{ARGIEF}

2.  Luister eers empaties en met volle aandag na jou kind voordat jy, saam met hom, die probleem probeer oplos. Plaas jouself in sy of haar skoene en probeer verstaan waarom hy weier om die speelgoed op te tel en waarom sy weier om verskoning te vra. Op dié manier dra jy die boodskap oor dat jy waarde heg aan jou kind se siening en dat jy sy of haar redes respekteer. ‘n Mens kan nogal verras wees as jy by die rede “agter” jou kind se gedrag uitkom. Dit het geblyk dat die dogtertjie wat geweier het om verskoning te vra van mening was dat sy sou jok as sy verskoning vra. Sy was nie jammer oor haar gedrag nie, want haar boetie het haar dikwels getreiter en sy was bly dat sy ook ‘n slag met hom kon afreken!

Hoewel dit soms moeilik is om by jou kind se motiewe vir die ongewenste gedrag uit te kom, weet ouers wat die POSPAR-KURSUS voltooi het dat dit help  as jy eggo. Begin deur met ‘n belangstellende stemtoon alles wat die kind sê te herhaal:

  • Kind: “Ek wil nie die speelgoed optel nie”.
  • Ouer (met ‘n kalm, simpatieke stem): “Jy wil nie die speelgoed optel nie?”
  • Kind: “Ek wil nie en ek sal nie!”
  • Ouer, belangstellend: “Jy wil regtig nie die speelgoed optel nie”.
  • Kind: “Nee”.
  • Ouer: “Nee?”
  • Kind: “Hoekom moet ek dit nou optel en in die kamer bêre as ek netnou weer wil speel?”

Dan bevestig/ “validate” die ouer: “Ek kan verstaan dat jy dit nie wil optel as jy netnou weer wil speel nie. Kom ons maak ‘n plan. Sal dit help as ek vir jou ‘n doos gee om dit in te pak, want ek is bang as dit hier bly lê trap iemand dit stukkend. As jy ‘n ander plan het, kan ons dit bespreek.”

Met die laaste respons bekragtig / “validate” die ouer. By implikasie sê sy dat die kind ‘n punt het en dat sy dit respekteer (selfs al dink sy anders daaroor). Vervolgens gee sy ‘n rede waarom dit belangrik is om die speelgoed op te tel. Sy doen ook ‘n moontlike oplossing aan die hand en luister indien hy ‘n alternatief aanbied. So maak hulle saam ‘n plan om die saak op te los. Beide trek voordeel uit so ‘n oplossing- die ma, omdat die speelgoed opgetel word en die seuntjie omdat sy beswaar in ag geneem is en die speelgoed moontlik op ‘n plek is waar hy dit makliker in die hande kan kry.

3.  Neem die kind se ouderdom is ag. Jong kinders hou meesal nie daarvan om ‘n taak soos speelgoed optel alleen uit te voer nie. Dit help dikwels as die ouer aan die hand doen dat sy dit saam met hom sal doen.

4. Besluit wie se probleem dit eintlik is. Daar kan byvoorbeeld besluit word dat klere of speelgoed wat in ‘n kind se kamer rondlê sy probleem is en dat die ouer nie sal inmeng nie, maar wanneer dit in die woonvertrek rondlê is dit die ma se probleem, want dit is vir haar belangrik dat die vertrek netjies moet wees.

5. Lewer positiewe kommentaar as ‘n kind ‘n taak verrig. Noem wat gedoen is en gee ‘n rede om aan te dui waarom dit goed is: “Jy het jou speelgoed/ klere/ boeke/ CD’s opgetel. Dankie. Dit lyk netjies”. Ons is geneig om aandag te vestig op ongewenste gedrag en aanvaar dit as vanselfsprekend as take wel uitgevoer word.

Ek vertrou dat die wenke sal help om die klein rakkers se weerstandigheid te beheer. Dit sal gaaf wees as ouers kommentaar lewer en ook hulle wenke vir ons stuur.