{ARGIEF}

Nina-skuilnaam- Steyn se artikel in vandag se BY oor haar wegloop uit die NG Kerk is die soveelste artikel wat die afgelope tyd in die pers oor die NG Kerk se dalende getalle verskyn het. Vergeet ‘n oomblik die joernalis se vergelyking tussen die kerk en Coke en Fanta. Op dees aarde! Ek dink nie dit verdien eers enige kommentaar nie. Tog `n paar kantaantekeninge:
•  My probleem is dat daar ongenuanseerd met al die getalle omgegaan word. Gewoon op grond van demografiese gegewens moet die NG Kerk krimp. My vraag is egter hoeveel lidmate nog op die boeke is en ook “weg” is? Aan die ander kant wil ek weet wat die werklike dinamika in gemeentes is? Die kerk gaan nie in die eerste plek oor getalle nie, maar oor geloofsgroei en dissipelskap. Hoe lyk die situasie? Wil die pers nie n slag `n artikel doen oor wat die afgelope jare met die kerk se welsynsdienste gebeur het nie. Neem BADISA maar as `n enkele voorbeeld. Weet hulle regtig wat byvoorbeeld rondom die xenofobiese asanvalle gedoen is? Terselfdertyd sou dit onbillik wees om na dalende syfers van gedrukte media wêreldwyd allleen te kyk en nie die rol van die internet te verdiskonteer nie. Ag nee wat, help ons tog `n bietjie met meer genuanseerde joernalistiek!
• Waarom die alewige geskryf oor enigiets wat ruik dat dit `n negatiewe refleksie op die NG Kerk kan werp? En daar is veel meer voorbeelde om te noem. Gepraat van Coke. Daar word vertel dat Coke self ‘n aantal jare gelede in die VSA `n advertensieveldtog geloods het wat min of meer soos volg gelui het: Pepsi sê hulle het nie soveel gas soos Coke nie. Die Cola sê hulle is goedkoper as Coke en daai een sê kinders hou meer van hulle as van Coke …. Darem snaaks dat almal steeds oor Coke bly praat en hulle met Coke vergelyk. Hoop die joernaliste dat al die geskryf oor die NG Kerk dalk iets aan hulle sirkulasiesyfers sal doen?
• Maar kom ons kyk eerlik na onsself. Daar is `n probleem en een waaroor koerante nie sal wil skryf nie, omdat dit nie polities-korrek in die dae is nie. Die NGK groei nie omdat die NG kerk nie meer evangeliseer nie! Noem dit sendingwerk of wat ook al. As jy na die dalende getal dooplidmate kyk – witmense raak minder en kry minder kinders – en jy groei nie deur nuwe bekeerlinge nie, moet jy op die ou end mos krimp. Jou IK hoef nie baie hoog te wees om die som te maak nie. Hier lê die werklike uitdaging en een wat mense nie alleen kan hanteer nie, maar alleen as jy biddend en onder leiding van die Heilige Gees jou werk as kerk voortsit.