkop van die lidmate in die vorm van ‘n kruis gesmeer word.

Wanneer vier ons Lydenstyd?

Omdat Christene nie op Sondae, die opstandingsdag, gevas het nie, begin Lydenstyd op ‘n Woensdag, 46 dae (40 dae en 6 Sondae) voor Paasfees.

Waar hierdie Woensdag nie besondere aandag kry nie, begin sommige kerke hul Lydenstyd op die Sondag voor hierdie Woensdag (dus sewe Lydensweke) en ander weer op die Sondag ná hierdie Woensdag (ses Lydenssondae). Hierdie Leesrooster volg die tradisie waar Lydenstyd begin op die Woensdag ná Verheerlikingsondag.

Simbole, rituele en gebruike in Lydenstyd

  • Die kruis is die sentrale simbool in Lydenstyd. Die kruis herinner ons aan die kruisiging van Jesus, ‘n teken van sy lyding en sterwe, dus is dit nie toepaslik om die kruis te versier nie.
  • ‘n Doringkroon of spykers as ander simbole kan saam met die kruis gebruik word.
  • Lydenstyd is ‘n tyd van hertoewyding. Daarom staan dissipelskap sentraal. Lydenstyd is dus ‘n tyd van toerusting vir dissipelskap.
  • Die gebruik van die vas van voedsel in hierdie tyd staan in die teken van hertoewyding. Hierdie gebruik kan met ‘n bietjie verbeelding in ons huise met vrug gebruik word. As teken van ons bereidheid om op te offer vir die evangelie, kan daar bv. besluit word om in hierdie tyd te vas van ‘n gewoonte, van die lees van tydskrifte, die kyk van TV ens. Daar kan ook besluit word om van sekere voedselsoorte te vas.
  • Lydenstyd is ‘n tyd van bepeinsing en stilte. Afsondering is daarom baie nodig. Hoewel daar in hierdie tyd baie nagedink word oor God se oordeel oor die sonde is dit ook ‘n tyd om ons te verwonder oor die kruisiging as dié liefdesdaad van alle tye.
  • Lydenstyd is ‘n gereedmaak om vernuwing in ons lewens te ontvang. Die pynlikheid van die erkenning van ons eie sonde is hiervoor noodsaaklik. Verootmoediging, skuldbelydenis en boetedoening is in hierdie tyd prominent, maar dit staan alles in die teken van die nuwe lewe wat ons simbolies ontvang op Paassondag. Die ‘as’ van As-Woensdag is ‘n simbool hiervan.
  • Van die wonderlikste kerkmusiek is Lydensmusiek. Hierdie musiek is ‘n gawe aan ons om in hierdie tyd die lyding van die Here Jesus Christus te beleef. Nog beter as om net daarna te luister is om self deel te neem aan ‘n kooruitvoering of die gereelde sing van Lydensliedere
  • Die rituele en simboliek van Palmsondag en die Heilige Week word uitvoerig behandel in die stukke van hierdie week.

Kleure in Lydenstyd

1. Op As-Woensdag is die kleur grys. Daarna vir die res van Lydenstyd word donker aardse kleure voorgestel. Pers word dikwels in hierdie tyd gebruik maar dit het dalk al té veel van ‘n begrafnis betekenis gekry.

2. Die kleure van die Groot Lydensweek en Paasnaweek is belangrik omdat dit die dramatiese karakter van hierdie tyd kan onderstreep. Vanaf Palmsondag tot die Donderdag voor Goeie Vrydag, word ‘n dieprooi gebruik om die bloed van Christus te simboliseer.

3. Op Goeie Vrydag en die daaropvolgende Saterdag, word geen kleure of enige versierings gebruik nie. Die weerhouding van versierings staan in kontras met die baldadigheid van die versierings en kleure wat gebruik word op Paassondag en die tyd daarna.

WAT IS PASE?

Pase is die hoogtepunt van die kerklike jaar wanneer ons die opstanding van Jesus Christus uit die dood herdenk. Alles wat ons doen, herinner ons daaraan dat hierdie die klimaks van die hele jaar is vir die gelowiges. Dit is byna asof die gelowiges op hierdie dag nie genoeg kan kry van die viering van die oorwinning nie, en daarom strek die viering van die opstanding oor vyftig dae.

Die belangrikheid is so sentraal in die evangelie dat dit byna onmoontlik is om ‘n Christen te wees en nie die opstanding te vier nie. Tog is dit asof die viering van die opstanding net te verrassend is, asof die verbasing hieroor te groot is vir gelowiges om dit voluit te vier. Wie die opstanding werklik ernstig opneem, sal gou vind dat dit hier om veel meer gaan as oppervlakkige goedgelowigheid in die positiewe dinge in die lewe. Die opstandingsevangelie dryf die spot met ons ongeloof en ons verkleefdheid aan die dood.

Wanneer vier ons Paasfees?

Paasfees kan nie losgemaak word van die Kruisgebeure nie. Die vier dae wat begin by Heilige Donderdag en eindig by Paassondag, kan gesien word as een onafgebroke liturgie. Tydens hierdie vier dae beleef die pelgrim ‘n eksodus wat deur die dood na die nuwe lewe lei.

Op Heilige Donderdagaand word die laaste Avondmaal herdenk, gewoonlik met die viering van die Nagmaal. Goeie Vrydag is die dag waarop ons die kruisiging van Jesus Christus herdenk. Op hierdie dag word die kerke gestroop van alle versiering en simboliek. Alleen die beker en die bord is daar om ons te herinner aan Christus se bittere lyding.

Heilige Saterdag is die een dag waarop daar geen rituele voorgeskryf word nie. Op hierdie dag dink ons aan Christus in die graf en daarom is dit ‘n dag van stille afwagting. Die stilte is nie sonder passie nie, maar vol van gespanne afwagting op die uitkoms van Christus se worsteling met die dood. Byna soos mense wat nie meer kan wag nie, is die gebruik om in die nanag op te staan en saam te kom vir die nagwaak. In hierdie donker ure is ons bewus van die stryd, maar ook van die wonder van die opstanding. Met die eerste teken van die nuwe dag, tradisioneel die eerste hanekraai (later het dit sonopkoms geword), breek die vreugde van die oorwinning plotseling deur met die aansteek van die Paasligte (meestal is dit kerse), die bediening van die doop en bevestiging van nuwe lidmate.

Simbole, rituele en gebruike in Paastyd

Dit is belangrik dat ons oorweldig word deur die wonder van die opstanding, en ons nugterheid en beredeneerdheid getemper word deur die vreugde van die feestelikheid. Hierdie is dramatiese oomblikke wat op velerlei maniere gesimboliseer word:

  • Die sentrale simbool met Paasfees en in die tyd daarna is lig wat deurbreek. Die opkomende son herinner ons elke dag aan Christus se oorwinning oor die dood.
  • In die tyd van die opstanding is musiek weer baie belangrik. Die vreugde oor die opstanding is so groot dat dit ons laat oorgaan in lofprysing.
  • Hoewel die Paaseier ‘n baie kommersiële Paassimbool geword het, is die bedoeling van die versierde eiers om ons aan nuwe lewe te herinner.
  • Lofliedere en trompetgeskal is in kontras met die stilte van die vorige dag.
  • In kontras met die vas van Lydenstyd, word daar in Paastyd en veral met Paasfees heerlik feesgevier deur allerlei lekkernye te geniet. Soet is tog die smaak wat ons aan die oorwinning laat dink.
  • Die oorwinning is nie maar net ‘n private aangeleentheid nie, maar ook ‘n openbare saak, en daarom is daar die gebruik om in hierdie tyd ‘n optog in die strate te hou met musiek en simbole.
  • Met al hierdie dinge herinner ons mekaar op hierdie dag aan die grootste van alle dramas: die Heer het opgestaan, die Heer het waarlik opgestaan.
  • Paastyd is ‘n tyd waarin nuwe lewe gevier word. Daarom is dit gebruiklik om hierdie tyd die doop te bedien en nuwe lidmate te bevestig in gemeentes. Vir ons wat gedoop is en reeds lidmate is, is dit ‘n tyd om ons doop en belydenis te vernuwe d.m.v. her-toewyding. Ons moet hierdie tyd aangryp as ‘n tyd waarin ons opnuut kan identifiseer met die drama van nuwe lewe uit die dood. So maak ons gereed in die Paastyd vir die uitstorting van die Heilige Gees. Die eksodus begin by die As-Woensdag en eindig by die vuur van Pinkster. Selfondersoek en skuldbelydenis word opgeneem in wedergeboorte, van sondebesef en die dood word ons saamgeneem op weg na die opstanding en die ewige lewe.
  • By ons aan die Suidpunt van Afrika, is dit herfs – dit word stadigaan weer winter. Dit lyk of die bome sterf as hulle die goue blare afgooi. Vir ons kan die natuur nou eerder wys presies hoe diep ons geval het en hoe dood ons was. Dan kan ons vreugde soveel groter wees as ons daaraan dink dat Jesus hierdie dood vir ons oorwin het deur op te staan uit die graf.

Kleure in Paastyd

Kleur speel ‘n baie belangrike rol in Paastyd. Dit staan in skrille kontras met die somberheid van die kleure van Lydenstyd.

Op Paassondag en deur die hele Paastyd is die dominante kleure wit en goud. Kleure van oorwinning en vreugde. Ander vrolike kleure wat die glorie van Christus se heerskappy oor die dood beklemtoon, kan ook gebruik word. Dit is belangrik om ons huise en kerke in hierdie tyd met baie blomme te versier.

WAAR KOM DIE PINKSTERTRADISIE VANDAAN?

Paassondag en Pinkstersondag het die twee dae geword wat die oudste en belangrikste seisoen in die Christelike kalender omraam het. Dit was ‘n periode van vyftig dae. Eintlik is oorpronklik nie net na die laaste dag nie, maar na die hele seisoen verwys as ‘Pinkster’. Die Engelse ‘Pentecost’ kom van die Griekse ‘pentekoste’ wat ‘vyftig’ beteken. Die 50 dae handel dan ook nie net oor Jesus en meer spesifiek oor sy opstanding nie. Dit is ‘n tyd waar die werk van al drie Persone en God gevier word: agter alles staan God as Vader, as Skepper en Herskepper wie se verlossingsplan deur Christus en die Gees waar word. Christus het opgestaan en so die oorwinning oor die dood bekragtig. Maar dis die Gees wat aan ons geloof skenk en wat die opstandingslewe in ons bewerk. Die Gees skakel ons by God se plan in: as ontvangers én verspreiders van die Nuwe Lewe.

Soos die Pasga was die Pinksterfees ook oorspronklik ‘n Joodse fees. Dit was die naam wat Griekssprekende Jode gegee het aan die Dag van die Eerste Vrugte of Fees van die Weke (Shabuoth), die oesfees waarvan Lev 23:16 praat. Gedurende die eerste eeu nC het die Jode hierdie fees begin assosieer met die ontvangs van die Wet op die berg Sinai. Christene het die parallel getrek tussen die Jode se ontvangs van die wet en hulle ontvangs van die Gees. Dit kan moontlik selfs wees dat Paulus na hierdie kontras verwys in 2 Kor 3:7-8.

Wat vier ons met Pinkster?

Op Pinkstersondag vier die kerk die uitstorting van die Heilige Gees, toe tonge van vuur en die gawe om in tale te praat oor die dissipels gekom het.

Die dissipels, wat aan die treur was oor Jesus se weggaan, is op hierdie dag vervul met blydskap en kragtig in beweging gebring om die nuus van Jesus se opstanding die hele wêreld in te dra. ‘n Mens kan amper sê dat die kerk op hierdie dag gebore is. Pinksterdag is inderdaad die verjaardag van die kerk!

Simbole, rituele en gebruike met Pinkster

Die kerk het tradisioneel lidmate gedoop wat nog nie met Paassondag gereed was nie. Die viering van die verjaardag van die kerk is inderdaad ‘n goeie tyd om ook die geestelike geboorte van nuwe Christene te vier!

Vir reeds gedoopte lidmate is dit weer ‘n goeie geleentheid om hulle doopbeloftes te hernuwe.

Dit is ook die gebruik dat daar op hierdie dag aalmoese uitgedeel word aan die armes.

Spesiale klem word gelê op gasvryheid aan vreemdelinge.

Verder is dit die gebruik om op hierdie Sondag spesiale musiek en uitstallings van kuns, handewerk, blomme of enige iets wat die Gees se gawes aan die gemeente simboliseer, te hê.

Simbole en handelinge laat die klem val op die talewonder, die eenheid van die kerk (dieselfde Gees woon in alle gelowiges) en die uitreik-karakter van die kerk. ‘n Duif, tonge van vuur of ‘n afwaartse pyl kan die Heilige Gees simboliseer, ‘n skip of ‘n reënboog simboliseer die kerk.

Gesinne kan in hierdie tyd gerus ‘n duif uit karton knip en dit op hulle voordeure plak!

Hemelvaart en Pinksterdag is aanvanklik saam gevier, sodat die indruk nie geskep word dat die dissipels op ‘n stadium totaal van God verlaat is nie. Later is die twee vierings geskei.

Die tien dae tussen die Hemelvaart en Pinkster het die karakter verkry van ‘n tyd van afwagting tot die Gees die Kerk nuut maak en uitstuur. Pinksterbidure het in die NG Kerk-familie so ‘n tyd van afwagting geword. Die bidure is egter nie ‘n gebruik in die res van die wêreld se kerk nie.

In 1860 het groot herlewings in die Kaapse NG Kerk-familie begin opvlam. Andrew Murray het ‘n groot aandeel gehad dat die herlewings sterk sendinggerig was. Die herlewing het oor die hele land versprei. Gebed en die werking van die Heilige Gees is beklemtoon. In sommige gemeentes is daagliks vir gebed bymekaargekom. Hier het Pinksterbidure (en trouens ook die Week van Gebed) ontstaan. Dis belangrik om in Pinkstertyd besondere klem te lê op ons getuienis na buite te laat val, en voorbidding vir sending en plaaslike sendingaksies kan meer aandag kry. Soos God vir Jesus gestuur het, stuur Hy ons nou verder met die krag van sy Gees.

Die Pinksterbidure is verder ‘n goeie tyd om terug te kyk op die Paassiklus en om onsself af te vra hoe ons die beweging ‘from ashes (Lydenstyd) to fire (Pinkstertyd)’ beleef het. Dit is ‘n tyd vir toegespitste vernuwing in die kerk. Veral is dit ‘n tyd waar die kerk ontdek dat sy ‘n vreemde organisasie is. Waar alle ander organisasies daar is vir hulle lede, is hierdie organisasie, die kerk, daar vir sy nie-lede. Die wese van die kerk is dat die Gees ons die wêrld instuur.

Kleure in Pinkster

Die kleure wat veral op Pinksterdag gebruik word is rooi en goud om die tonge van vuur wat neergedaal het te simboliseer.

WAT IS KONINKRYKSTYD?

Die tydperk na Pinkster – tot en met Advent – staan algemeen in die kerklike kalender as ‘gewone’ tyd bekend, maar in hierdie Leesrooster verwys ons daarna as Koninkrykstyd. Die tipering van ‘gewone’ tyd verwys na die tweede helfte van die kerklike jaar in onderskeiding van die besondere of primêre feeste op die kerklike kalender (Advent, Kersfees, Lydenstyd, Paasfees en Pinkster).

Wanneer vier ons Koninkrykstyd

Hierdie seisoen na Pinkster begin met Triniteitsondag en eindig met die Sondag van Christus die Koning. Enersyds sluit dit Pinkster af en lei later die seisoen van Advent in.

Koninkrykstyd val by ons (in die Suidelike Halfrond) in herfs en veral in die winter waartydens ons ‘die groen’ van die natuur sien verdwyn. Vanuit die natuur beleef ons hier in Suider-Afrika (anders as in die Noordelike Halfrond) die tekens van afsterwe en doodsheid.

Dit is egter die uitdaging van Pase en Pinkster om die krag van die opstanding te midde van hierdie sigbare tekens/ werklikheid te verkondig, te bely en liturgies te ervaar en uit te leef.

Wat vier ons in Koninkrykstyd?

In hierdie seisoen (soos die naam ook aandui) vier ons die vestiging van die heerskappy / Koninkryk en handelinge van die Drie-enige God (Skepper, Verlosser / Bevryder en Trooster) in elke faset van ons lewe en die wêreld. Ons taak is dus om in hierdie tyd die wonderlike gawes wat ons ontvang het met al die feeste, uitleef in die lewe van elke dag uit te leef.

Koninkrykstyd herinner ons telkens (op die dag van die Here) aan die eenheid en interaksie tussen ‘belydenis en lewe’; tussen ‘teks en konteks’; tussen ‘kerk en wêreld’; tussen ‘die reeds en die nog-nie’; tussen ‘woord en daad’. Dit herinner ons verder elkeen daaraan om ‘liturgie en lewe’; ‘teks en konteks’; ‘skriftuurlik en aktuele temas’ in die liturgie en die prediking sinvol te integreer.

Simbole, gebruike en rituele in Koninkrykstyd

  • Die sentrale simbool van hierdie tyd is dié van die kerk as ‘n bootjie met ‘n kruis op. Dit simboliseer die kerk as draer van die kruis in die wêreld.
  • Hierdie tydperk bied meer ruimte en vryheid aan die Christelike geloofsgemeenskap (as tydens die primêre Christelike feeste) om die Kerklike (Christelike) Kalender en die Burgerlike (Sekulêre) Kalender met mekaar te integreer en te versoen.
  • Die Protestantse kerke vier in hierdie tyd ook die geboorte van die Hervorming, toe Luther sy stellings vasgespyker het teen Wittenberg se kerk se deure.
  • Die Skriflesings en teksgedeeltes wat gedurende hierdie seisoen in die kerklike jaar voorgehou word, hou verband met die tema dat Jesus die Here van alle here, die Koning van alle konings is.

Kleure in Koninkrykstyd

Die kleur van Koninkrykstyd in die kerklike jaar is groen (en skakering van groen). Die kleur op sigself verwys na lewe, groei en vooruitgang.

Liturgiese Kleurgebruik

SWART: Die simbool van die dood.

Die liturgiese kleur van Goeie Vrydag.

BLOU: Die kleur van lug.

Simboliseer die hemel.

Kan ook gebruik word om Waarheid mee uit te beeld.

Beteken aanvaarding en is die liturgiese kleur van Advent.

BRUIN: Die kleur van spirituele dood en vernedering.

GRYS: Die kleur van as.

Verteenwoordig soms belydenis en kan gebruik word gedurende Lydenstyd.

Is die kleur tussen swart en wit en word gebruik om die sterflikheid van die liggaam en die onsterflikheid van die siel mee uit te beeld.

GROEN: Die kleur van plantegroei en ontspring uit die lente.

Word gebruik om die oorwinning van lewe teenoor die dood uit te beeld.

Die liturgiese kleur van Epifanie en Koninkrykstyd.

PERS: Die kleur van verootmoediging en rou.

Koninklikheid.

Die liturgiese kleur van Advent en Lydingstyd.

ROOI: Die kleur van bloed.

Die kleur van vuur.

Die liturgiese kleur van Pinkster.

WIT: Die simbool vir suiwerheid, onskuld en heiligheid.

Die liturgiese kleur van Kersfees en Paasfees.

Word soms deur silwer voorgestel.

GEEL: Die kleur van lig.

Word gebruik om Goddelikheid mee voor te stel

(Uit: Symbols in Christian Art & Architecture)

Algemene byeenkoms

Written by Mariette Steyn on . Posted in Byeenkomste

Wat by die byeenkoms gebeur

Hierdie byeenkoms is nie ‘n geleentheid op sigself nie.  Dit vorm deel van die vrouebediening se breë jaarprogram.  Die program onderskryf die gemeente en/of die vrouebediening se visie en moet na spesifieke doelwitte in dié verband streef.

Reël van die byeenkoms

Die bestuurskomitee bepaal hoe die byeenkoms gereël word. Bestuurskomiteelede deel verantwoordelikhede of indien diensgroepe bestaan word hulle ook betrek.

Wanneer moet die byeenkoms plaasvind?

Een keer per kwartaal of soos bepaal.  Wissel vergadertye: In die dag as dit winter is. Saans as dit warm is (almal: oud, plaasvroue, ens. kry dan ‘n kans om die geleentheid by te woon.)  Tog is dit ook sinvol as die byeenkomste altyd op dieselfde tyd plaasvind.  Die vroue onthou dan om die spesifieke datum en tyd oop te hou. Sondae na kerk.  Met die aanddiens.  Saterdag.

Vorm van die byeenkoms

Wissel die vorm en kombineer verskillendes:

Lesings, Groepbesprekings, Gonsgroepe, Paneelbesprekings, Rollespel,Uitstallings bv. van boeke, Films, Video’s, Voorlesings, Opvoerings, Demonstrasies, Uitstappies.

 

Hoe gemaak om byeenkomste vars te hou?

Elke byeenkoms moet ‘n element van verrassing bevat.

Varieer die volgende:

  • Die vorm van die byeenkomste
  • Die plek (bv. die ouetehuis, konsistorie, kerk of saal, die verhoog of buite!)  Dit is belangrik om te onthou dat die grootte van die groep, die grootte van die lokaal bepaal.  Vyftig vroue is verlore in ‘n groot kerkgebou.  Dieselfde aantal vroue sal ‘n warm geborge atmosfeer in die kleiner konsistorie ervaar.
  • Die rangskikking van die stoele (halfmaan, kringe, rye, na die kant van die saal.)
  • Die vorm van die tafels (langwerpig, klein, rond of glad nie.)
  • Die naam (dalk ‘n lentetee of ‘n gebedsontbyt of ‘n getuienisaand.)
  • Die verversings.
  • Die groepering van die lidmate (diensgroepe of wyke saam, of almal wat in dieselfde maand verjaar.)

 

Beplanning van ‘n byeenkoms

Besluit WIE doen WAT, WAAR,  WANNEER en WAARMEE

KONTROLEER die reëlings.  Die voorsitter moet die vordering van die reëlings kontroleer.  Dis nie polisieman speel nie, maar net belangstelling in elkeen wat ‘n opdrag gekry het.  ‘n Oproep om seker te maak dat elkeen reggekom het, is dikwels al wat nodig is.

Evalueer  die byeenkoms

Bekendstelling van die byeenkoms

Wees kreatief. Die volgende moontlikhede kan oorweeg word of kan gekombineer word:

  • Kanselafkondiging (deur die predikant of met toestemming deur die voorsitter van die vrouelidmate of die diensgroepvoorsitter)
  • Skriftelik op die gemeente se afkondigingsblaadjie (maak dit interessant deur bv. ‘n spesiale raampie of prentjie rondom die afkondiging aan te bring.)
  • Powerpointskyfie
  • SMS
  • Interessante uitnodiging by die deure
  • Persoonlike uitnodigings in die wyke deur die wyksleidster of die diensgroepverteenwoordiger,

Hantering van die spreker

  • Kontak betyds die spreker telefonies om te verneem of hy beskikbaar is.
  • Verduidelik aan hom die doel en spesifieke doelwitte van die byeenkoms.
  • Gee aan hom ‘n spesifieke onderwerp.  (Die woorde “Kom praat oor enige onderwerp”, is ‘n duidelike bewys dat die byeenkoms nie beplan word nie, maar sommer gaan gebeur!).
  • Gee aan die spreker ‘n spesifieke aanduiding van hoeveel tyd hy beskikbaar het.
  • Verduidelik aan hom hoe hy by die program inpas.  Ds bv. belangrik om te weet of hy die enigste spreker sal wees of dalk een van drie.
  • Skets aan hom die teikengehoor.
  • Vra wat sy optrede kos.
  • Volg die telefoniese gesprek op met ‘n BRIEF waarin alle inligting vervat is:

doel van byeenkoms asook die spesifieke doelwitte wat nagestreef

word,onderwerp, datum, tyd, plek plus aanwysings hoe om daarheen te ry,

kleredrag, teikengehoor asook verwagte grootte van die gehoor, ‘n volledige

program van die byeenkoms,tydsduur van sy toespraak.

  • Skakel ‘n week of twee voor die tyd om te bevestig dat alles in orde is.  Verneem watter hulpmiddels benodig word.
  • Ontmoet die spreker op die vasgestelde tyd of plek.  Stel ‘n gasvrou aan om na hom om te sien.  Sy moet bv. sorg dat hy versings ontvang en weet waar die toiletgeriewe is.  Moet hom nie sommer aan homself oorlaat nie.
  • Stel die spreker aan die gehoor bekend:

Hou dit kort. Dit is nie nodig om ‘n hele CV voor te hou nie. Noem kwalifikasies en ervarings wat die persoon geskik maak om die spesifieke onderwerp te hanteer. Wees opreg – vermy oordrewe komplimente. Spreek die persoon korrek aan, bv. meneer, professor, doktor, ens. Skep ‘n vriendelike en gesellige atmosfeer – laat die spreker tuis voel. Skep ‘n verwagting by die gehoor sodat hulle graag na die spreker wil luister.

  • Bedank die spreker

Moenie die hele toespraak herhaal nie. Moenie kommentaar op die toespraak lewer nie, al het jy nie met alles saamgestem nie. Hou dit kort. Lig enkele sake wat jou besonderlik geraak het, uit. Laat die spreker voel hy/sy het iets besonders vir die groep gedoen. Bedank die persoon vir sy/haar moeite en wens hom /haar ‘n voorspoedige reis toe. Oorhandig ‘n geskenk of ooreengekome fooie.  Sluit daarby  reiskoste in.  ‘n Mens vra nie of ‘n spreker reiskoste wil hê nie.   Jy betaal dit net.  (Die kerk het vasgestelde tariewe wat van tyd tot tyd aangepas word.)

 

 

(Erkenning aan die Vrystaatse Sinode se Vrouebediening vir die bostaande inligting)

 

VOORBEELDE VAN ALGEMENE BYEENKOMSTE

Algemene Byeenkoms 

(Oostersee)

“en elkeen wat daarna gevoel het, het vrywillig ‘n offergawe vir die Here gebring vir die werk aan die tent van ontmoeting, vir al die ander dienste…. Elke vrou wat netjies kon weef, het gebring wat sy geweef het: blou, pers en bloedrooi wolstof en linne. Elke begaafde vrou wat graag wou, het die bokhaar gespin… ook speserye en olie vir die lampe, vir die salfolie en vir die geurige wierook.” Eks   35: 21,25,26,28

  1. Saal: Teksverse met blomme uitgebeeld: Blokke of oopstel Kerse/Musiek
  2. Verversings: Blok A en B
  3. “offergawes” bring uitstal: handwerk/ aan die Here gewy
  4. Gebedsmatjies
  5. Boekmerke
  6. Program:  
    • Groepe verdeel
    • Blomname
    • 3 Punte beweeg – of roteer of elke groep by ‘n tafel
    • a) Liedere – gebed
    • b) Gedigte/Aanhalings – gebed
    • c) Teksverse – gebed
    • Dan weer almal saam – kerse/musiek ‘n paar getuienisse en dan kniel almal en ons sluit af met gebed
    • Voornemens

 

———————————————

Algemene Byeenkoms- DIE GEUR VAN ‘N VROU

(Oostersee)

VERWELKOMING:

Die verskeidenheid geure verwelkom mens sommer al in die voorportaal. Al die reukwaters, olies, rome, kruie en speserye, geur kerse, en vars gebakte brood, skons, ens.

Daar is sterk geure, fyn geure, sagte geure, romantiese geure. Geure wat mens laat onthou!! Dan het elkeen van ons nog ons eie mens geur – aroma!!

Baie beslis is elke vrou hier vanaand, deel van ‘n verskeidenheid – elkeen verskillend, maar ook elkeen uniek en spesiaal. Baie welkom dus aan elkeen van julle, mag julle elkeen na behoefte vanaand iets saamneem, maar mag jy ook in jou saamwees met ander hier vanaand, iets van jou spesiale geur nalaat, agterlaat by ander.

Gebed

 

Ysbreker

Op tafels is 5 houertjies met 5 verskillende geure – kruie, speserye in. Ek gaan vir julle ‘n paar minute gee om dit te ruik, voel en selfs te proe as julle wil.  Raai dan wat daar in is. Skryf dit neer op papier op tafel. Gesels saam en gee ‘n raat vir elkeen – wat ons daarmee kan doen. Dit kan eg en waar wees of baie oorspronklik en kreatief!!

 

  1. Terugvoer:

Gee terugvoer van tafels – een of twee van ‘n groep. Gee self rate soos nagevors voor die tyd.

  1. Onthou geure: Sekere reuke maak herinnering wakker, nie waar nie? Gesels gou met mekaar – deel watter reuke laat watter herinnering na vore kom. Goed of sleg. Ek dink bv aan die reuk van ‘n vars geplukte tamatie, laat my dink aan my oom op Petrusburg – as die tamaties natgelei word, die vars grond reuk en tamatie vars gepluk – maar ek onthou ook die kwaai oom – jy mag nie raas as dit middae slaap tyd is nie en ook nie spat as jy toegelaat word om in die dammetjjie te swem nie!!
  2. Terugvoer: Vra weer sekere tafels se terugvoer.
  3. Hoe wil jy onthou word/ watter geur? Vra sommer direkte terugvoer. Watter geur sal jy wil hê moet eie aan jou wees. Huis geur – kos, Tuin geur – natuur, See-geur – Kosmetiese geur? Hoekom?
  4. Wat vra God van ons?  Vir God is geur liefde. Hy vra dat ons hemels gegeurde mense sal wees. Ons kan dit n et regkry as ons Hom toelaat om deel van ons hele wese te wees. Hy moet ons daagliks vernuwe. Want net God kan gewone feilbare mense opregte liefdesmense maak. Net Hy kan sy wonderlike liefde in ons harte plant sodat ons die wonder daarvan kan versprei.

Hemelse liefde kan nooit weggesteek word nie, juis omdat die heerlike geur daarvan so moeiteloos versprei.

6.       Afluiting– Jasmyn liefde.  Steek Geur kers aan en bid dat ons so geurig vir God sal brand – met roekelose oorgawe oor grense heen.

———————————————–

Algemene Byeenkoms – As die skoen jou pas….

(Oostersee)

Vooraf:  

  • Almal bring ‘n paar of twee skoene om uit te stal. Oues/ nuwes/ hoë hakke/ plathakke.
  • Reël met ‘n skoenwinkel om skoene uit te stal?!
  • Kry een van daardie meters waarmee mens meet watter nommer skoen jou pas.

 

Gespreksvraag:  Hoe lyk en voel die regte skoeisel – kom ons gee raad sodat ons die regte skoen kan kry wat pas. Gesels in groepe.

Ons teks sê dat ons die bereidheid om die evangelie te verkondig as skoene aan ons voete moet trek. Dit moet ook die regte skoen wees! Ons gaan na ‘n paar moontlikhede kyk en hoekom dit nie sal werk nie!

  • High polfaais:  Iemand kom oor verhoog gestap met BAIE Hoë  Hakskoene. Hierdie skoene is net vir mooi lyk en vir spesiale geleenthede.

 

i)              Om die evangelie uit te dra, ter wille van mooi en goed lyk, sal beslis nie ‘n impak maak nie. Dis dan net ‘n geleentheids getuienis wat nie eg is nie. Dit sal ongemaklik wees, want mense sal agterkom dat jy nie deurgaans in alle situasies getuig nie. (Noem nog voorbeelde)

Slotsom:  Christenwees in die nuwe SA het niks te doen met net mooi lyk vir kerk of geleenthede nie.

  • Lady-Di halwe hakke: Iemand vertoon sulke skoene. Dit mag dalk gemaklik wees, maar is nie heeltemal geskik vir ‘n ruwe terrein nie. Die skoene kan ook maklik gly op klippe.

i)                    Om die evangelie uit te dra, vra paraat wees. Nie net wanneer dit maklik is nie, maar juis veral wanneer die terrein bietjie rof is. Moet geleenthede kan raaksien en daarby kan aanpas. (voorbeelde)

Slotsom: Dis juis in moeilike situasies waar jy alleen staan dat jy moet kan getuig – met gemak, as deel van jou lewenswyse.

  • Sonder styl: Iemand kom ingeslof met pantoffels. Nog iemand met tekkies – en netjies aangetrek. Hierdie skoene/pantoffels is heerlik, maar net geskik vir die huis.

i) Dikwels is dit makliker om by jou huis vir jou kinders of man te vertel – miskien ‘n gedeelte uit die woord te deel. Wanneer ons dan in situasies buite die huis kom, slof ons maar saam met die stroom. Wil tog nie uit wees nie!  (Voorbeelde)

Slotsom: Christenskap in 2008 vra tye buite jou huis – bereidheid om die evangelie te verkondig is ‘n buite ding!

Wat kies ek dan?

  • ‘n skoen met ‘n hak wat gemaklik pas. ‘n Hak wat die punch kan vat. Gebreide leer is ‘n goeie keuse, want dit skeur nie as dinge woes raak nie. Bly lank mooi, standhoudend, duursaam. Oral en altyd bruikbaar.  (Iemand vertoon sulke skoene). Met hierdie skoene kan jy oral tuis wees.

Onthou:  Ek kan die skoene – die regte skoene kies – maar dit in die kas bêre vir een of ander tyd!!! Ek kan die regte skoene aantrek, maar nie ‘n tree versit nie.

Die belangrike is die bereidheid, gewilligheid. En raai wat? As jy bereid is, nooi God jou om in Sy stoor die beste skoene wat vir jou pas te kom haal. Daar is allerhande kleure en soorte net reg vir jou vir elke geleentheid.

  • Gebedsgeleentheid – stil gebed. Sê vir die Here of jy gewillig is!

 

Wees dan stylvol gereed! Kuier dikwels by God en voel goed oor jouself en geniet die reis – met skoene wat nommerpas, gemaklik en mooi aan jou voete sit.

 

Wyksbyeenkomste

Written by Mariette Steyn on . Posted in Byeenkomste

Die Wyksleier

Wyke word nie in al die gemeentes op dieselfde manier georganiseer nie.  Sommige gemeentes wys ‘n vrou uit die wyk aan as leier, in ander gemeentes doen die kerkraadsvrou die skakelwerk en gee die inligting deur.  Indien die wyksleier  nie ‘n kerkraadslid of -vrou is nie, moet daar ‘n goeie verstandhouding tussen haar en die kerkraads-egpare wees.

Die wyksleier is deel van ‘n familie wat ons Here saamgestel het, en elkeen het mekaar nodig.  Sy is deur mense gekies om leidster te wees, maar dit is die Heilige Gees wat haar bekwaam maak en ‘n deernis vir haar wyksmense gee.  Sy kan haar werk goed doen as sy ‘n intieme verhouding het met Jesus Christus.

Riglyne vir leiers

Die leier kan die volgende nastreef:

  • Sy streef na ‘n innige en opregte verhouding met haar Skepper.
  • Sy ken elke wykslid en doen gereeld vir elkeen voorbidding.
  • Sy is lojaal teenoor haar wyk en gemeente.
  • Sy lewer nie negatiewe kritiek op die beleid, projekte of algemene werksaamhede van haar gemeente en of sinodale streek nie.
  • Sy woon  byeenkomste by, sodat sy op hoogte kan wees van besluite en ander sake.  Sy spreek haar mening uit oor sake onder bespreking tydens byeenkomste en nooit op straat nie.
  • Sy is nooit dominerend nie, sy begelei haar wykslede na meerdere betrokkenheid.
  • Sy hou haar en die wyk op hoogte van alle kerklike aangeleenthede deur gesprekke, en geestelike lektuur.
  • Sy bly ‘n entoesiastiese medewerker van God in haar wyk.
  • Probeer om die onaktiewe lid nie te vergeet nie.  Skakel periodiek en verneem hoe dit gaan.  Dra aan haar die groete van die ander wykslede oor.  Hou ook vir haar lewend in die gedagtes van die wykslede.
  • Sy  kan alleen vroue in die wyk ken deur haarself bekend te stel en deur elke vrou tuis te besoek.  Hou die besoeke kort en aangenaam, vermy onderwerpe wat spanning kan skep.  Moedig vroue aan om êrens hul deel by te dra, al sou dit net wees om voorbidding te doen.  Op die wyse word die werkslas verdeel en werk die gemeente as ‘n span saam om ‘n doel te bereik.

Die Wyksbyeenkoms

Doel

  • Die wyksbyeenkoms het ‘n definitiewe doel om die gemeente geestelik op te bou en talente saam te snoer tot eer van God en in diens van die naaste.
  • By die wyksbyeenkoms leer vroue mekaar ken en verstaan.  Hulle gesels saam, bid saam, luister saam en drink saam tee.
  • Hoewel informeel van aard en gesellig, is die wyksbyeenkoms nooit ‘n blote sosiale byeenkoms nie.
  • Die wyksbyeenkoms  bied ‘n lieflike geleentheid tot liefdesdiens, waarin elke wyklid ‘n daadwerklike aandeel het.

Begin van die byeenkomste

  • Die wyksleidster  lê besoek af by vroue in die wyk en stel haarself bekend.
  • Sy gesels met die vroue oor hoe ‘n wyk behoort te funksioneer en waarom.
  • Sy beklemtoon die gedagte van hulp aan mekaar en diens aan God, en toon aan wat dit vir ‘n mens persoonlik kan  beteken, ook wat jy vir ander kan beteken.
  • Sy toon ook aan hoe alles kan gebeur sonder dat dit te veel van ‘n mens se tyd in beslag neem.
  • Opvolgbesoeke sal nodig wees.
  • Reël ‘n byeenkoms en nooi die wyk se vroue met die uitdruklike doel om mekaar te leer ken.
  • Moenie teleurgesteld wees as net ‘n paar vroue opdaag nie.  Verduidelik hoe ‘n groep funksioneer en dat die grootte nie van belang is nie.

Tyd en Plek

  • Dit vind op ‘n vasgestelde tyd plaas.
  • Dit word gehou aan huis  van gewillige vrou.
  • Om nuwe intrekkers in te skakel, kan die wyksleidster vra of die vrou nie haar huis beskikbaar wil stel vir ‘n byeenkoms nie.

Wie woon die byeenkomste by?

  • Al die vrouelidmate in die wyk.
  • Haar kerklidmaatskap maak elke vrouelidmaat betrokke by die vrouebediening van die gemeente.

Riglyne vir die byeenkoms

  • Die doelwit van elke byeenkoms is geestelike verryking en dit moet altyd die fokuspunt van die byeenkoms wees.
  • Deeglike voorbereiding voor die byeenkoms is belangrik
  • Gebed is baie belangrik by alle byeenkomste.
  • Stel ‘n paar doelwitte op: Bv.

Om vir mekaar by name te bid.
Gereeld elke maand bymekaar te kom vir bybelstudie en werksrëelings.
In mekaar se vreugdes te deel.
Etes te voorsien waar daar nood of lyding is.
Nuwe intrekkers te besoek en hulle te laat tuis voel
Bejaardes te besoek
Bedag te wees op finansiële en geestelike nood en te help

Evaluering van die byeenkoms

Dit is ‘n gesonde beleid om van tyd tot tyd die werksaamhede van die wyk te evalueer.  Sodoende kan vasgestel word of die wyksbyeenkoms nog aan sy doel beantwoord en of daar in al die behoeftes van die vroue in die wyk voorsien word.

Gee aan elke vrou in die wyk ’n vraelys om, sonder vermelding van naam, skriftelik in te vul.

Ongeag die struktuur

Written by Mariette Steyn on . Posted in Strukture

Die reglement bepaal dat elke gemeente hulle eie werkswyse bepaal.

Die model of werkwyse wat gebruik word, word bepaal deur die behoefte van die vroue en visie van die betrokke vrouebediening.  Enige werkswyse wat ‘n voertuig is om die visie te dra, is korrek.  Daar is tans geen voorskrifte nie. Netwerk self met gemeentes of via die kantoor vir Vrouelidmate tov verskillende modelle.

Ander modelle

Voorbeelde:

1.     Today God Is First

Ons beleef tans ‘n sigbare herlewing in Bergsig Durbanville gemeente. Die manne het in Mei 2009 begin met ‘n TGIF-bediening en dié behoefte het toe ook onder die dames ontstaan om ‘n ontmoeting te hê met ons lewende God. TGIF bied ‘n welkome platform waar mense hul stories met ander kan deel. Die eerste Dames TGIF- byeenkoms (Dames TGIF (Today God Is First) was einde Januarie en ons was oorweldig toe ons sien dat die vrouens 5:30 vm op ‘n Dinsdagoggend tou staan om ‘n sitplek in die saal te kry. Ons het die eerste oggend weggespring met 130 dames en die getalle wissel enigiets van 80 tot 180 dames per oggend. Daar’s elke keer ‘n spreker – soms is dit bekende persoonlikhede wat kom getuig, maar ander kere is dit gewone vrouens wat toelaat dat bietjie olie vanuit hul stukkende kruik oorloop na ander. Ons poog om ‘n gesellige atmosfeer te skep met koffie, tee, beskuit en muffins en voor 7:00vm is almal weer oppad om die dag verder te neem. Ons dames beskryf hierdie byeenkomste as inspirerend, ‘n geleentheid om by mede-Christene te leer ken en my geloof te versterk, ’n ‘Turn to Friends’, ’n vitamien-inspuiting, nuwe hoop, motivering, dankbaarheid, ens.

2.    Maria-bediening

In Februarie 2010 is die Maria-bediening (Vroue by die Voete van Jesus) in die Paarl “gebore”. Byeenkomste vind plaas in ‘n lokaal, beskikbaar gestel deur ‘n wynlandgoed.  Die lokaal is gratis versier en kelims is voorsien vir die gebedskamer deur plaaslike dekorwinkels.

Maandeliks kom vrouens van alle denominasies bymekaar om onder leiding van die Heilige Gees  stil te word by die Voete van Jesus! Elke byeenkoms bied geleentheid vir jou eie gebedstyd in die gebedskamer (soos die Heilige Gees jou lei), lofprysing/aanbidding deur ‘n sangleier en getuienis. Vrouens ervaar die teenwoordigheid van die Heilige Gees, harte is besig om herstel te word en ons kom vind net weer die vreugde in stilwees! Vrouens het al getuig hoe hulle vir vriendinne begin bid het waar hulle vantevore te skaam was. Vrouens getuig van die salwing wat hulle ervaar tydens die stilwordtyd.  ALLES gaan oor JESUS – ons ABBA VADER, ons is slegs die instrumente! Ons glo dat die Here met elke geleentheid afsprake het met verskeie vroue.

3.    George Moedergemeente

Januarie 2010: Ons begin met ‘n nuwe vrouebediening.

Doel: Om die gemeente vroue geestelik te voed en te verryk.

Missie : Om besige Martha’s te help lei na dienende Maria’s.  Om in God se teenwoordigheid in te gaan, te sit by Jesus se voete en te luister.

Waar begin ons? Seker maar by die einde. ‘n Vroue safari wat die vroue op ‘n geestelike reis neem na herstel. Herstel? Ja herstel van hartseer, mislukking, pyn, verlies, minderwaardigheid ens.Februarie 2010:

1. Elke vrou wat inskakel word toegerus met ‘n GPS lêer, m.a.w. ‘n handleiding vir die pad wat ons gaan volg. Ontvang elke byeenkoms ‘n stukkie padkos wat in die lêer gebêre word – boekmerkies, gehekelde kruisies, addisionele leesstukke

2. ‘n” Vanity Case” lapsakkie wat met elke byeenkoms gepak word met:Abraham se geloof, Rut se geloof, Job se geduld, Salomo se wysheid, Paulus se deursettingsvermoë, Maria se nederigheid enJesus se Liefde

Elke maand ontvang die vroue ‘n kaartjie met ‘n bybelteksie voorop en ‘n item agterop geplak om die tema vir die maand vas te vang en wat dan in die ‘vanity case ‘ gepak word vir die pad vorentoe.

Tema: God is my rotsTeks:

Ps 71:3  Wees vir my ‘n rots om na toe te vlug…

Simbool: Klein klippie agterop die kaartjie geplak

Die byeenkomste word gelei deur gassprekers, ons leraars, persone wat getuienisse lewer en ook die vroue van die bediening.Elke kwartaal bied ons ‘n groot byeenkoms aan wat deur die hele gemeente en gemeenskap bygewoon kan word- die hele gesin. Ja, ons pas tot die kinders op.

4.    Oostersee

Die Oostersee Vonkelvroue is ʼn groep pragtige vroue met harte van goud wat almal ʼn passie vir die Here het. Die groep het in 2009 ontstaan nadat twee dames van hierdie gemeente ʼn leemte raakgesien het vir ʼn omgee groep vir die jonger vrou in die gemeente. Vonkelvroue funksioneer parallel en as aanvulling tot die tradisionele vroueaksie in die gemeente. Alhoewel dit amptelik bekend staan as ʼn groep vir die “jonger” vrou, het dit niks met fisiese ouderdom te doen nie – enigeen wat jonk van gees is, is welkom!

Die groep kom een maal ʼn maand informeel by ʼn gasvrou se huis bymekaar. Die aanbieder van die aand en die gasvrou roteer en is vrywillig. 2010 se tema is “The Ultimate gift” – elke maand word ʼn nuwe “gift” behandel en ook toegepas. Alhoewel dit dus primêr as ʼn ondersteuningsgroep vir vroue begin het, het hierdie tema die dames spontaan aangemoedig om ook na buite die groep uit te reik en diensbaar te wees. Op hierdie manier vul hulle die vroueaksie aan.

Die dames het elke maand ʼn ander gebedsmaat wat omgee en ondersteuning op ʼn baie persoonlike en intieme vlak verhoog. Soos wat vriendskappe onder die dames verdiep het, het die manne, oftewel die “Mannekyne”, ook vriende geraak – gereeld sal die Mannekyne ʼn braai aanbied as fondsinsameling vir die kerk. (Natuurlik met die vonkelvroue in die kombuis wat sorg vir die bykosse, kaartjieverkope, dek van tafels en versiering van die saal terwyl die manne baie hard werk om die vuur… Spanwerk!)

Mei 2010 het die vonkelvroue by Mooi Hawens, Bettiesbaai, gaan kamp. Dr ST Potgieter het  “Verhoudings in vandag se tyd”, aangebied.

Kenmerke van die groep is dat dit informeel is (geen vergaderingsprosedures, sakelyste of notules nie). Daar is baie humor en die dames lag werklik baie. Daar is baie energie en nooit ʼn tekort aan gewillige hande nie. Gebed speel ʼn baie belangrike rol – gebedsversoeke, asook terugvoering op hierdie versoeke, word gereeld deur die loop van die maand aan die groep gekommunikeer. Daar heers ʼn vertroulike band en konfidensialiteit – veral aangesien sensitiewe onderwerpe soms bespreek word en die dames hulleself blootstel. Daar is ook goeie kommunikasie en tegnologie word maar meestal hiervoor ingespan wanneer die dames nie bymekaar is nie.

Hierdie groep gee vir vroue ʼn platvorm om meer en meer te groei soos die vrou van Spreuke 31. Die vonkelvroue skitter inderdaad soos edelstene!

VERGADERINGS

Written by Mariette Steyn on . Posted in Vrouebediening

Voorsitter

Elke vergadering moet ‘n voorsitter hê.  Alle lede moet die voorsitter aanspreek.  Hulle mag nie met mekaar praat nie.

Agenda/Sakelys

Die voorsitter en die sekretaresse (of die bestuur of dagbestuur) stel voor die vergadering ‘n agenda/sakelys vir die vergadering op.  (Voorbeeld van ‘n sakelys volg later.)  Hoe vollediger die sakelys, hoe beter.

1.    Kennisgewing van vergadering

Die lede kry ruim voor die tyd (twee weke) kennis van die vergadering.  Dit kan mondeling of skriftelik gedoen word.  (Dit is wenslik dat die tye van gereelde vergaderings vasgelê word.

Saam met die kennisgewing van die vergadering kan die lede ook die notule van die vorige vergadering ontvang asook die agenda van die komende vergadering ten einde hulleself vir die vergadering voor te berei.

 

2.    Kworum

Die voorsitter moet toesien dat die vergadering behoorlik saamgestel is.  Sy moet die geldigheid van die kennisgewing van die vergadering nagaan en vasstel of ʼn kworum teenwoordig is.  ʼn Kworum is die minimum getal lede wat teenwoordig moet wees sodat geldige besluite oor sake op die agenda geneem kan word.   Een lid meer as die helfte van die lede van die vergadering vorm gewoonlik ‘n kworum.

3.    Verloop van die vergadering

Die agenda bepaal die volgorde waarin die vergadering verloop.  Slegs met toestemming van die vergadering kan daar van die volgorde afgewyk word.

 

4.    Punt ‘Algemeen”

Daar is nie ‘n punt “Algemeen” op ‘n vergadering nie.  Slegs met algemene instemming kan sake aan die begin van die vergadering op die agenda onder “Nuwe Sake” geplaas word,  maar dit word liefs nie so gedoen nie.

5.    Opening en Afsluitings

Dit is goed om vooraf persone te vra om te open en die bedankings en afsluiting te doen.

 

6.    Voorstelle

Na ‘n bespreking moet  ‘n voorstel geformuleer word, anders praat ‘n mens los en vas.

Elke lid het die reg om ‘n voorstel in te dien.

‘n Voorstel moet positief ingedien word:  “Ek stel voor dat …”

‘n Voorsitter is onpartydig en dien geen voorstelling in nie.  Sy mag wel vra:  “Wil iemand voorstel dat ….” en nie “Ek dink ons moet ….”nie.

‘n Voorstel kan slegs met die verlof van die vergadering weer teruggetrek word.

(Erkenning aan Vrystaat Sinode Vrouebediening vir bogenoemde)

Voorbeeld van ‘n Agenda

 

Agenda van die Gemeentelike Komitee van die Vrouebediening van ….. dateer …… 

1.   Opening en Verwelkoming

2.   Presensie

3. Notule van vergadering van ….. vir goedkeuring

4. Sake uit Notule

a.    ………………………………….

b.    ………………………………….

5.   Besprekingspunte:

       5.1 Projekte vir die jaar

       5.2 Finansies

       5.3 Webblad

       5.4 Jaartema

       5.5 .Kampe/toerustingsgeleenthede

       5.6 Deurkollekte Vrouebedieningskantoor

      5.7 Interaksie bydraes

 6 Afsluiting

     …. sluit af met gebed. Die volgende vergadering vind plaas op ………………. om ……….. 

 

VOORBEELD VAN ‘N NOTULE:

NOTULE

Wat is ‘n Notule?

  • Die notule is ‘n bondige, juiste, en onpartydige weergawe van ‘n vergadering.
  • Die notule moet so volledig wees sodat ‘n lid wat nie die vergadering kon bywoon nie, sal verstaan wat op die vergadering plaasgevind het deur net die notule te lees.
  • ‘n Notule is nie ‘n verslag nie.

Inhoud van ‘ Notule

Die sekretaresse skryf die notule in die teenwoordige tyd, bv: “Die vergadering besluit dat …”

‘n Notule bevat gewoonlik die volgende:

  • Die datum, tyd en plek van die vergadering
  • Die name van die voorsitter en sekretaresse
  • Die getal aanwesige en afwesige en afwesige lede, asook die name van die lede wat verskoning aangeteken het.
  • Besluite wat die vergadering geneem het.
  • Enige verslae, aankondigings of ander sake wat belangrik geag word.
  • Die tyd en wyse waarop die vergadering verdaag.

 

Hantering van ‘n Notule

  • Die notule word op die volgende vergadering goedgekeur nadat die vergadering geopen is.
  • ‘n Afskrif van die notule kan vooraf aan die lede gestuur word.  Hierdie notule kan dan as gelese beskou word en so word tyd bespaar.
  • Die voorsitter vra ‘n voorstel om die notule as ‘n juiste weergawe van die vorige vergadering te aanvaar.
  • Veranderinge word aangebring en genotuleer  indien nodig

Na aanvaarding van die voorstel onderteken die voorsitter die notule en skryf die datum daarby.

Voorbeeld van Notule

 

Notule

Van die Gemeentekomiteevergadering van die NGK Ceresvallei Vrouebediening gehou op Donderdag 15 Julie 2010 by die Pastorie

1.     OPENING EN VERWELKOMING

Magda heet almal welkom en open met voorlesing en gebed.

2.     TEENWOORDIG:

Madelein Gerber, Sonja Joubert , Aldihette Giliomee, Elsa Lombaard Fientjie Wium, Magda Geldenhuys, Riana du Plessis, Linda de Klerk

3.     SAKE UIT NOTULE

3.1          SOP & SJERRIE (21 MEI)

  • Het vlot verloop – Elsa word bedank vir haar reëlings in die verband.

3.2          PINKSTERPROJEKTE

  • Alles wat ingevorder is, is verdeel en uitgedeel:

o   Komberse aan Ceres Tuiste siekeboeg, Maudie Kriel, Pieter Strauss, Dienssentrum & ACVV

o   Speelgoed aan Provinsiale Hospitaal

o   Sopbestanddele aan Badisa

o   Ander kos aan ACVV

  • Magda sal weer reël dat gemeente bedank word in gemeentebrief.

 

4.     SAKE ONDER BESPREKING

4.1          VREUGDEVOLLE MOMENTE

  • Samestelling voltooi vir volgende 2 maande. Volgende bladsy beskikbaar by deure 25 Julie. Skrywe in gemeentebrief word hieroor benodig (Sonja sal reël).
  • Die onderstaande behoeftes is geïdentifiseer in gemeenskap:

o   Hospitaal : maak van sakke waarin ma’s kinders kan dra

o   Ceres Tuiste: stap, lees, musiek, besoek, sal hou van koekies bak

o   Goldilocks : oortrek van matrassies

o   ACVV: breiwerk (musse & serpe), waslappe & seep, ou klere

o   Badisa: pakkies met bababenodighede

o   Dienssentrum: naaldwerksakke, voorskote, benodig ook iemand wat een keer per week naaldwerklesse kan gee

o   Polisie : komberse & sagte speelgoed vir traumakamer, ou baba & kinderklere, mure van traumakamer verfraai, sop vir ongeveer 15 mense op gereelde basis

  • Omgee-sakkies gaan vanaf Sondag, 18 Julie in kerk beskikbaar wees waarin die volgende items bymekaar gemaak sal word tot Sondag 22 Augustus: wol, bababottels, tandepaste, waslappe & seep, babygrows, weggooidoeke, inkleurboeke & potlode.

o   Maksimum R20 per pakkie.

o   Aldihette sal skrywe in gemeentebrief reël om te verduidelik.

o   Linda reël 3 houers vir omgeesakkies (een by elke deur)

o   Riana sal 100 omgee-sakkies maak en Sondagoggend voor kerk in houers plaas.

o   Aldihette sal drie appelbokse reël waarin sakkies wat terugkom geplaas kan word.

o   Addisionele items tot maksimum van R2000 sal aangekoop word afhangend van wat ingevorder word.

o   Elsa sal vir Drukkers vra om afvalpapier in boekies te bind.

  • Praktiese doen-oggend verskuif na Woensdag, 25 AUGUSTUS by Ceres Tuiste.

o   Elkeen van ons moet probeer om iemand saam te bring.

o   Stel lys saam van mense wat later op gereelde basis betrokke wil wees

o   Drie sessies (9H30-11H30, 14h00-16H00 en 19h00) sal aangebied word

Oggendsessie

9H30 – 11h30

Middagsessie

14H00 – 16h00

Aandsessie

19H00

1.Stikstasie : maak drasakke vir hospitaal (Sonja)

2.Pakkiestasie : verpak items uit omgeesakkies vir Badisa, ACVV, Polisie (Fientjie & Elsa)

3. Kaartjiestasie – ±100 kaartjies vir matrieks. (Aldihette sal Karin Hendriks vra om te reël/beman.)

 

10H00: bedien iets lekker saam met tee vir inwoners:

2 x plaatkoeke (Linda) & 2 x soutterte (Elsa & Madelein)

Koekies bak:

 

Deeg vooraf aangemaak:

2 x Witkoekies (Magda), 2 x Vla (Fientjie),

2 x Gemmer (Madelien)

Koekpanne (Magda, Elsa, Riana)

 

Tussendeur vroue uit gemeente help met stap/ lees/ kuier

Begin met musiek items 19h00 vir 15 min (Madelein reël met Karin)

 

Goldilocks stasie (Eoudia)

 

Koekies verpak

 

Bingo & Speletjies

 

Lees (Bybel) & kuier

 

5.      FINANSIES

5.1          Beleggings

  • Tans R XXXX.XX beskikbaar vir verdeling.

5.2          Projekte

  • Donasies van R1000 elk vir teologiese opleiding by Morgenster en dokters by Gugu is nog nie gedoen. Madelein sal opvolg.
  • Moederskamer – Lizette is besig met kwotasie vir moederskamer se vloer.
  • Overlays – Ankia Burger is besig om te ondersoek.

6.     PROJEKTE

6.1          Hallelujas in my Hangkas – 30 Julie.

180 kaartjies moet binne volgende 2 weke verkoop word. Almal moet asseblief help kaartjieverkope.

6.2          Straatwerk benodig gordyne, beddegoed & breekgoed vir huis wat

hulle besig is om te restoureer vir hul projek: Jy’s waardevol vir Jesus. Gee deur aan gemeente in bulletin (Madelein).

7.     SINODALE NUUSBRIEF

7.1          Cederberg konferensie vir lidmate op Citrusdal : 18-19 Augustus sal in gemeente blaadjie afgekondig word (Magda).

7.2          Interaksies is aangekoop en sal by kerkdeure beskikbaar wees. Reël ook skrywe in bulletin hieroor (Madelein).

8.     DATUM VAN VOLGENDE VERGADERING

7 Oktober 2010 om 19H15

9.     AFSLUITING

Linda sluit af met gebed.

Datum:             ………………………………………………

VOORSITTER: ……………………………………………………….

SEKRETARESSE: ……………………………………………………

Pligte van bestuurslede

Written by Mariette Steyn on . Posted in Vrouebediening

4.    Is die skakelpersoon tussen die gemeentelike vrouebediening en die sinodale kantoor vir vrouelidmate.  Sy moet inligting wat sy ontvang aan die komitee en vrouelidmate kommunikeer soos van toepassing.

5.    Tree altyd op in noue samewerking met en na raadpleging van haar komitee.

6.    Belê in samewerking met die sekretaresse vergaderings, stel sakelyste op en sien toe dat dokumentasie bewaar word en korrespondensie hanteer word.

7.    Neem leiding by vergaderings.  In haar afwesigheid tree die ondervoorsitter of aangewese bestuurslid op as voorsitter.

8.    Gee in vergaderings aan alle lede ‘n billike geleentheid om haar sienswyse oor ‘n saak te stel, veral om te verhoed dat daar buite die byeenkoms menings, of griewe of voorstelle uitgespreek word wat binne die byeenkoms moes geskied.

9.    Handhaaf normale vergaderingsprosedure

10. Delegeer sover moontlik haar verantwoordelikhede

11. Verteenwoordig, wanneer sy deur die ring daartoe verkies word, die vrouelidmate by die sinodale kommissie

12. Verteenwoordig die vrouebediening by gemeentelike kommissies en/of die kerkraad soos die kerkraad dit plaaslik reel.

13. Doen jaarliks verslag van die vrouebediening se werksaamhede by die kerkraad en by die Sinodale kantoor.

Ondervoorsitter

1.    Neem leiding in die afwesigheid van die voorsitter of wanneer sy deur die voorsitter versoek word om die voorsitterstoel in te neem.

2.    Ondersteun die voorsitter en voer alle opdrgte uit waartoe sy deur die voorsitter of komitee versoek word.

3.    Sorg vir goeie onderlinge verhoudings en motiveer die vrouelidmate deur haar eie entoesiasme en lojaliteit

Sekretaresse

1.    Is ‘n volwaardige lid van die bestuur

2.    Voer haar opdragte in noue skakeling met die voorsitter uit.

3.    Sien in samewerking met die voorsitter toe dat vergaderings ordelik afgehandel word, omsendbriewe hanteer word en korrespondensie opgevolg en afgehandel word.

4.    Gee uitvoering aan die opdragte en besluite van die bestuur.

5.    Is verantwoordelik vir die kennisgewing, sakelys, reëlings en notules van die bestuur asook ander take soos deur die bestuur besluit.

6.    Sorg dat ‘n presensielys by byeenkomste sirkuleer.

7.    Moet toesien dat notules afgeneem en veilig bewaar word

Tesourier

1.    Die boekhouding van die Vrouelidmate word deur die kassier van die gemeente gedoen.

2.    Indien die Vrouelidmate ook ‘n eie interne boekhouding van hulle fondse verlang, ontvang die tesourier van die vrouelidmate alle gelde en betaal dit aan die kassier oor.

3.    Sy reik ‘n kwitansie uit vir elke bedrag wat sy ontvang.

4.    Sy doen alle aanvrae vir uitbetalings deur die gemeente se kassier.

5.    Sy is verantwoordelik  vir die opstel van die vrouelidmate se jaarlikse begroting.

6.    Saam met die skriba/kassier stel sy aan die einde van die jaar ‘n finansiële verslag op.  Hierdie verslag word as deel van die vrouelidmate se jaarverslag aan die kerkraad voorgelê. Die boekhouding van die vrouelidmate word deur die kassier van die gemeente gedoen.