{ARGIEF}

Dit gebeur soms dat ʼn mens na jou omstandighede kyk en dan net die slegte raaksien, want dis al waartoe jou geestesingesteldheid jou in staat stel. Die week vra ʼn vrou my waarom dit dan lyk asof God net die hardheid van die lewe vir haar wys? Dis sleg as mense net die seer van die lewe raaksien omdat hulle oë op stadiums nie in staat is om verder te kyk nie. Dit is eers as jy slaag om anders te kyk dat jy God se hoop en liefde raaksien. Dis eers as jy deur die oë van geloof en gebed kyk, dat jy dit regkry om anders te kyk na die werklikheid.
Ek was bevoorreg om in die Rooisee te snorkel en die asemrowendheid van God se skepping te bewonder. Op ʼn stadium swem ek nader aan ʼn growwe koraalrif en wonder in my stilligheid hoe die rif my voet kan sny as ek daarop trap. Toe ek naderkom skiet ʼn skool hemelblou vissies uit die rif. Uit die skerp koraalrif kom daar toe die mooiste lewe!

fancy-fish19

Dit lyk soms of die lewe ʼn skerp koraalrif na ons draai. Sodra jy leer om anders daarna te kyk – met ander oë daarna te kyk – sien jy ander dinge raak. Dan verras God jou op die vreemdste plekke met sy liefde. Soms moet ons juis nader aan die hardheid van die lewe kom om weer te leer om ander dinge raak te sien as wat ons normaalweg sou sien!
Gebed leer jou om anders te kyk – ander dinge raak te sien. As ʼn mens bid, begin jy deur die Gees se oë na die skerp koraalriwwe kyk. Dan staan jy soms verras hoe God se liefde daar teenwoordig is !