{ARGIEF}

Soms sukkel ons met  ons gebedslewe omdat ons nie regtig weet wie ons in Christus is nie . Dit is dus goed om die hele wete dat ons aan Christus behoort te herbesoek.

Ons identiteit kan niemand van ons wegneem nie. Omstandighede kan dit nie vervreem nie, so ook nie ons dwalinge nie. Ons is wat ons is in Christus. Ons identiteit gee ons verymoedigheid om te bid . Dit help ons om die Here op te soek in die dae wat ons nie goed voel oor ons geloof nie.   Ons geestelike identiteit bestaan onder andere uit die volgende:

1. Ons is nuwe mense in Christus

Dit is goed om van tyd tot tyd vir mekaar te herinner dat ons nuwe mense is en dat die ou dinge verby is (2 Kor 5:17). Ons kan so maklik vaskyk teen die wêreld waarin ons leef, die wêreld wat ons so graag wil annekseer. Die wêreld wil hê ons moet wêrelds wees – bekommerd ; gierig ; bang ; vrees en onderduims. Indien ons so leef, ontken ons wie ons eintlik in Christus is! Dan tree ons teen die wese van ons nuwe vryheid op. Christus het ons vry en nuutgemaak van al die wêreldse dinge wat ons vasbind. Dit is ons identiteit. Ons moet ons vryheid elke dag omarm en geniet! Dis wie ons is!

2. Ons is beeld van God .

Wat ons soms vergeet as oor ons identiteit nadink, is dat God ons herskep het na sy beeld. Dit is deel van ons DNA samestelling. Die mens se mees onderskeidende kenmerk is geleë in die feit dat hy na God se beeld geskape is. Die mens se geneigdheid om lief te hê het hy by God gekry. Alhoewel die mens daarna in sonde geval het, is die beeld van God slegs beskadig en nie vernietig nie. Jesus Christus het hierdie beeld weer kom herstel. Die feit dat die mens na God se beeld en na sy gelykenis geskape is, dui daarop dat die mens as God se verteenwoordiger aangestel is. Die herskepte mens in Christus is iemand met ’n uitsonderlike identiteit met regte en verantwoordelikhede. As Christen moet jy elke dag weet jy is verteenwoordiger van God op aarde . Jy moet met verantwoordelikheid en as ware ambassadeur optree in die moeilike tye waarin ons leef. Dit beteken jy moet liefhê- (waar die wêreld haat); jy moet glo, (waar die wêreld wanhoop); jy moet die goeie raaksien,( waar die wêreld na die negatiewe kyk). Jy moet lyk soos Jesus en nie soos die wêreld nie!

3. God is lief vir ons

God het jou lief!! In ons nadenke oor ons identiteit vergeet ons soms die basiese. As ons maar net elke dag weet dat God ons liefhet, sal ons ’n nederige ingesteldheid met die aanbreek van elke nuwe dag openbaar. Onthou dat God jou geskape het wie en wat jy is. Hy is lief vir jou! As jy dus na jouself kyk, moet jy nie deur die wêreld of jou eie gebrekkige oë kyk nie. Weet dat jy kosbaar is in God se oë- met al jou kenmerke en gawes. Moet nooit dat ander jou wysmaak dat jy gewoon en ontoereikend is nie. God kyk met liefde en teerheid na jou.

4. Ons is deel van ander gelowiges (mekaar)

Die leuen wat Satan aan ons opdis is, dat elkeen maar vir homself moet sorg en altyd kyk wat jy by ander kan kry. Wêreldse liefde lê gesetel in die “ek” . Wat kan “ek” by my optrede baat! Die identiteit van Christene is juis die van naasteliefde. Hoe kan ek my naaste dien en wat is tot sy /haar se voordeel. Ons moet met  onvoorwaardelike liefde optree . Ons identiteit hang ten nouste saam hoe ons teenoor ander optree.

Dit is egter ook ons saamleef met ander gelowiges wat vir ons identiteit belangrik is. God het ons nie gemaak om elkeen Hom op ons eie te dien nie. As gelowiges het ons mekaar se menswees en omgee nodig. Daarom mag ons nie hande los nie.

5. Ons is gemaak om God te eer!

Die wêreld is op hulself gerig, maar die Christen is daar vir God. Ons is gemaak vir Hom! Die kernbesigheid van gelowiges moet dus om God draai, om sy eer, lof en aanbidding. Ons begin, ons voortsetting en ons voleinding is in die naam van die Drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees!

6. Ons doel is buite onsself!

Ons is nie gemaak om onsself jammer te kry en die heeltyd na binne te kyk nie . Ons is gemaak om ‘n verskil te maak in ander en die wêreld !

Openb. 4:8 “ Heilig heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.”

Weet , Glo en Leef die identiteit wat ons in Christus ontvang het.

Mag jy elke dag jou geestelike identiteit leef!!!


Quintus Heine