{ARGIEF}

Dit is ‘n windstil maanligaand. Ons kuier op die stoep; luilekker  na ‘n ete van gebraaide witstompneus, rogbrood, suurvykonfyt en moerkoffie. Dit is rustig, ons gasheer en gasvrou se  kinders is al “uit die hand uit”.  Die twee kinders verskil van mekaar soos die ooste van die weste, maar dit gaan goed met hulle, baie goed. Ten spyte van verskillende geaardhede en belangstellings is die kinders geheg en lojaal aan mekaar. Ons gesels oor baie sake en later ook oor ouerskap. Die ouers het Pospar gedoen toe die oudste 3 jaar oud was – 16 jaar gelede en is steeds van oordeel dat dit hulle geweldig baie gehelp het met hulle ouerskap. “Vertel vir my,” sê ek vir Gasheer en Gasvrou, “van julle ouerskapsiening. Wat is vir julle die heel belangrikste?” Hulle deel hulle siening wat ons so kan saamvat:

Gasvrou: “Die heel belangrikste is om jou kind onvoorwaardelik te aanvaar. Jou kind moet altyd weet hy of sy is vir jou uniek. Die Liewe Vader was so gaaf om hom te vorm presies is soos jy hom wou hê. Hy mag maar hy wees. Jy wil hom nie verander nie en sal enigiets doen om hom te help om te groei tot die maksimum van sy godgegewe potensiaal”. ‘n Bietjie  aangedaan voeg sy by: “Dit is wat my pa aan my gedoen het. Hy het nooit vir my laat voel dat ek nie goed genoeg was nie. Ek het altyd geweet dat ek vir hom reg is soos wat ek is.”

“Die ander saak wat net so belangrik is , is dat jou kind altyd moet weet jy is “daar” vir hom. Dit beteken nie dat jy moet spring as hy sy vingers klap nie, maar dat jy daar is om te deel in vreugdes. Jou skouer is ‘n veilige plek om op te huil. Hy kan met jou redeneer as hy helderheid oor ‘n saak nodig het. Jou oor is daar vir al sy sorge en jy sal niks wat vir hom belangrik is afmaak as onbenullig nie.”

Gasheer: “Jou kind moet weet dat jy in haar glo. As jy nie in haar glo nie, kan jy kwalik verwag dat ander mense sal. Sy moet ook weet jy glo nie net in haar as dit goed gaan nie, maar as sy ‘n gemors van ‘n saak maak, sal jy nog steeds in haar glo – sy hoef dit nie vir jou weg te steek nie. Dit is belangrik dat jy dit vir jou kind sê en dat jy dit aan haar bewys as sy depressief is, dwelms gebruik, swak vaar met studies of nie as haar liefdeslewe in skerwe lê.”

Hy voeg by: “Jy moet vir jou kind kan sê: “Jammer”. ‘n Ouer is ook maar net ‘n mens en dit is deel van menslikheid om foute te maak. As jy merk dat daar besig is om ‘n afstand tussen jou en jou kind te ontstaan, is dit nodig om saam te gaan sit – ‘n geleentheid te skep – om te praat oor wat jy gedoen het wat hinder. Deur “jammer” te sê vir iets wat jy wetend of onwetend onlangs of lank gelede gedoen het, help jy om die klonte van verbittering of verontregting wat jou kind van binne opvreet, op te los.”