{ARGIEF}

By ‘n ander geleentheid wou sy haar stukkende skoolskoen se sool vasplak. Amanda wou behulpsaam wees en het aangebied dat Pa dit kon doen. Gerda vervies haar toe en sê sy weet hy sal dit nie doen nie, want hy het mos nooit tyd nie en verwag Ma dat sy maar met die stukkende skoen moet loop? Ma voel seergemaak. Sy trap weer in die slagyster deur deel te neem aan ‘n emosionele gesprek en sê dat Gerda onbillik is. Gerda het haar opgeruk, die skoen neergegooi en weggeloop.

Na dié twee insidente het Amanda gaan sit en besin en ook weer die insetsel : “Help, ek dink ek het ‘n tiener” op die blog gelees. Sy het haarself in haar kind se skoene geplaas en beleef hoe haar kind “te midde van ‘n sikloon, sonder ‘n kompas, voortploeter op haar ontwikkelingspad.” Meteens is sy met groot deernis vervul.

Amanda het na Gerda gegaan en gesê dat sy jammer is dat sy skerp reageer het en het aan die hand gedoen dat hulle later, as Gerda kalm is, oor die insidente kan gesels. Twee dae later het Gerda kom sê dat sy jammer is oor haar optrede en toe kon ma en dogter ‘n sinvolle gesprek voer.

Amanda het uit die situasie geleer dat sy nie dit wat haar verwarde kind kwytraak, persoonlik moet opneem nie. Tweedens weet sy nou dit nie wys is om te reageer terwyl Gerda (en syself) in ‘n erg emosioneel toestand is nie, maar dat dit veel beter is om eers te wag tot Gerda weer kalm is en in staat is om logies te dink. Sy het ook tot die gevolgtrekking gekom dat Gerda nou nóg meer kwaliteit tyd nodig het as voorheen.

Hulle gesin probeer ook om deur middel van die waardes waarop hulle saam besluit het, ankers  daar te stel waaraan almal van hulle gedurende hierdie, soms stormagtige, tyd kan vashou. Hier volg hulle waardes:

  • Ons gesin gebruik woorde wat opbou.
  • Ons is lief vir mekaar.
  • Ons het respek vir mekaar.
  • Ons maak tyd vir mekaar.
  • Ons is bedagsaam teenoor mekaar.