{ARGIEF}

Soek jy groei in jou gebedslewe?

Hoe moet my gebedslewe lyk? Dit is ʼn vraag wat dikwels gevra word. Patric Comerford (Ierse Anglikaan) het hieroor die volgende geskryf : “ Only the Holy Spirit can guide us to pray as we should. Just as a child learns to walk by walking, one can best learn to pray by praying, trusting in the help of God.”
Hy noem 16 verskillende sake hoe ons in ons gebedslewe kan groei en ontwikkel.

1.    Oordink goed jou eie benadering tot gebed: Is jou hele wese in jou gebed of is gebed slegs woorde?   Dink goed oor die intensie van elke woord wat jy bid.
2.    Bid gereeld en aanhoudend: Moenie jou gebedslewe afskeep of dit as vanselfsprekend aanvaar nie. Gebed     is ʼn geloofsdissipline.
3.   Bid volgens ʼn vaste patroon: Gebruik ʼn daaglike roetine en jou gebedsdissipline sal ontwikkel. Maak     gebruik van gebedeboeke en die Bybel en bid gereeld daaruit. Jou daaglikse gebedstye is ʼn unieke     geleentheid om die eenheid van die breë kerk te beleef en te groei. As jy die Psalms bid, sal jy nie     net self geestelike gevoed word nie, maar ook die gemeenskap van die hele kerk ervaar van almal wat     dit bid.
4.    Besef die waarde van stilte: Stil tye help jou om nuut met die Here te praat en na Hom te luister.     Gebruik gereeld stiltes in jou gebede. God moet kans hê om jou lewe te verander!
5.    Gebruik gereeld die sakrament van die nagmaal: Dit is ʼn sakrament van versoening en troos. As jy soms     skuldig voel omdat jy te min bid, sal die nagmaal jou help om in gemeenskap en dankbaarheid teenoor     God te groei.
6.     Moenie net die Bybel bestudeer nie, maar bid terwyl  jy Bybel lees
7.    Dink eenvoudig en gebruik eenvoudige woorde: Gebed is nie ʼn teologiese oefening nie.
8.    Wees bewus met wie jy praat: Praat jy met jouself of praat jy met God as Vader, Seun en Heilige Gees?
9.    Kry vir jou ʼn afgesonderde plek om te bid: Skep vir jou ʼn plek en atmosfeer waar jy weet jy jou     gedagtes sal kan fokus. Dit kan enige plek wees, waar jy weet jou aandag die minste afgetrek sal word.
10.   Let op jou gebedshouding as jy bid: Jou houding vertel iets van jou hart.
11.    Maak gebruik van gebedshulpmiddels: Die Bybel is belangrik. Dit help ook as jy kerse, kruise, ens     gebruik.
12.    Gebruik verskillende gebedstyle, dit sal jou geestelike lewe verryk. Daar is baie style soos Lectio     Divinia, meditatiewe gebed, ens.
13.    Bid as jy nie in staat is om te bid nie! Dit is veral as jy sukkel om te bid, dat jy wel moet bid.     Daarom is dit goed om gebede uit jou kop te leer om jou in moeilike tye te help.
14.    Dink daaraan om te sing as jy bid: Augustinus het gesê: ” Hulle wat sing as hulle bid, bid twee keer!”
15.    Leer en help ander om te bid: As jy in jou gebedslewe wil groei, moet jy ander leer om te bid!
16.    Hanteer jou gebedshindernisse: Baie keer begin mense met groot entoesiasme bid, net om later daarmee     op te hou as hulle sukkel om te fokus of enige ander hindernis ontwikkel. Tot 80% mense sukkel     hiermee. Byvoorbeeld: As jou aandag maklik afgetrek word, wees eerlik daaroor en probeer iets     daaromtrent doen. Moenie ophou bid nie!

Daar is aspekte van gebed waarmee almal nie noodwendig gaan saamstem nie, maar die wonder van die Christelike gebed is, dat dit universeel mense uit verskillende geloofstradisies aan mekaar bind en vir mekaar iets leer.

Mag julle geseënde Pinkster beleef

Quintus