{ARGIEF}

Leiers wat kan fokus op wat God nou doen: die uitdaging van ver-antwoord-elike leierskap

‘n Week gelede het ek een van die mees merkwaardige aande saam met gemeenteleiers beleef. In kort: die proses nou al byna 18 maande aan die gang, die leiers het met toewyding gewerk in die proses maar die vordering was min, meestal omdat hulle onderling goed moes uitsorteer.

Toe ek daar aankom is ek vriendelik ontvang, maar daar was nie groot enoesiasme en energie nie. Soos altyd het sommige gewaarsku dat die proses nou iets sal moet produseer, dit gaan nou eenvoudig te lank aan sonder enige resultate, natuurlik met so ‘n skewe kyk na my as fasiliteerder.

Ons begin die naweek met die vraag:  Wat het God gedoen sedert ons laas bymekaar was? In die gesprek  begin die gemoed van die groep te swaai – na 20min in die gesprek sê iemand – die swaai het met ons gebeur, ons het dit net nie opgemerk nie! Die res van die naweek het ons binne hierdie bewussyn deurgebring – God is besig met ons en ons het probeer reageer – of antwoord op wat Hy aan die doen is. Ek het hieroor in Luisterryke vergaderings (BM 2007) iets geskryf en ek het weer gaan kyk of dit na verlede naweek nog sin maak – wel, so ietwat, behalwe dat ek nou nie net teoreties daaror skryf nie maar vanuit my ervaring met hierdie groep leiers.

Om te fokus op wat God nou doen begin by wat H Richard Niebuhr noem ‘n ver-antwoord-delike lewe. Hy onderskei tussen 1) gehoorsaam te wees aan wette, 2) ‘n doelgerigte lewe en 3) ‘n verantwoordelike lewe in The Responsible Self, pp47-68. Ek som dit kortliks op:

  • Vir baie gemeenteleiers is leierskap die nakom van wette of reëls, want hulle wil graag hê die gemeente moet gehoorsaam wees aan die Here se wil.  Op die oog af klink dit reg, maar as ‘n mens mooi daaroor nadink is daar baie verkeerd met so ‘n benadering. Die gevaar is dat die reëls of wette God se lewende teenwoordigheid vervang.  Wanneer reëls die vertrekpunt is, word ons rigied en meganies- mooi woorde vir geestelik lui- en het dit tot gevolg dat ons nie fokus op wat God nou aan die doen is nie. Ek onthou dat ek jare gelede met Ferdinand Deist ‘n gesprek gehad het oor Jeremia- ek wou ‘n pinkster daaroor hou. Sy samevatting oor Jeremia was min of meer: As jy met die lewende God wil saamleef is jy in vir groot verassings. Reels hou nie van verassings nie.
  • ‘n Meer gewilde motief die afgelope aantal dekades is om doelgerig te wees. Met die vertrekpunt werk dit meestal so: Ons bepaal wat God se doel is, en poog dan om so effektief as moontlik hierdie doel van God na te strewe. die veronderstelling is dat ons mos weet dat Hy het ‘n plan het(Jer 29:11 of Lukas 10:1) en dat ons hierdie plan van Hom so suksesvol en effektief as moontlik moet uitvoer. Hierdie soort denke pas netjies in by hoe ons besighede bestuur en die algemene lewensgevoel van mense wat sukses en doelgerigtheid aanhang as die ideaal in die lewe. Ons is dan geneig om al die klem te laat val op die aktiwiteit en besigheid van die gemeente en kan in die proses met baie goeie bedoelings voeling met God verloor. Die doel word dan Gód in die gemeente! Die probleem hiermee is dat ons soos die dissipels en die eerste gemeentes nie so maklik ‘n greep ontwikkel op God se plan nie, en baie maklik ons planne met dié van God kan verwar. Hierdie is byna ‘n naïewe positiewe ingesteldheid op die lewe wat so maklik vir die versoeking van, groter is beter, kan val.
  • Niebuhr dink ons moet eerder ‘n lewensstyl van ver-antwoord-elikheid navolg as leiers in die gemeente. Ons lewe is ‘n antwoord op God se aksie. Ons wag op Hom en ontvang dan van Hom as die bron van liefde en genade koers en rigting vir die pad vorentoe.  Die eerste vraag is daarom nie wat ons moet doen nie, maar wat God doen en dán, hoe kan ons daarop antwoord.
Matteus 6:33: “Gee jou volle aandag aan wat God nou besig is om te doen …” (Vertaling van The Message).

Nou dit is hierdie 3de benadering wat ons Vrydag-aand be-oefen het- en ons gehelp het om te verstaan, God het die swaai reeds gebring, ons moet dit net ontvang uit sy hand en met ons lewens daarom antwoord.  Ek dink die hoe hiervan werk min of meer so:

Hoe ons fokus op wat God nou doen?

1.      Leiers wat fokus op  die  moontlikhede, die kairos, wat God in ons tyd saam vir ons oopgemaak het. Die klem behoort hier te val op die nóú – in hiérdie konteks.  Ek onthou ‘n gesprek so tien jaar gelede waar ‘n kollega gevra het ons moet almal nadink oor die rol wat ons speel om versoening in die dorp te bevorder. ‘n Uur later was ons nog steeds besig om te definieer wat ons presies onder versoening verstaan-sic! Daar is tye wat die Here vir ons ‘n geleentheid oopbreek, waar ons eenvoudig moet reageer met ver-antwoord-elike lewens wat bereid dis om die geleentheid wat God nou vir ons gee te benut. Tye waarin ons gehoorsaamheid van ons vra om risiko’s te loop sonder dat ons enige waarborge het. Ek sou se dit is die ingesteldheid van mense wat verwag dat die Gees ons elke dag lei. Omdat die Gees deur die Woord lei- is my ervaring dat ons hierdie kairos-oomblikke beter raaksien as ons Wandel in die Woord.

2.      Leiers wat  bewus is van die bewegings van die Gees

Daar is twee bewegings van die gees: na God toe en weg van God af. Altwee bewegings kan deur God gebruik word. In bewegings na God toe, wees bly en dankbaar, doen langtermyn beplanning en begin nuwe bedieninge as God jou in daardie rigting roep.

John Ackerman

Die verhaal van Jona help ons om te verstaan wat met “bewegings nader aan God en verder van God af” bedoel word. Die wonder van Jona se verhaal is dat God met Jona besig was terwyl hy weggevlug het van die roeping van die Here én toe hy gehoorsaam was daarin om die oordeelsboodskap aan Ninevé oor te dra.  Die Here het as’t ware sy ongehoorsaamheid ingesluit in sy plan om Jona uiteindelik in Ninevé te kry. En in terme van die Luister seisone en luistersiklus (stasie 5), is dit interessant om te let daarop dat dit die “buitestaanders” op die skip was, wat hom gehelp het om God se stem weer te hoor (Jona 1:8 vv).

Dis daarom baie belangrik dat ons die storie van ons konteks getrou en vertel en diep luister na mekaar. Só begin die prentjie duideliker word van wat God besig is om te doen met ons lewens, en kan ons met groter ywer daarmee  saamwerk.

n bewegings wat ons ervaar “weg van God af” is, moet ons nie moedeloos word nie, maar onthou, God is besig om dinge te verander. Daar is tye wat ons dapper genoeg sal moet wees om te sê dat die Here ‘n nuwe weg met ons wil inslaan en dat ons nie te gou met aksiebeplanning kan voortgaan nie, omdat ons doodgewoon nie weet nie en eers weer en weer wil luister. Byna soos mense wat eers ‘n nuwe taal moet aanleer, moet ons aangaan met die proses van luister. Soos wat die Gees Christus eers in die woestyn gestuur het, mag ‘n ver-antwoord-elike lewe soms wees om eers ‘n “sabbat” of ‘n tyd van rus en besinning aan te kondig.

Dit vra ‘n profetiese ingesteldheid om te erken dat die Here ‘n nuwe koers met ons wil inslaan. Dit is hoekom dit so belangrik is om te fokus op wat God nou doen. Nie alles wat ons in die naam van die Here doen is sy wil nie.  Nie elke keer wat ons bymekaar om die wil van die Here te onderskei ontstaan daar ‘n nuwe insig nie. Daar is kere wat die Gees ons terughou van aksie, wat ons moet wag, wat ons moet omdraai, wat ons ons foute moet erken. Dit is vir ons met ‘n westerse ingesteldheid wat onmiddellike resultate soek, baie moeilik om halt te roep en te wag op die Here.

3.      Leiers wat leer om te fokus.

Dit is bekend dat gemeentes ly aan wat in die organisasie-teorie bekend staan aan “mission drift”.  Daar is soveel goeie dinge om te doen dat ons energie versprei word tussen ‘n duisend en een dinge. Dit maak ons te besig en op die ou end moeg.  “Mission drift” is dodelik, want as ‘n gemeente daaraan lei verloor sy haar passie om net een Here te dien. “The main thing is to keep the main thing the main thing.” My ervaring is- en dit is die naweek bevestig- wanneer ons fokus op wat God nou doen en dan daarop reageer word dinge helder en kom die fokus. Nie die soort fokus wat gebore is uit strategiese beplanning of die kompromie van ‘n kommissie nie, nee die fokus van die eenvoud van die evangelie.