{ARGIEF}

Skep ‘n Gebedskultuur in die gemeente!

Gemeenteleiers word dikwels oorval deur moedeloosheid, want na baie probeerslae met kursusse , preke , gaspredikers – sukkel sommige  lidmate en gemeentes steeds om gereelde gebedsaksies op die been te kry. Ek dink die oplossing is om  mense bewus te maak dat die belangrikheid van gebed in’’n  gesindheidsverandering van denke en hart geleë is. Ons moet ons energie fokus om ‘n volhoubare gebedskultuur in gemeentes te vestig. Om ‘n kultuur te vestig is iets anders as om programme aan te bied, nou en dan daaroor te preek en dink dat dit tot ‘n permanente verandering sal lei. Programme, kursusse en prediking oor gebed het defnitief ‘n plek in die strategie om ‘n gebedskultuur te vestig, maar moet deel vorm van die oofhoofse strategie, want daar is geen kitsoplossing, as jy die kultuur van ‘n gemeente wil verander nie. Hier volg slegs ‘n paar wenke, indien ‘n gemeente ‘n gebedskultuur wil vestig:

  • ‘n Gemeente moet beleef dat hulle leiers (veral ook leraars) ‘n opregte, Geesvervulde  en ryke  gebedslewe het;
  • Lidmate moet bewus wees daarvan dat hulle geestelike leiers gereeld vir hulle bid;
  • Dit moet bekend wees dat gebed in die gemeente prioriteit geniet. Indien iets ‘’n prioriteit is, sal dit heel eerste kom, as die aktiwiteite van die gemeente aangekondig word ;
  • Daar moet gereeld en baie positief oor gebed gepraat word;
  • Mense moet nie skaam gemaak word omdat hulle te min bid nie, hulle moet eerder deur vertellings van gebedsverhoring gemotiveer word. Negatiewe motivering bring maar min permanente veranderings in mense se lewe;
  • Doen baie moeite om in die erediens die aandag op gebed te vestig;
  • Dalk het sommige gemeentes te gou die weeklikse dissipline van ‘n gebedsbyeenkoms (in watter vorm ook al) afgeskaf, sonder om iets in die plek te plaas. Daar gaan altyd mense wees wat ‘n behoefte (en gawe) het om weekliks iewers saam te bid;
  • Gee gereelde erkenning aan die gebedsgeleenthede in die gemeente soos eredienste , kleingroepe, Bybelstudies, vergaderings, aksiegroepe en huisgodsdiens.
  • Stel ‘n weeklikse gemeentelike gebedsbrief op en stel dit beskikbaar aan al die groepe;
  • Gebruik die elektroniese media as herinneringsmedium;
  • Maak mense bewus dat gebed ‘n integrale deel van hulle lewe vorm – die asemhaling van hulle geestelike lewe is;
  • Herinner hulle daaraan dat ‘n geseende gebedslewe die gevolg van ‘n lewende verhouding met Jesus is;
  • ’n Volhoubare kultuur word oor jare geskep, maar jy moet iewers begin. Om ‘’n denkskuif teweeg te bring kan ’n projek of program(bv. 40 dae doelgerigte lewe of  gebedskursus )vir sommige gemeentes nuttig wees, maar die volhoubaarheid gaan afhang van goeie leierskap en harde werk. Volhoubaarheid word veral deur aktiwiteite soos die “Seisoen van Luister” bevorder, want dit is ‘’n omvattende projek met  ’n langdurige en deurlopende aanleer van nuwe lewenstyl.
  • Watter strategie julle ookal volg, sorg net dat al die geestelike leiers saamdink , saambid en saam eienaarskap vir vestiging van ‘’n gebedskultuur” aanvaar!

Die geheim om ’n gebedskultuur te vestig begin – daar waar jy self begin bid!!!!!!