{ARGIEF}

Die afgelope 2 weke het ek redelik intensief met 4 gemeentes se leierskap saamgewerk. Van die gemeentes het ek eintlik maar hierdie week ontmoet terwyl ander weer meer as ‘n jaar saam met my in proses is. Hulle is uiteenlopend in byna alle opsigte, maar daar is ‘n paar dinge wat my opgeval het wat ooreenkom.  Voor ek die storie vertel, dink ek terug aan ‘n proses wat ek saam met ‘n taakspan gehad het.  Ons moes in die ‘n sinodale sisteem adviseer oor wat tans in die kerk aan die gebeur is- ek dink dit was so 3 jaar gelede.  Ons het ‘n vriend genooi wat sisteemdenke kan toepas om saam met ons te dink oor wat die dinamika is wat aan die ontvou is.

Om ‘n lang storie kort te maak is ons gevolgtrekking dat daar herstel by gemeentes te bespeur is- baie vroee tekens maar tog wel duidelik waarneembar, en dat die vir die leierskap belangrik is om dit raak te sien en dit in der waarheid van die Here te ontvang.   Aan die ander kant was ons besorg dat die leierskap dit nie gaan raaksien omdat hulle te probleem ge-orienteerd was. Eintlik was ons besorgheid nog dieper- om dit in sisteemtaal uit te druk, ons was bekommerd dat die leierskap met die “mental model” gewerk het dat die NG Kerk eintlik maar besig is met ‘n uitgerekte begrafnis, soos wat Piet Naude dit op ‘n stadium uitgedruk het.  Ons het gewonder of hulle die “goeie nuus” gaan glo, of hulle die verassing daarvan gaan omhels veral omdat hulle dit nie self bewerk en verwag het nie.

Ons vrese is bewaarheid- ek kan nog my verbasing en skok onthou toe een na die ander van die leiers ons analise uitmekaar trek met ‘n nog groter “dooms day” storie oor wat aan die gebeur is in die kerk- nou dit was nie almal nie, maar wel is ons analise so stilletjies van die tafel gehaal en die vergadering het hulle weer bepaal by die agenda van probleemoplossing. Die goeie nuus was nie ontvanklik nie, die probleme moes aangespreek word. Wanneer gaan ons van hierdie onsinnigheid verlos word?

Om terug te kom by die afgelope twee weke se ervarings met die gemeentes- daar is duidelike herstel in almal te bespeur, sommige werklik verstommend ander aan die begin van die pad. Met almal gaan dit eintlik beter as ‘n paar jaar gelede, en tog het ons buiten een geval nogal moeite gehad om die leiers te help om dit raak te sien, dit te vier en in dankbaarheid te ontvang. Te midde van die duidelike positiewe energie was meeste van die leiers besig om die stoei met die probleme en het hulle die nuwe lewe eenvoudig misgekyk.

Met die terugry praat ek en my mede-fasiliteerder hieroor- ons verstaan nog nie regtig waarom die leiers ‘n meer negatiewe prentjie oor die gemeente het as wat werklik die geval is nie?  Hoekom kyk ons dit mis? Ek dink Shiela Cussons het verstaan hoekombloeisel-in-begraafplaas.jpg

 

Wat ruis in die donker flikkerende bome

In die wind, en glans in die driftige vlae

Van die reën, roer in die wortel, stoot

In die sap?- besige Christus,

Jy.

Hoe kon ek jou ooit misgekyk het

Die sin van dié stuwing gemis het

en so afwesig gestaar het na my?

Sheila Cussons

Corpus Christi

Later die week bel ek ‘n vriend wat predikant in die platteland is en ek noem terloops dat ek herstel en ‘n geestelike ontwaking in gemeentes beleef, oombliklik beaam hy dit, vertel hy dat dit die vervullendeste tyd van sy bediening is en dat hy anders as 5 jaar gelede op geen ander plek wil wees as in die gemeentbediening nie. Ek dink hy verstaan dat die roering en die stuwing van nuwe lewe nie in deur ons brute krag kom nie, maar iets is wat jy in verwondering ontvang en dan as liturg vier aan ‘n feestafel. Projekleiers en voorsitters van finanskommissies en almal van ons wat nog bly glo dat ons die kerk moet red sal dit moeilik verstaan.