{ARGIEF}

Hierdie is ’n vraag waarop ekself ’n antwoord wou hê. Met baie moed het ek die Institusie van Calvyn (1559) nader getrek. Behalwe dat ek weer besef het hoe vêr die denkwêrelde en taalgebruik (beskrywings) van 1559 en 2008 uitmekaar is, het ek in verwondering gelees hoe Calvyn oor gebed gedink het. Sy denke oor gebed word hoofsaaklik in deel 3, hoofstuk 20 van sy institusie behandel. Hy skryf egter so omvattend oor gebed, dat ek nie in die beperkte ruimte reg sal kan laat geskied oor sy nadenke nie. In hierdie skrywe waag ek dit om slegs ’n paar inleidende opmerkings – oor die noodsaaklikheid van gebed by Calvyn – te maak.

1. Die plasing van sy hoofstuk oor gebed in sy institusie, asook die opskrif van hoofstuk 20, vertel alreeds hoe Calvyn oor gebed gedink het:

Die titel van deel 3 van sy institusie is: Die manier waarop ons die genade van Christus ontvang, die voordeel wat dit vir ons inhou en die resultaat daarvan.

en

hoofstuk 20 se opskrif is : Gebed, wat die belangrikste geloofsoefening is waardeur ons daagliks God se seëninge ontvang.

Gebed was vir Calvyn een van die instrumente hoe ons God se genade ontvang. Dit is ook die belangrikste geloofsdissipline van ’n gelowige. Gebed is dus vir Calvyn nie net bloot ‘n medium om met God te praat of om slegs versoeke van voorbidding tot Hom te rig nie, maar die manier waarop God op ons lewens inspeel. Deur gebed skenk God ons sy genade en seën. Hoe minder ons dus bid – hoe minder gaan ons God se genade en seën in ons lewens raaksien!

2. Gebed is ’n intieme gesprek tussen gelowiges en God (Institusie deel 3. Hfs 20.16) maar die intimiteit word gekenmerk deur “ ingetoënheid en eerbied.” Dit, net sodat ons weerhou moet word dat ons gebede nie ontaard in ’n versoekskrif van ons eie hartsbegeertes nie. Deur gebed ontmoet die gelowige God persoonlik en ervaar dat God se beloftes meer is as woorde. Wat baie interessant is, is dat Calvyn nie wegskram van “ervaring” in gebed nie. Gebed is vir die gelowige nie net ’n paar woorde nie, maar deur gebed is die gelowige intiem en in eerbied met God besig.

3. Deur gebed ontvang ons die seën van die Here. Die mens wat in sonde geval het, is nie self in staat tot iets goeds nie. Dit is juis deur gebed dat hy die genade en goeie dinge weer ontvang. Ons sou hieruit kon aflei dat gebed vir Calvyn die kanaal is waardeur God sy seën en sy goedheid aan die gelowige gee. Deur gebed ontvang ons die rykdom wat ons Vader vir ons weggebêre het (3.20.2) Om dus nie te bid nie, is om geestelike armoede te soek.

4. Gebed is die metode hoe gelowiges se harte gevorm word. Vir Calvyn is gebed die gelowige se belangrikste geloofsdaad en deur hierdie basiese aktiwiteit van ons geloof ontvang ons God se seëninge. Hoe meer jy bid, hoe meer word jou hart vir God omvorm en vind daar by jou geestelike groei plaas. Gebed is dus noodsaaklik, want daardeur bereik ons die geestelike rykdom wat vir ons verborge was. Om nie te bid nie is vir Calvyn ondenkbaar, want gebed is die enigste hulpmiddel om God aan te roep en ons saligheid te verkry. Om nie te bid nie is ’n daad van ongehoorsaamheid en ontrouheid teenoor God.

5. ’n Mens kan slegs deur Jesus tot  God bid. Hy is ons enigste voorspraak. Deur die krag van Jesus se dood, tree Hy namens ons, ewigdurend voor God in. Jesus is die eerste voorbidder wat vir ons by God pleit. Dit is slegs d.m.v. die middelaarskap van Jesus dat ons by God kan uitkom. Dit is een rede waarom hy die eerbetoon aan sogenaamde heiliges verwerp, want in baie gevalle word die sg. heiliges as middelaar tussen God en mens aangeroep. ’n Mens wat op heiliges vertrou, ontneem Christus die eer van sy middelaarskap (3.20.18-22).

6. Deur gebed besef jy, as gelowige, dat alles wat met jou gebeur ten goede is. Dit is deur gebed dat ons besef dat God net die beste bedoelings vir ons het en dat Hy die beste een is om ons belange te behartig.

7. Die noodsaaklikheid van gebed is nie ter wille van God nie, maar ter wille van sy kinders (3.20.3).

Calvyn gee ses redes vir hierdie noodsaaklikheid van gebed :

(1) Dit is vir die gelowiges belangrik om te bid want hoe meer ons bid, hoe meer groei daar ’n brandende liefde vir God in ons harte.

(2) Gebed is noodsaaklik vir jou lewenstyl (Coram Deo) voor God. Jy sal nooit in gebed enige gedagtes koester waarvoor jy jou sal skaam voor die Here nie. Hoe meer jy dus bid, hoe meer gaan jy ingestel wees om God te behaag en om ’n daaglikse toegewyde lewe voor die Here hê. Gebed is dus die instrument waarmee jy ’n Coram Deo lewe voor die Here kan bewerk.

(3) Gebed stel jou denke in om dankbaar teenoor God te lewe. Die kind van die Here moet heeldag bewus wees dat alle seëninge van God afkomstig is. As jy nie bid nie, gaan jy daarvan vergeet.

(4) Hoe meer jy bid, hoe groter gaan die behoefte wees om oor die liefde van God na te dink. Elke keer nadat ons gebedsverhoring ervaar het, is dit ons daaropvolgende gebede wat ons nog verder en meer van God se liefde en omgee bewus maak. Gebed laat ons voordurend aan hierdie goedheid van God nadink.

(5) Gebed laat jou die seeninge wat jy van God ontvang het, meer geniet en raaksien. Gebed is noodsaaklike voorbereiding vir jou hart om gereed te wees om die seën van die Here te ontvang en om dit makliker in jou lewe raak te sien.

(6) Gebed maak dat jy die krag en vrygewigheid van God beter raaksien en ervaar. Jy word bewus daarvan dat God jou nie in die steek sal laat nie. Gebed is dus vir die kind van die Here noodsaaklik, nie om God aan sy beloftes te herinner nie, maar om ons as gelowiges te leer hoe afhanklik ons van God is.

Calvyn stel dit dat dit vir gelowiges soms lyk of God slaap. God slaap en sluimer nie. Hy wil egter hê dat sy kinders, wat andersins traag is, deur gebed in beweging kom en God soek. God het gebed daar gestel – nie vir Hom nie, maar om sy kinders na Hom toe te laat groei! Dit kom daarop neer om te sê: Iemand wat min bid, het nie net ’n eiegeregtige godsdiensbeoefening nie, maar ook ’n ondankbare een. Ps 34:16 sê “die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep(gebede)”

Slotwoord:

As ek lees wat hy alles skryf en hoe ‘n onontbeerlike deel gebed van die gelowiges se lewe is, kan ek nie tot ’n ander konklusie kom as om die volgende te dink nie: Hoe meer jy oor gebed nadink en dit beoefen, hoe ‘n ryker, voller en geseënder geestelike lewe gaan jy voor God hê. Nie omdat jy skielik meer dinge van die Here afbid nie, maar omdat jy meer bewus word van God se teenwoordigheid, liefde en sorgsaamheid jou lewe. Hoe meer jy bid, hoe meer oorheers God jou denke, lewe en hart! Hoe meer jy bid, hoe ryker sal jou lewe in teenwoordigheid van God (Coram Deo) wees. Calvyn trek ’n streep deur mense wat agiteer dat jy nooit hoef te bid nie, want God is mos altyd by jou en Hy weet wat jy nodig het. Calvyn sê: God het nie jou gebed nodig nie, maar jy het!!!!

Nou verstaan ek waarom ons Gereformeerde Vaders gebed as ’n lewenswyse gesien het. Hulle was vroom mense – nie in die sin dat hulle gedink het hulle is heiliger as ander nie, maar omdat hulle heeldag in teenwoordigheid en saam met God gewandel het!

’n Lewe sonder gebed, is ’n dooie lewe!

Quintus

(NS: ek sal op ’n ander keer Calvyn se riglyne vir gebed en sy praktiewe wenke met julle deel)