{ARGIEF}

Ek reageer in hierdie bydrae op Jannie Swart se bydrae oor Apostels van die Onmoontlike.

Jannie jou bydraes inspireer my elke keer baie dankie- terwyl jy in St Paul die New York Times lees was ek in die Bosveld- Lephalale (of te wel Ellis-Ras). Dit is die wereld van die Waterberg alom bekend vir hulle warm politiek en het ek die week ontdek hulle onbetwisde ondersteuning vir die Blou Bulle- en dit nog op ‘n naweek wat die Blou Bulle die halfeind stryd met ‘n merkwaardige wedstryd wen! Die konteks van die Derrida en Marion debat in jou bydrae- Apostels van die Onmoontlike, is oenskeinlik baie ver van die wereld agter die Waterberge, en tog is dit nie, ons leef uiteindelik almal maar onder een dak.

Jy verwys in jou bydrae na die hewige debat wat Stanley Fish losgemaak het en die sterk menings dat godsdiens en politiek liefs uit mekaar gehou moet word. Die oorsprong van hierdie denke is in die oortuiging dat dat waardes en feite in twee verskillende werelde hoort. Lesselie Newbigin het dit geidentifiseer as een van die mees vernietigende gevolge van moderniteit op geloof en die kerk.  Toe loop ek daar in die Bosveld mense raak wat die fact/value split op ‘n wonderlike manier oorbrug.  Evangelie staan nie los van die daaglikse burgerlike lewe nie, maar is daarmee verweefd. Op ‘n verassende manier word die onmoontlike vanuit ‘n diep verbintenis aan God verwag. Die rede moet in hierdie wereld eenvoudig buig voor die geloof. In die Bosveld is dit beslis nie ‘n geromantiseerde geestelikheid nie, daarvoor is die Bosveld se son eenvoudig te warm en die droogtes te gereeld. Finansiele krissise, onreg in die besigheidswereld, ‘n jong kind wat sterf terwyl hy in London werk, ‘n maatskaplike werker wat met kinders werk wat selfmoord pleeg, is alles deel van die gesprekke van die week. In die gesprekke ontdek ek by hulle ‘n praktiese redelikheid wat vanuit diep geloofsoortuigings groei.

Oppad na Ellis-Ras is dit duidelik dat die politieke transformasie nie die wereld agter die Waterberge oorgeslaan het nie. Die padtekens is nog verward deur die skielike transformasie en wissel die oue en nuwe werelde af met reelmaat,  40km na Ellis-Ras, ‘n end verder 20km na Lephalale. Warmbad is nou al ‘n paar jaar Bella-Bella, Nylstroom is Modimolle. Dat die gemeenskap in ‘n interessante hoofstuk van hulle geskiedenis is, blyk ook in wat met die ekonomie gebeur het.    Veeboere het hulle toenemend na die gasvryheidsbedryf gewend en ontvang weekliks mense van oor die wereld. Adverteer hulle wildplase op die internet en gesels oor watter agent in New York hulle die beste diens sal lewer.

 

Hier in die diep Bosveld teen die grens van Botswana het boerdery plek gemaak vir mynbou en ‘n kragstasie is nou die hoofbron van inkomste. Ek staan op ‘n koppie en neem ‘n foto van die pragtige boomryke bosveld. As jou oe nog goed is, sien jy die torings van die van kragstasie teen die horison soos reuse kameelperde in ‘n ry met rook in hulle bekke.

Oppad terug verwonder ek my oor die geloof waarmee ek hier te make gehad het. Wat is dit wat Afrika aan ons westerlinge en almal wat blootgestel word aan die westerse leefwyse doen? Is ons pre-moderne oningeligde Afrikane wat nog die hou van die sekularisasie moet kry? Sal ons nog leer dat God eintlike ‘n mite is wat pas in die denke van die pre-moderne mens? Ek weet baie van ons wonder of dit nie maar net tyd is voordat die implikasies van moderniteit en haar boetie, sekularisasie ons gaan tref en of in ‘n ontkennende fundamentalisme transformeer, of van ons siniese laat-moderne mense gaan maak wat opgee dat geloof en rede met mekaar te versoen is.

 

Ek is onverwags met die teendeel begroet. Waarin le die verskil- as daar ‘n verskil is- tussen die debatte in die NY Times en die gesprekke in Lephalale? Ek dink die verskil het te make die swaarkry en kwesbaarheid  van Afrika wat belofte toon maar nog lank nie die vrugte smaak van ‘n glad ge-oliede eerste wereldse ekononmie nie. Ons leef in risiko. Ons leer hier van die voorreg om swaar te kry, waarvan die Bybel praat. Ons het dit nodig om te bly glo dat die evangelie iets te se het vir die manier waarop daar besigheid gedoen word in die dorp, vir die brose verhoudinge tussen kulture en rassegroepe. Die Bosveld is nie ‘n gemaksug-wereld nie, die geriewe van die moderne wereld vat nou maar eers aan die psige van die gemeenskap. Die verhale van swaarkry is naby die oppervlak. Ek het mense in die oe gekyk wat hulle kwesbaarheid verstaan, wat daagliks onthou dat hulle maar van stof gemaak is- Ps 103:15. Le daar meer in hierdie aardse verweefdheid as wat ons aldag besef? Ons aardsheid gee aan ons die gawe van geloof, om God te verwag in die lentereen na die winter. Dit help ons om te onthou dat ons nie God is nie, maar stoffelik en tydelik. Ons kan nog genade ne verdienste van mekaar skei omdat ons daagliks gekonfronteer word met die werklikheid van ons eie onvermoe.

Hulle sukkel nie om te raak te sien dat hulle maar nederig is in die groter prentjie nie- hulle is immers nie inwoners van New York nie. Hulle opregte nederigheid moet nie verwar word met hulpeloosheid nie. Wat my aangegryp het van die mense is dat hulle veel minder sinies is oor SA as die vootstedelinge- daar is by hulle nog ‘n openheid vir die onmoontlike- nie as ‘n romantiese ontsnappingsroete nie, maar as ‘n geleefde verstaan van die werklikheid. Ek het op ‘n onverwagse plek apostels van die onmoontlike leer ken, en my maar net weer uitgevang dat ek so maklik self die moontlike verhef tot die ewige!

Ek hoor al hoe meer stemme opgaan wat se dat ons die platteland nie moet afskryf nie, maar dit begin raaksien as deel van die nuwe missionale breuklyn waar ryk en arm en swart en wit mekaar meer gereeld raakloop as in die voorstede van ons metropole. Ek hoor al hoe meer verhale wat my laat besef ons gaan meer hoop kry in gemeenskappe waar mense hulle interafhanklikheid nie kan ontken nie maar daagliks leef.(stad of platteland) Dit is in hierdie gemeenskappe wat ons verras gaan word deur die grensoorskeidende krag van die Gees. Ek wonder of ons al die onmoontlike geleentheid van ons gemeenskap in Suider Afrika werklik ontdek het, as ek mag, of die gemeenskappe dit self aldag raaksien? Sien die gemeentes raak dat hulle ‘n unieke geleentheid het om die koninkryk te laat kom?