{ARGIEF}

Die eerste verklaring van die stilte is dat dit ʼn heilige stilte is, in afwagting op die aankondiging van die oordeel van God. Dit is ʼn heilige oomblik. Dit is ʼn gebedsoomblik van eerbied en aanbidding. Dit is die tipe stilte waarna  Hab. 2:20 verwys  “Die Here is in sy heilige tempel; almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees”

Daar is ook ʼn tweede verklaring wat aanvullend gesien moet word. Die halfuur stilte is ʼn wagperiode, nie net om aan God eerbied te betoon nie, maar dis ʼn afwagting op die gebede van die gelowiges. JH Bavinck noem hierdie pouse, ‘n “element van vertraging”. Voordat die laaste oordeel voltrek word moet die gebede van die ware gelowiges eers in die hemel gehoor word.

Dit bly vir my een van die aangrypende gedeeltes oor gebed in die Bybel. Daar kom ʼn oomblik van stilte en afwagting waar die heelal wag op die gebed van gelowiges. Daar is min plekke waar die kosbaarheid van gebed so treffend beklemtoon word as juis hier in Openbaring 8.
Hier is ʼn bewys dat die gebede van God se kinders iets werd is. God se finale oordeel word eers “gepause” sodat die gebede van sy kinders  gehoor kan word. So baie keer wonder  ons of gebede werklik help. Ons wonder of dit nodig is dat ons bid. In hierdie gedeelte staan dit duidelik dat God se eindoordeel nie kan plaasvind sonder die gebede van gelowiges nie. Gebede van gelowiges is deel van God se raadsplan!

Die teksgedeelte vertel ook vir ons dat dit spesifiek gelowiges se gebed is waarop daar in Openb. 8 gewag word.
Openb. 8:3 lees “ ʼn Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ʼn goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebed van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer”.
Om die teks  te verstaan is Ex. 30 en Lev. 16 relevant. Die Hoëpriester moes 2 maal elke dag kole vuur van die koperbrandofferaltaar in die voorhof neem om dit op die goue altaar in die heilige afdeling van die tempel te plaas. Terwyl die volk in gebed buite wag, het die priester twee handevol fyngemaakte wierook geneem en oor die kole vuur gestrooi sodat die geure daarvan kom opstyg. Wat sou dit beteken?

Aan die een kant was dit belangrik dat die volk en die priester se gebede gereinig moes wees, daarom moes die kole vuur van die brandofferaltaar geneem word. Dit was die altaar waarop daar vir die volk se sondes offers gebring is. Vanuit die NT gelees wys dit vorentoe na die offerhande van Jesus aan die kruis. Die gebed waaroor dit hier handel is gebed van gelowiges, wie se lewe gesuiwer is deur die offerhandeling. Gelowiges is deur die bloed van Jesus gesuiwer en nuutgemaak vanweë die offer van Jesus Christus en God se genade! So dit gaan hier spesifiek oor gelowiges, kinders van die Here se gebede. Openbaring 8 praat daarom ook van gelowiges se gebed.  Die kern is dat gebed in verhouding staan met Jesus se offer vir versoening en ons offer om ons lewe te gee! Gebed is deel van ons offer wat Jesus reeds aan die kruis gedoen het! So daar is dus stilte om te wag sodat gelowiges se gebede gehoor kan word. God wag vir sy gelowige kinders se gebede voordat hy die oordeel fel. Dit is vir my ongelooflik aangrypend.

Die teks verwys ook daarna, dat ons gebede vir die Here aangenaam is. Die wierook simboliseer dat God graag na die gebed van die gelowiges wou luister. Die aangename reuk dui daarop dat dit vir God aangenaam was om na die gebede van gelowiges te luister.

Hierdie teks is vir my ʼn wonderlike en vertroostende gedeelte. God wag op die gebede van gelowiges. Die gebed van die gelowige mens is vir God kosbaar. Ek weet hieraan mag ek nie weer twyfel nie.