{ARGIEF}

ʼn Baie goeie voorbeeld in die Bybel sien ons by die gebedslewe van Hanna, Sameul se moeder. Sy was kinderloos en het vir lank tot die Here gebid. Die gebed van Hanna was baie merkwaardig en daar is ʼn paar aspekte in hierdie gebed wat my opgeval  het:

  1. Sy het in die tempel gebid. Haar man Elkana het gereeld tempel toe gegaan. Dit is hier in die huis van God waar Hanna dan ook gaan bid. Beteken dit nou ons moet altyd in die kerk of gebou bid?  Ek dink nie so nie. Na die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees is daar ‘n nuwe bedeling. Ons het nie  meer ʼn gebou nodig om tot God te bid nie. God is oral by jou teenwoordig. Jy moet dus weet- Die Here is by jou, jy kan enige plek bid. Vir Hanna was dit egter erns om in die tempel te bid omdat die tempel, die Here se teenwoordigheid gesimboliseer het. Hy was daar teenwoordig. Ons leef vandag heeltyd in God se teenwoordigheid (Coram Deo) – as ons bid en as ons nie bid nie. Die Here weet alles wat jy doen en is altyd by jou. Dit is nie net tydens gebed wat jy bewus moet wees dat jy in God se teenwoordigheid leef nie. Hy weet ook – hoe jy geleef het  voor jou gebed. ‘n Opregte gebed, word vooraf gegaan deur ‘n opregte lewe.  God is heeltyd teenwoordig.

  2. Hanna het ook die regte gebedshouding gehad: In die Bybel word verskillende gebedshouding aan ons voorgehou. Ons lees van Moses en Aaron wat op hulle aangesigte neergeval het as hulle bid; van  Dawid wat op sy bed gemediteer het; Salomo het gekniel met sy hande na die hemel; Jona het in die maag van ʼn groot vis gebid; Ezra het geween; Nehemia het gebid toe hy op die muur gestaan het om toesig te hou oor die bou van die muur; Petrus het sy knieë gebuig in die tronk. Wat het Hanna gedoen? Sy het gestaan en bid. 1 Sameul 1:13 vertel Sy het in haar hart ʼn stilgebed gebid. Was haar uiterlike houding belangrik- Nee – wat wel belangrik is dat sy gebid het met ʼn sekere hartsgesindheid wat op God ingestel gebid.  Miskien is dit die geheim. Ons harte moet op God ingestel wees. Ons bid so maklik gebede en behoeftes van ons eie hart. Ons moet dus op God ingestel wees. Dit was die kenmerkende van Hanna se gebed. Haar hart was op God gerig!!Gebed is die uiting van jou hartsbegeerte.

  3. Hanna het ook gebid vir die regte uitkoms: Met die eerste opslag het Hanna se gebed baie selfsugtig geklink. Sy is kinderloos en wil ʼn kind hê! Maar dan hoor ons dat sy hierdie kind onmiddellik vir die Here wil gee. Hanna het nie gebid vir selfsugtige begeertes nie, maar om haar kind  vir die Here te gee. Ons leer dit ook in Joh. 14 Ons kan enigiets van die Vader vra, maar dit moet om sy eer gaan. Hanna het ‘n nederige ingesteldheid gehad.

  4. Hanna het ook die Here met ʼn dankbare hart geprys vir die uitkoms van die gebed. Sy het haar afhanklikheid aan God bely en aan Hom die eer gegee. Na haar gebed was diot net God wat saak gemaak het.

Voor ons weer die Here die skuld gee as ons die ervaring het van – ” gebede teen die dak “– ondersoek dalk eers jou eie gebedslewe of eie hart-  Leef jy met ‘n opregte gesindheid en geheiligde lewe in teenwoordigheid van God? Is gebed vir jou slegs versoeke of ‘n uiting van jou verhouding met die Here? Is daar dalk  kamers van jou hart wat die Here nie mag sien nie?Soek jy die Here se wil in jou gebed?

Ja – dit is nie die Here wat ons nie hoor nie- Dit is ons wat Hom nie hoor nie!!!