{ARGIEF}

In `n donker wêreld is daar `n lig wat kinders kan aansteek wat grootmense soms lank reeds verloor het. Vandag vier ons Jeugdag en onwillekeurig dink ek aan Hector Pieterson, maar in ons land met sy bewoë geskiedenis ook aan Racheltjie de Beer,  Nkosi Johnson en Japie Greyling. Sommige lesers mag dalk nie al die name ken nie, maar glo my, hulle verteenwoordig eintlik die duisende anonieme kinderhelde van ons land. Jeugdae word regoor die wêreld gevier. Angola, China, Indië, Singapoer, Turkye en talle ander lande het elkeen hul eie datum waarop Jeugdag gevier word. Die VN se internasionale Jeugdag val op 12 Augustus.  Maar hoe wel is dit met ons eie kinders en jongmense op hierdie dag?
Laat ek dit eers onomwonde sê: Ek is mal oor jongmense en kinders. Ons het hul hoop, energie en passie in dié dae baie nodig. Hulle verteenwoordig die helfte van ons bevolking, maar eintlik ons hele toekoms! Tog is daar op hierdie dag ook `n mismoedige kant aan my. Nou die aand se program op Carte Blanche doem weer voor my op: Kinders wat verkoop en verhuur word, sodat daar met hulle op straat gebedel kan word. Ja, sommige se toontjies is afgebrand sodat die simpatie wat gewek word, nog groter is en die “inkomste” vir die dag nog `n paar rand meer is. Daar is iets fundamenteel met ons samelewing verkeerd, het ek by myself gedink. Ek dink verder aan die duisende kinders wat moed opgegee het en nie meer glo dat hulle nog enige kans op `n toekoms het nie. Ek dink aan die duisende wat ouerloos en sorgloos op die strate van ons land leef. Ek dink aan die sogenaamde “lost generation”.
Ek dink aan die ryk kinders wat, om redes van hul eie, emosioneel flenters is en `n stukkie salwing in die donker wêreld van dwelms en alkoholvergrype gaan soek het. Ek dink aan die duisende wat met VIGS of FAS gebore word en gebroke die lewe begin. Ek dink aan die duisende kinders in ons land  wat voor die ouderdom van sewe jaar reeds kognitief gestremd is, gewoon weens ondervoeding. So baie van die programme wat begin is om die saak aan te spreek, is gestaak weens korrupsie.
Maar gelukkig is daar ook `n ander kant. Die afgelope paar jaar was ek `n paar keer by Die Burger se Jeugleierskonferensie betrokke. Wat `n inspirasie! Wat `n oomblik van energie en hoop. Ek wens meer mense kon dit beleef. Ek hoor weer vandag hierdie jong leiers se uitgesproke getuienisse oor hul geloof, hoop en drome. Ek sien die jong, opkomende sakelui, uit letterlik alle bevolkingsgroepe, wat die afgelope tyd voor my sit en praat het oor leierskap, hul bekommernis oor die aard van leierskap in die land en wat gedoen kan word om dit reg te maak.  Daar is veel meer voorbeelde.
Dalk moet hierdie dag vir ons almal `n biddag, dankdag en dinkdag wees… Dalk moet ons hierdie dag gebruik om veel dieper te dink oor wat Jesus Christus bedoel het toe Hy gesê het: “Laat die kindertjies na my toe kom.” Dalk verstaan ons nog heeltemal te min van sy hart. Dalk moet almal wat kan, `n verbintenis maak om, naas jou eie kinders, vir net nog een of twee kinders `n toekoms te help skep.
Soms moet ons bome plant, maar soms moet ons kinders help. Dit weerklink helder in Christus se stem.