{ARGIEF}

Volgens Dr  Ginott is ouers  geneig om baie konkreet te dink oor verantwoordelikheid. Hy  beklemtoon dat reëls ten opsigte van huishoudelike take soos om die kat kos te gee, die gras te sny, die motor of die skottelgoed te was, hoewel dit belangrik is vir die funksionering van die huisgesin,  ongelukkig nie van kinders verantwoordelike mense met positiewe waardes maak nie. Ouers is ook geneig om te dink dat ‘n deurmekaar kamer, onwilligheid om tuiswerk te doen en ongehoorsaamheid daartoe sal lei dat hulle kinders eendag onverantwoordelike mense sal wees en dat hulle, om dit te voorkom, met streng reëls en straf gedwing moet word om te verander.  Ouers het moontlik die mag en gesag om die uitvoering van take af te dwing en dit sal tot skoner huise lei, maar mag dalk nie soveel bydra tot die kinders se karaktervorming as wat ouers graag sou wou hê nie. Almal van ons wat ouers is, weet dat die afdwing van pligte soms lei tot mini-oorloë tussen ouers en kinders. Verantwoordelikheid kan nie van buite deur reëls en pligte geleer of afgedwing word nie.  ‘n Kind kan selfs goeie maniere hê, sy kamer aankant hou, gereeld musiek oefen en steeds onverantwoordelike besluite neem. Verantwoordelikheid  is iets wat van binne groei as dit gevoed word deur die waardes wat kinders van mense kry wat vir hulle omgee en vir wie hulle respek het. Kinders kan met kladpapier vergelyk word. Soos kladpapier ink absorbeer en die ink deel van die kladpapier word as dit daaraan blootgestel word, so absorbeer kinders die waardes waaraan hulle blootgestel word in hulle huise en omgewings, en word dit deel van hulle.

Verantwoordelikheid wat nie geanker is in positiewe waardes nie, kan van kinders anti-sosiale, destruktiewe mense maak. Dit is byvoorbeeld waar dat ‘n lid van ‘n bende misdadigers baie verantwoordelikheid aanvaar vir die ander lede in sy groep. ‘n Lid se waarde sal moontlik gemeet word aan sy vaardighede om in te breek in ‘n gebou.

Positiewe waardes en dissipline wat nodig is om tot verantwoordelikheid te ontwikkel kan slegs binne ‘n positiewe verhouding oorgedra word.  Die verantwoordelikheid daarvoor lê by die ouer. Daarom ondersteun POSPAR ouers om vaardighede te ontwikkel om ‘n positiewe verhouding met hulle kinders te bou deur onder andere in kontak te wees met hulle eie gevoelens en daaraan uitdrukking te gee sonder om te blameer en kritiseer, empaties en met aandag te luister, uniekheid te respekteer en te dissiplineer eerder as om te straf.

Volgende keer gesels ons verder oor waardes.