{ARGIEF}

Is ‘n spesifieke gebedsplek nodig?
Ons is heeltyd besig om teologies te besin oor gebed, maar laat jou gedagtes vinnig dwaal na die praktyk van jou eie gebedslewe. Behalwe dat jy die hele tyd saam met God leef, wil die Bybel tog dat jy spesifieke tyd aan gebed afstaan. Waar het jy vandag spesifiek gaan bid? ……..
As jy ʼn lekker koffiedrinkwinkel vind, gaan jy altyd terug daarna omdat jy daar tuis en knus voel.  As jy iemand nooi vir koffie, dan kom die plek ook eerste by jou gedagtes op. Jy begin assosieer met die aangename herinneringe wat jy by die koffiewinkel meegemaak het.  As jy iewers wil gaan sit om iets te lees of vir iemand wag, dan gaan jy ook maklik na die koffiewinkel terug.  Ek dink so is dit ook met die plek waar jy gereeld met die Here praat.  Dit is goed om ʼn plek te hê van aanbidding.  As Comerford oor die groei in die gebedslewe praat, dan noem hy die spesifike “plek” van aanbidding ʼn noodsaaklikheid.
Met so plek voel jy sommer tuis by die Here of lus om met die Here te praat.   As jy leeg is en niks het om te bid nie, is dit goed om net by die plek waar jy gereeld bid te gaan sit en jouself aan die Here oor te gee.  Om ʼn spesifieke plek te hê help jou met gebedsdissipline.  Dit herinner jou aan ʼn pad wat die Here met jou stap.  Jy kan selfs ʼn spesifieke Bybel of cd of boek by die gebedsplek laat.  Jy kan dit inrig met jou gebedsimbole.  Ek weet van iemand wat ʼn gebedstoel in sy sitkamer se hoek het, waar hy elke oggend vroeg of soms laat in die aand gaan sit.  Dit is die stoel wat ‘n simbool van God se uitnodiging vir gebed word.  Dit is die stoel wat hom herinner aan ʼn vriendelike God wat altyd daar is.  Hy vertel my dat die gebedstoel hom heeltyd aan sy intieme gesprekke met God herinner.  Voorwaar ʼn gunstelingplek in sy huis!  
Vir sommiges is dit hulle studeerkamer.  Vir ander hulle tuin.  Om ʼn spesifieke plek te hê is belangrik vir jou gebedsdissipline.  Daar is nogal baie voorbeeld in die Bybel van mense wat ʼn spesifieke plek gehad het om tot God te bid.  Ek herinner my aan Daniël wat elke dag op ʼn spesifieke plek voor God op sy knieë gestaan het.  Ek roep die beeld van Sameul op. As jy ‘n goeie gewoonte het, speel dit gewoonlik op ‘n spesifieke plek af. ‘n Gereelde plek help jou ook om gereelde gebedstye te handhaaf!
Natuurlik is die Here altyd by ons teenwoordig, maar as ek die Bybel lees , dan word spesifieke gebedstye van my gevra en ‘n spesifieke plek help my beslis.
-Het jy so plek ?  ʼn Plek wat jou uitnooi om stil te word voor God. Ek dink nogal dis nodig…