{ARGIEF}

Terwyl ons in Europa ry, het die busbestuurder telkens voor ons vertrek vir my gevra wat ons volgende bestemming is (ek was die toerleier). Nadat hy dit in sy GPS ingesleutel het, het ‘n vroulike stem hom gereeld in Duits herinner wat hy volgende moes doen om die regte roete te vind.

Nico Nel, bekende grapjas, vertel ‘n tydjie gelede dat hy baie laat was vir ‘n afspraak, want toe hy moes afdraai, het die GPS-vrou aan die  hoes gegaan… en hulle ry toe die hele afdraai mis…

Die ongemak waarmee leierskap moet saamleef, is dat ons nie altyd heeltemal seker is van die roete nie. Ons het ‘n moontlike prentjie of idee of plan waarmee ons op pad is, maar die roete daarheen is uniek vir jou situasie. Dis hoekom leierskap nodig is, anders het almal vanself daarheen gegaan!

Wat wel seker is en bepaal kan word, en dis waarmee die GPS eintlik werk, is waar jy nou is. Net soos die GPS sekere koördinate gebruik om te bepaal waar jy tans is, is dit nodig dat jy en jou leierspan moet seker maak waar julle tans is. Moet asseblief nie verval in die verlamming van wag vir te veel detail nie. “Analysis-paralysis” noem die mense hierdie toestand. Leierskap is nie om te bly in die detail van waar jy is nie, maar te wéét waar jy is.

Max de Pree, invloedryke besigheidsleier, sê: “The first responsibility of a leader is to define reality.” Dis om eerlik die situasie waarin julle is in die oë te kyk, sonder om mekaar te ontmoedig, blameer, of te verontskuldig. Sê dit soos dit is. Natuurlik is dit ongemaklik, maar werk daardeur. Die sleutelwoorde is: Dis waar ons IN HIERDIE FASE is. Om vir mense aan te dui dis slegs ‘n fase, help om te verstaan leierskap is ‘n proses en reis.

Geestelike leiers kyk nie net na die realiteit van die omgewing nie. Hulle kyk dieper. Hulle kyk na hulle diepste verhoudings. Waar is ons nou in ons gesprek en verhouding met God? Vir ons opsoekende God is dit uiters belangrik (vgl Gen 3:9). Dit herinner my aan die familie wat ‘n wilde 5-jarige het, en sy ouers is bang dat hy per ongeluk sy nuwe bababoetie sal seermaak. Een aand loer hulle by die kamer in om seker te maak baba is veilig, net om te hoor hoe hulle oudste enetjie vir sy bababoetie vra: “Sal jy asseblief vir my vertel hoe God regtig is? Ek dink ek begin vergeet.”

MOONTLIKE AKSIE: Nooi die gemeente en belanghebbendes om saam te bid en te dink waar julle nou is. Skep ‘n “muur” waarteen mense papiertjies kan opplak waar hulle dink julle nou is.

WENK: Begin ‘n Facebook-bladsy waarop mense foto’s kan plaas van wat hulle waarneem waar julle nou is.