{ARGIEF}

Twee onlangse opmerkings van vroue het my kop aan die dink gesit. Albei is kennisse, wie se aanvoeling ek nogal vertrou. Die eerste opmerking was spesifiek na aanleiding van ons president se doen en late die afgelope tyd. “Jacob Zuma”, sê sy, “laat my as vrou geweldig bang, broos en onseker voel.” Die tweede opmerking was: “Ek dink ons het ons innerlike kompas verloor. Dit gaan soos `n woer-woer tekere, omdat daar net te veel ‘magnetiese’ kragte daarop inwerk.” Hierdie twee opmerkings het `n hele bondel vrae by my wakker gemaak.
Wat is aan die gang wanneer Tiger Woods, ander sportsterre en bekendes, die voorblaaie van ons koerante met eentonige reëlmaat versier, maar dan nie om die eintlike rede waarvoor hulle bekend geword het nie?
Wat doen jy wanneer die bewering gemaak word dat daar op hierdie oomblik waarskynlik meer mense as gevolg van mensehandel in slawerny is, as toe slawehandel dekades gelede op `n hoogtepunt was?  Die verskil is net dat die meeste vroue en kinders wat slagoffers hiervan is, nie  in fabrieke of op plase gaan werk nie. Ons weet wat gebeur.
Hoe dink ons oor die VIGS-pandemie wat steeds soos `n somerveldbrand in die Kaapse fynbos maai? Ek wonder of ons nog genoeg daaroor wonder en bereid is om eerlik genoeg daaroor te wees.
Ek wonder wat die effek van die sestien dae-veldtog teen geweld teen vroue was. Wat het dit regtig aan die verkragtingsyfers in ons land gedoen? Of het ons net weer “gewoond” geraak daaraan? Ek twyfel of die slagoffers het. Hierdie is kwessies waarvan die breë publiek weet. Dit dra egter ook vir my `n persoonlike gesig.
Ek dink terug aan die dae toe ek studenteleraar op Stellenbosch was en die jong meisie wat twee dae lank in die pastorie kom wegkruip het, kombers oor die kop, na `n “date-rape”. Dis al jare gelede, maar sekerlik was en is sy nie die enigste nie. Ek dink aan die mansstudent wat voor my sit en huil het omdat hy uitgevind het dat die meisie vir wie hy so lief is, voor hul verhouding seksueel aktief was. Dit terwyl hy sy eie seksuele aktiwiteite teenoor my bely het. Dubbele standaarde? Sekerlik, maar steeds seer.
Ek dink letterlik terug aan die kinders wat oor jare in my studeerkamer snikkend sit en huil het oor die buite-egtelike ontrou van `n ouer. Ek hoor van al meer tienermeisies wat dink hulle het `n ontsteekte buik en dan agterkom hulle dra eintlik `n  sepsis, wat die gevolg is van roekelose seks. Wat sê ek vir die goeie, getroue en lojale ma nadat sy hoor dat die groeisels en letsels aan haar vrouedele eintlik die gevolg is van haar “fatsoenlike” man se rondslaap en `n “nuwe” virus wat die rondte doen?
Ek wonder diep oor dit alles. Ek wonder oor wat my oupa sou gesê het. Hy sou waarskynlik gesê het: “Laat staan julle gestry oor Bybeltekste en gebruik julle gesonde verstand! So kan dit nie aangaan nie.” En ek onthou die woorde van my pa die dag nadat ek as kind my been totaal verbrand het na `n gespeel met bensien. “Nou verstaan jy waarom ek gewaarsku het. Ek wil nie hê jy moet seerkry nie, my kind. Ek het jou baie lief.”
Ek dink God sê dit nog steeds.