{ARGIEF}

In ‘n kultuur van vertroue gebeur alles vinniger. In ‘n kultuur van wantroue is daar agterdog, moet oor alles weer gepraat word, die verlede word kort-kort afgestof, en die toekoms is onseker.

As daar een aspek van leierskap is waaraan tans hard gewerk moet word, is dit die skep van vertroue. Dis dié een aspek wat die eenheid in die kerk kan maak of breek, en die integriteitspad en pas van ons land bepaal. As ons dit kan regkry om mekaar ten volle te vertrou, ontsluit dit ongekende potensiaal!

In die besigheidswêreld het die legendariese Jack Welch, vorige CEO van General Electric, vertroue eenvoudig opgesom: “Jy weet dit as jy dit voel.”

In ‘n organisasie waar vertroue heers, lees mense nie verborge agendas in mekaar se woorde nie. Mense vertrou dat elkeen die ander se beste belange sal dien. Bestuur is meer vloeiend en leiers hoef nie oor te gaan tot buitensporige beheer-en kontrolemaatreëls nie.

Hoe bring ons so ‘n kultuur?

Leef ‘n gedeelde roeping. Wanneer roeping en waardes die eerste en laaste woord spreek, word jou eie emosies nie die springplank vir chaos nie. Spreuke 28:26: Wie op homself vertrou, is ’n dwaas; wie hom deur wysheid (lees roeping) laat lei, is veilig.

Besluit om te vertrou. Besluit om te alle tye die beste van die ander persoon te glo. Mense word wat jy van hulle verwag. Mense  moet weet jy sal hulle rug toemaak.

As jy wil vermy, praat. Soms voel jy aan alles is nie pluis nie, maar jy het net nie die energie om dit te hanteer nie. Fout! Dit haal jou gewoonlik later soos ‘n tornado in. As jy daardie “gevoel” kry, praat. “Verbeel ek my, maar dit voel…?”

Praat reguit. Vra vir die feite. Sê hoe jy dit verwag. Sit dinge in perspektief. Vra om verskoning indien nodig. Praat die waarheid.

Luister. Probeer werklik verstaan, voordat jy probeer diagnoseer of voorskryf.

Bly respekvol. Moenie toelaat dat die gevoel van wantroue jou respek vir die ander persoon laat verloor nie. Wantroue is nie ‘n lisensie om in iemand se karakter te klim nie.

Lees meer