Wat kan ons by Afrika leer oor tyd?

Written by Besoeker on . Posted in Gestuurdheid

Ek gaan in die volgende paar bydraes in Padlangs met gemeentes opmerkings maak van my ervarings op die pad van Windhoek na Lusaka, die gemeentes wat ons langs die pad besoek en die konferensie oor Missionale teologie wat ek hier bywoon.

Ek sit in die raadsaal van die Justo Mwale Teologiese Kweekskool aan die oostekant van Lusaka waar die “Great Eastern Highway” begin  en kyk by die deur uit- die eenvoudige ingang van Justo Mwale het ‘n prominente wit kruis op die dak wat af-ets teen die blou Afrika lug. Geen groteske ingang met ‘n fresko, of ‘n toring met ‘n klok of ‘n horlosie nie, net ‘n eenvoudige wit kruis, jy kan dit nie mis nie.

Dit was vier aande gelede wat ons in Grootfontein by Dirk en Lynne geslaap het, wat ek die eerste keer gewonder het oor hoekom ons horlosies in ons kerktorings het? Grootfontein se NG Kerk het ‘n pragtige verligte horlosie in die toring, wat optyd is moet ek se. Ja, ek weet dit was ‘n praktiese reeling sodat almal in die dorp wat nie horlosies gehad het nie hulle kon orienteer aan die horlosie in die kerktoring, maar verklap dit nie veel meer van die inpak van die mordernisiese westerse denkpatrone as wat ons sou dink nie. Ons kon gekies het om ander simbole daar te plaas soos wat ek sien in Namibie en Zambie.

‘n Paar weke gelede verduidelik ‘n predikant in Namibie oor die verskil tussen westerlinge en Afrika-mense se  verstaan van tyd.  ‘n Evangelis het hom geleer, Westerlinge begin op die regte tyd, Afrika mense begin as die tyd reg is!   Ek herkou nou al twe weke hieraan.

Horlosies en kalenders help ons nie om te verstaan wanneer die tyd reg is nie. Ons kan optyd wees, en tog die tyd heeltemal verkeerd lees.  Hoeveel besluite neem ons nie omdat dit vanaand op die agenda staan en ons dit moet afhandel nie. Optyd, netjies, gedokumenteer maar in terme van die bewegings van die Gees, in terme van God se plan, misplaas, ongevraag en belemmerend.  Wanneer ‘n gemeente oortuig raak van die Gees se werk in hulle gemeente, kom dit gewoonlik na ‘n tyd van wag, afsonder, silte, nie-weet-nie, in sulke tye moet leiers hulle daarvan weerhou om op die horlosie van die kerktoring te kyk oor hoe laat dit is, en in geloof bly wag op God, op die beweging van die Gees.

Net voor ons uit Grootfontein wegry, neem ek ‘n foto van die ou Anglikaanse kerkie wat nou ‘n gewilde koffieshop is, op die foto teen die spitspunt van die kerkdak is nie ‘n horlosie nie, maar ‘n kruisie en op die kruise blink die son soos ‘n Adventster- dalk is dit  my teken vir die reis deur Afrika- die tyd was reg- al wou Jurgens al lankal gery het want die Poppa Valle le ver en die Caprivi is wyd!

Toe ons gistermiddag Lusaka binnery is dit Vrydagmiddag spitsverkeer, almal is haastig die paaie is vol die die verkeer vorder stadig.  Ons is moeg na ‘n 6uur rit van Livingston met die goorste paaie wat jy jou kan indink. Dit val my op dat in die gedrang daar mense rustig langs die pad sit en kyk na die dolle gejaag. Oenskynlik het hulle die tyd van die wereld, niks jaag hulle nie. Ek beny hulle, verwonder my aan hulle en weet ek het nie “clue” hoe om so te leef nie, maar dat ek dit dringend nodig het, anders gaan ek God al hoe minder raaksien in my lewe.

Horlosies gaan ons nie meer tyd gee nie, trouens hulle soort tyd loop die hele tyd uit en word minder en minder. Wat sou dit beteken om in Christus te leef, die Een wat gekom het toe die tyd vol geword het?

Trackback from your site.

Leave a comment