{ARGIEF}

Met Pinkster op hande gaan my gedagtes terug na al die jare se verskillende maniere om mense aan die bid te kry. Toe ek ʼn kind was, was daar altyd die “gemeenskaps-voorbidders”, wat tydens Pinkster gebid het. As kind het jy voor die tyd geweet watter oom (min tannies het toe gebid) gaan opstaan en baie ernstig bid. Dit was gewoonlik sulke lang gebede, wat van die politiek, droogte/reën tot die dorpsake ingesluit het. Gewoonlik het die gebede so 3-5 minute geduur. Maar ons dominee was ook taktvol strategies. Hy het gereeld vooraf met oom Hans afgespreek om nie so in die begin van elke gebedsgeleentheid te bid nie, want dan ontneem hy ander die vrymoedigheid. Hy moet so aan die einde bid. Dit het Oom Hans nie afgesit nie, maar eerder belangrik laat voel – so nadat ʼn paar mense hulle kort gebede gebid het en dominee nie gou genoeg amen gesê het nie, het oom Hans sy kans aangegryp en die vloer gevat. Dan, het hy gevoel – dis tyd vir afrond en vir alles gebid wat die ander uitgelaat het – en om sommer dit wat hulle nie goed genoeg genoem het nie – weer te beklemtoon.
Ek moet sê dit was in die tagtiger jare, toe ek my bediening begin het, ook nog so. Daar was minder “oom Hanse”, maar daar was tussen al die wonderlike voorbidders ook soms die wat die “vloer “ oorgeneem het as hulle in Pinksterbidure die kans gekry het.

As predikant het ek ook soms ervaar dat as die mense vurig en entoesiasties bid –  jy maklik die gevolgtrekking maak  dat jy ‘n goeie preek gelewer het, maar weë die aand as hulle sukkel om aan bidde te kom – dan wonder jy oor jou boodskap – het dit mense se harte gemis?( Dit het ‘n ou dominee reguit vir my gesê- toe die mense die aand nie wil bid na my preek nie…) Ek het al gewonder of my Pinkster–broers, wat gedurig amen of halleluja tydens preke en gebede hoor – nie beter oor hulle preke voel na die “deurlopende terugvoering” nie.

Ek weet daar is verskeie metodes om gebede tydens Pinkster te hanteer. Sommige doen groepgebede, ander laat die mense na mekaar draai. Baie gemeentes het al baie kreatief geraak. Hoe dit ook al sy – Pinkster is ʼn tyd vir gebed, vir soeke na die Here. Al het mense deur die eeue op watter manier ook al gebid, weet ek dat daar vele opregte gebede was en dat die Here na elke opregte gebed luister.

Nou wonder ek of daar nie ʼn paar voorstelle hier gemaak kan word, wat gemeentes help om gebede tydens Pinkstertyd sinvol te maak nie. Dalk het jy voorstel.