{ARGIEF}

Moderne Westerse Christene leef vandag anders as hul broers en susters van ‘n paar geslagte gelede. Hul dink anders, glo in baie opsigte anders en doen ook anders. Een mening wat al meer en meer na vore tree, is dat moderne Christene in veral Westerse samelewings, baie gemaksugtig en materialisties geword het. Daaroor sou ons lank kon praat.
In die proses het daar egter ook meer met ons gebeur. Twee woorde wat uit die omgangstaal van gelowiges verdwyn het, is die woorde “heiligheid” en “gesag”.
Oor en oor kom die opdrag na ons om heilig te lewe omdat God heilig is. Ons totale leefstyl moet heilig wees (1Pet 1:15). Elke duimbreedte van ons lewe moet in die teken van gehoorsaamheid en onderdanigheid aan God se wil staan. In `n wêreld, waar die klem val op individualisme en menseregte, word hierdie opdrag vir gewone mense al moeiliker.
Die tweede woordjie “gesag” het ook om `n verskeidenheid van redes uit ons woordeskat verdwyn. Tydens `n besoek aan Indonisië, so ‘n paar jaar gelede, het ek agtergekom dat daardie (eerste geslag!) Christene, wat as minderheid in n reuse Moslemland woon, hulself voortdurend daaraan herinner dat hulle met `n gesag, wat direk van God kom, leef en getuig.
Christene het al baie foute gemaak en word steeds geroep tot nederigheid en dienslewering. Vir mag moet ons baie versigtig wees, maar dit beteken nie dat ons eenkant in `n hoekie moet gaan sit en met minderwaardigheid terugdeins as daar skeef na ons gekyk word nie. Ons leef ook in n geestelike dimensie, maar ‘n dimensie waar ons met die nabyheid van God, die gesag van God, ja, selfs met die “leerowerste van God” (Sien die verhaal van Josua) in hierdie wêreld woon en werk. Laat ons dit met vrymoedigheid, maar ook met `n gehoorsame, heilige lewenswandel doen.