{ARGIEF}

Ek wonder al ‘n paar jaar hoekom kleingroepe oftewel omgeegroepe nie in ons gemeente so lekker van die grond kom nie. Na die bekende 40-dae storie van Rick Warren se doelgerigte lewe, was die groepe vir daardie tydperk meer, maar krimp toe weer drasties. Ek troos myself soos Rick en die ander dat daar darem meer is as waarmee ons begin het.

Ons is deur die fase van die struktuurgedrewe model van “Die Selgemeente” wat ons daar by George geleer het, en ek moet bieg ek is nie so struktuurgedrewe nie. Toe volg die fase wat ons by die Jetro-model en die G-wat-ook-al geleer het, wat baie mooi op papier klink, maar my nog meer laat besef hoe vrot ek organisatories met hierdie goed is. Die goed laat net die skuldgevoelens vermeerder. Daarna het ons begin fokus op die 40-dae veldtog van Rick Warren se doelgerigte lewe. Vir daardie tyd was almal wonderlik doelgerig, om daarna aan te gaan met die res van hulle lewe. Vir daardie tydperk was die groepe baie meer, maar krimp toe weer drasties. Ek troos myself soos Rick en die ander dat daar darem meer is as waarmee ons begin het.

Regdeur het ons agtergekom dat vermenigvuldiging nie by ons mense so maklik is nie. Hulle hou nie van afskeid neem van mekaar nie. Uit elke drie groepe wat vermenigvuldig, bly een of hoogstens twee oor. Ook is die dilemme met Rick se “gasheer” gedagte dat niemand regtig leierskap neem waaruit dissipels kan ontwikkel nie. Niemand sê “Volg my” nie,  en ons leer al hoe meer by die mense wat die DVD’s maak, maar neem steeds nie eie verantwoordelikheid nie. Omdat ons as ‘n bestaande gemeente transformeer, is ons ook nie soos gemeentes waar mense van dag een af moet inskakel by kleingroepe nie. Ons is eintlik besig om die hele kultuur van ons gemeentewees te verander. En ek lees op die internet dat die bekende transformasiekundige prof John Kotter in sy onlangse boek A Sense of Urgency beweer 70% van die organisasies slaag nie met verandering nie. Wat ‘n soberende gedagte! Die goeie nuus is dat 10% wel slaag, en dan met verrassend goeie resultate. Blykbaar is dit die groep wat voortdurend sy eerste beginsel bly toepas, en dis om voortdurend ‘n besef van dringendheid in die hele organisasie te handhaaf.

PARADIGMASKUIF. Verlede jaar het ek begin om anders te begin dink oor ons kleingroepe. Ek dink steeds dis een van die beste maniere om saam te groei as dissipels, maar ek het begin dink aan die kleingroep as ‘n sturende groep. En gemotiveer dat elkeen van ons kleingroepe moet begin bid en vra dat een van hulle as ‘n “sendeling” afvaardig moet word om ‘n nuwe groep te begin. Wel, dit het in vanuit van ons groepe begin!

Ek dink nie dis net een metode of verstaan wat help nie, maar ‘n verskeidenheid. Vandag het ek nog ‘n tree verder geskuif. Dis om die kleingroepe as missionêre gemeenskappe te verstaan.

Omdat ons die gemeente in ‘n nuwe fase lei, het ek gewonder of daar nog mense soos ek is wat wonder oor die kleingroepe. Toe google ek. In Februarie skryf Geoff Surratt Why small groups don’t work. Sy argument in kort is dat baie beweer dit moet werk, maar sukkel daarmee WANT ONS MIS DIE PUNT. Die punt van kleingroepe is nie om relasioneel te wees, of dissipels te maak, of diens te lewer nie, dis alles ‘n effek daarvan. DIE PUNT IS:

The point of small groups should be to rally around a cause, a purpose, a mission and to change the world. Our normal expectations for small groups is tragically anemic. Your small group shouldn’t just change you, or change your friends; your small group should rock the world. “They have turned the world upside down, and now they have come to our town.”

Daarom dink ek: MISSIONÊRE KLEINGROEPE… Ons kleingroepe is missionêre gemeenskappe BINNE die gemeenskap wat lankal nie meer aan die kerk behoort nie. ONS GEMEENSKAPPE IS ONS SENDINGVELD. Lokaal. Rondom ons.

Hoe verander dit jou persepsie? En waarmee kan jy leiers help? Laat weet asb.