{ARGIEF}

Gister moes ek een van die heel moeilikste begrafnisse van my lewe hanteer. Die begrafnis van Herman Pretorius, wat daarvan verdink word dat hy `n sake-vennoot eers geskiet het en toe homself. Daar word ook bespiegel dat miljoene rande in `n beleggingskema wat deur hom bedryf is, weg is en dat beleggers baie seer gaan kry. In vandag se Die Burger word enkele sinne uit die diens aangehaal. Ek het begrip daarvoor.
Ter wille van die groter perspektief volg wat eintlik in 80% van die diens gesê is.
Dat die kerk `n veilige ruimte vir stukkende mense wil wees.
Dat die kerk en die Evangelie `n plek vir 2e kanse is en dat miskien nie vandag nie, maar dat ons weer sal lag. Dat alles vir die wat agterbly nie verby hoef te wees nie. Christus het mos opgestaan!
Dat Christus `n andersoortige vrede nalaat – anders as die wêreld… (Joh 14:27)
Dat ons almal tot stilstand geruk word om ernstig na te dink oor Christus en waarmee ons werklik besig is. Oor eerlikheid en integriteit en dat halwe waarhede mense letterlik kan doodmaak.
Ek het na die tyd vir iemand gesê dat die Evangelie van Jesus Christus baie keer vir mense vervelig is, maar dat dit in oomblikke wanneer als vir mense so seer en stukkend is en lyk, dit die een ding is waarop ons kan terugval. Dan word die moeilikste dinge eintlik verstommend eenvoudig en maklik.
Vrede vir almal wat in die dae baie stukkend en seer is.