{ARGIEF}

Toe ek destyds klas in pottebakkery geloop het, het die dosent elke bekertjie wat ek op die wiel gedraai het, met ‘n vislyn in die middel deurgesny. Hy wou my leer om dieselfde dikte wand te bly behou. Hoekom? wou ek weet, baie geïrriteerd toe hy my soveelste poging verwoes. “Omdat jy eendag vir mense baie van dieselfde goed moet maak.”

“Ek’s g’n fabriekswerker nie,” het ek teruggekap. “Ek wil elke item ‘n eie unieke kunswerk maak!” Hy het nog drie van my pogings gehalveer. Later jare, toe ek ‘n mooi bak gooi, wou mense dieselfde ding hê. Oor en oor. Gelukkig was daar ander wat unieke kunswerke ook wou hê.

Die kuns van leierskap is om vir diegene wat dit nodig het, dieselfde te bly aanbied totdat hulle selfvertroue en sekuriteit beleef. Én ons moet vir ander die oop ruimtes bied waarin verandering moontlik is. Eintlik skep ons net die ruimte waarin elkeen se behoefte erken word.

Die harde werklikheid van leierskap is dat jy nie mense kan begelei na waar jyself nog nie is nie. Jy moet eers self morf (Griekse morphoo). Daarom word geestelike leiers geróép deur Iemand wat reeds daar is. Paulus sê: “… laat God julle verander (metamorphousthe) deur julle denke te vernuwe…” (Rom 12:2).

Geestelike leiers wil help morf. “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte (morphothe) kry.”(Gal 4:19).

 As jy nog nie self daar is nie? Leiers met wysheid bemagtig diegene wat reeds daar is om hulle saam met die res van die span daarheen te begelei. Wie weet, dalk het God iemand in jou span geroep vir ‘n tyd soos hierdie om jou te help morf vir die volgende fase in jou bediening. Al morf jy net om nie so bedreig te voel as iemand anders reeds ‘n antwoord het nie…