{ARGIEF}

Ek het die afgelope tyd baie gewonder wat is aan die skuif in ons benadering tot leierskap in die plaaslike gemeente. Hoe lyk leierskap in die plaaslike gemeente? Hoe lyk leierskap anders vandat ons kerkrade verklein?

Ons kerk se storie loop ietwat anders as dié van Jesus en sy dissipels. Sonder dat ons dit sekerlik bedoel het, het ons organisasies se strukture van leierskap begin naloop. Dit kan ook nie veel anders nie, want die tipe leierskap wat gewillig was, is diegene wat in die ander organisasies ook die leiding geneem het. Omdat kerkleiers verantwoordelik voel vir elkeen wat by hulle geloofsgemeenskap betrokke raak, is strukture ontwikkel wat mense op groot skaal kan betrokke hou. Deel hiervan is natuurlik ook om die inkomste te bly waarborg wat groot geboue en salarisse en projekte in stand kan hou. Dié soort leierskap is nie noodwendig sleg of onvanpas nie, maar êrens kan ons die hart van leierskap soos Jesus dit bedoel het, verloor.

Daarom wil ek dié stelling maak: Leierskap soos Jesus dit bedoel het, IS DISSIPELSKAP. Ek reken ons moet meer tyd en energie daarin belê om gelowiges te leer om weer dissipelskap op te neem. Ons het wonderlike lidmate gevorm, maar swak gevaar om dissipelskap te leer. Die krake wys al hoe meer, maar gelukkig neem die hunkering na hierdie primêre leierskap al hoe meer toe. Kom ons neem Jesus se opdrag weer radikaal ernstig op: “Gaan dan heen en maak die mense my dissipels…”

Enkele gedagtes:

1. Leierskap is Jesus-gesentreerd. Die andersheid van geestelike leierskap lê in die Een wat ons roep om Sy dissipels te wees. Hoe meer ons gelowiges kan help om IN JESUS te bly, hoe meer gaan hulle God-momente raaksien en aangryp. Dit haal die druk af van die predikant as “performer” wat mense trek, en help elkeen verstaan ons is saam in die beweging om die Koninkryk te laat kom.

2. Leierskap is INVLOED. Elkeen wat ‘n dissipel is, oefen invloed uit. Dis leierskap. Ons sal mense minder moet laat stres oor of hulle leiers is al dan nie, en meer daarvan maak om hulle te leer hulle ís dissipels. Daarom is karakter en integriteit so belangrik. Ons sal ons lidmate baie help as hulle leer om hulle geestelike lewe se krag te ontdek deur meer te wéés by die Een wat hulle bedien met genade en waarheid. En ja, ek hoef dit seker nie te sê nie – dit begin by jouself en jou verhouding en tyd saam met Jesus.

3. Leierskap is roeping. Hoe meer ons gelowiges laat onthou WAAROM, des te meer gaan ons die vrug beleef van begeesterde dissipels wat ‘n van-binne-geïnspireerde doel vir hulle lewe ontdek. Ons is moeg om mense aan te vuur, terwyl die krag van die Heilige Gees self beskikbaar is. Wanneer ons ons roeping verloor, val ons terug op leierskapsgewoontes wat nie strook met wat Jesus ons leer nie – soos om magspeletjies te speel.

4. Leierskap is SPANWERK. Ons leer by Jesus dat Hy met ‘n span mense werk en in hulle lewens inbou. Ons kan nie met almal werk nie. Ons het eenvoudig nie daardie kapasiteit nie. Het jy al gedink watter positiewe effek dit op volhoubare bediening gaan hê as jy 80% van jou tyd bestee aan dié 20% mense van die gemeente wat reeds beGEESterd is? Jy is nie die een wat die span bymekaarmaak nie. Jesus het hulle rééds gekies – gaan hoor by Hom wie is in.

Dis vakansietyd. Ek hoop jy gaan hierdie tyd kan gebruik om weer net dissipel te wees. Leier sonder titel. Soek weer daardie hunkering in jou siel op om een met Jesus te wees. Maak jou lêtyd ‘n indommeling in die belewenis van Jesus se teenwoordigheid. Maak jou sit en staar na niks tyd ‘n dankie-tyd om net saam met Hom te wees. Maak jou gluur in die vuur oomblikke passievolle herinneringtyd aan die tye toe jy sy heilige Teenwoordigheid so intens beleef het.

Mag jy in hierdie Christustyd beleef hoekom jy Jesus lief het. En dissipels wil maak.