{ARGIEF}

TonyBuzan – wat vroeër jare die konsep “mindmapping” bekend gestel het – maak in een van sy artikels die volgende stelling: “It’s the end of the information age”. Hiervolgens beweer hy dat die informasie-era ons selfstandige denkvermoë en groei vertraag het.

Volgens Buzan bestaan daar wanpersepsies oor die vermoëns van mense. Dit is nie waar dat net sogenaamde slim mense denkvermoëns het en daarom sukses kan bereik nie. Elke mens  kan sukses bereik indien hulle brein suksesvol bestuur word. Hy glo dat elke mens gebore is met die vermoë om te dink en te presteer. Omdat mense nie moeite doen om hulle brein se potensiaal te ontwikkel nie, presteer hulle nie. Ons moet van jongs af geoefen word om ons brein reg te benut. Omdat ons nie die ongelooflike vermoë daarvan benut nie, sukkel ons om kreatief te wees. Kreatiewe denkvermoë word deur regterbrein- aktiwiteite bevorder. Die informasie en tegnologiese eeu help ons nie hierin nie.
As motivering vir hierdie “wanbestuur” van ons brein beweer hy dat die huidige informasie eeu ons so ingesuig het dat dit ons kreatiwiteit eerder benadeel en indiwiduele potensiaal verminder het. Die informasie en tegnologie era is gekenmerk deur ongelooflike tegnologiese prestasie en ons word so toegegooi onder al die inligting tot ons beskikking dat ons stadig maar seker verleer om vir onsself te dink. Dit beïnvloed nie net ons kreatiwiteit nie, maar maak ons eie breine lui! As verbruiker in hierdie moderne era druk ons knoppies en alles word vir ons gedoen. Dit doen ons meer kwaad as goed.

Buzan glo dat een van die kenmerke van die informasie eeu  “multitasking” is. Ons begin so baie dinge, met behulp van tegnologie, gelyk doen, dat ons baie min nadink en herbesin. Dit is een van die redes waarom die wêreld so deurmekaar is. Die huidige ekonomiese krisis is juis die gevolg van “ millions of brains mismanaging themselves and in turn mismanaging others” As verbruikers van die gevorderde tegnologie en massa inligting en ondeurdagte menings waarmee ons gekonfronteer word, het ons slawe geword in plaas van denkers!

Hy haal Warren Buffet aan “In the future you’ll be able to recognise billionares because they will be the only ones without a mobile”
Hiermee vermoed ek, bedoel hy, dat ons daaglikse tegnologiese omgewing ons denke onderbreek en dat dit belangrike besluitneming negatief beïnvloed. Die verbruiker is nie meer selfstandige navorsers nie, maar volg ander se mening slaafs na  – hoe ondeurdag ook al. Rekenaars maak berekenings en neem namens ons besluite. Ons word oorval deur ‘n massa inligting wat soms nie goed nagevors is nie. Ons lees wêreldwyd mense se menings oor hulle blogs – en volg soms populêre ondeurdagte sienings slaafs na.  Al hierdie dinge het onder andere die ekonomiese en morele verval van die wêreld aangehelp! Ons toekomstige sukses sal afhang in hoe’n mate ons daarin gaan slaag om ons breinfunksies te beskerm en te oefen. Ons het afgeleer om selfstandig sake te oordink!

Dit  het my aan ons spiritualiteit en ons verhouding met die Here laat dink. In hoe’n mate word ons spirituele belewing en denke nie deur die tegnologiese ontploffing en geweldige inligting aan bande gelê nie? Hoeveel keer is my gebedslewe, my Bybeltye en selfs goeie gesprekke nie deur die selfoon of telefoon onderbreek nie. Ek verwonder my daaroor dat ek skuldig voel om nie my telefoon te antwoord as ek met die Here besig is of met iemand in gesprek is nie. Dit is asof die telefoon, die televisie, die internet regtig ons lewens oorneem. Natuurlik het al die inligting en tegnologie meer voordele as nadele. Maar dit kan vierkantig tussen jou en ʼn baie verrykende spirituele lewe staan. Daar is soveel menings en raad beskikbaar dat mense al hoe minder self tyd maak om te dink oor hulle verhouding met die Here en al hoe meer slawe van ander se informasie word.

Tony Buzan is ʼn voorstander van die ontdekking van jou eie potensiaal en dit kan alleen bereik word indien jy jou regterbrein-aktiwiteite verhoog. Miskien is dit ook goeie raad vir ons geestelike lewe.

Die Here het mos vir Elia gesê dat in die stilte van die wind – daar sal God gevind word!

1 Kon. 19: 11-12
“ Skielik was daar ʼn baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ʼn aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ʼn vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ʼn fluistering in die windstilte.”

Dit klink vir my na ʼn regterbrein spirituele aktiwiteit!