{ARGIEF}

Geestelike leiers is nie een dieselfde nie. Hulle is so uiteenlopend soos Elia en Esra, Petrus en Paulus. Hulle het uiteenlopende maniere van optree en verskillende doelstellings. Hulle is wel almal geroep.

En hulle breek die reëls van die konvensionele oftewel dit wat algemene gebruik begin word het.

Geestelike leiers het een gemeenskaplike doel, naamlik om mense na God se agenda te beweeg. Die selfopgelegde reëls van algemene organisatoriese wysheid is gewoonlik nie toepaslik vir God se agenda nie. Dis dikwels juis die reëls van die organisasie wat die fokus van God en sy agenda verskuif na ‘n binnenshuise warmbroeiery en eksklusiwiteit.

Die algemene wysheid sê iemand wat finansieel sterk is en ‘n hoë posisie beklee, is iemand wat wéét. Dan kom Jesus en Hy breek die reëls. Hy is nie ryk nie, en beklee geen hoë regerings- of kerkpos nie. Hy meng met diegene wat randfigure is. Hy haal Homself kritiek op die hals as “vraat en wynsuiper, vriend van tollenaars en sondaars”(Matteus 11:19).

Jesus wys die Fariseërs en skrifgeleerdes tereg dat hulle tiendes van kruisement, anys en koljander gee, maar hulle kom die wesenlike bedoeling van die wet (hart) van God nie na nie (vgl Matteus 23:23). In ons tyd dink ek die goeie geld van ‘n geliefde lidmaat moenie die geestelike leier laat oë sluit vir die gebrek aan geestelike diepte en karakter nie.

Hoewel ‘n geestelike leier mense lief het en moet lief hê, gaan die opdrag van God wat gesê en gedoen moet word hom of haar nie altyd geliefd maak nie. Mense is te geneig om die boodskapper dood te maak en die boodskap te ignoreer.

Ek vind dat die Here vir ‘n mens wel die krag gee om sy roeping uit te leef, én ek streef daarna om my gesindheid en optrede so te hou dat ek mense nie vervreem nie. Persoonlik dink dis belangrik hóé dit gedoen word. Hierin moet ons nie emosioneel onintelligent optree nie.