{ARGIEF}

Die ander is die stem van die magtelose. En dít ontdek ‘n mens eintlik net as jy die Bybel van die “onderkant” af lees. Uit die oogpunt van mense aan die rand van die samelewing. Ons reken mos dat dit die sterkes is wat geskiedenis maak. Maar by God werk dit eintlik anders. By God is dit die swakke, die mees onwaarskynlike wat die gang van die geskiedenis bepaal. En waar die stem van die magtelose stilgemaak word, word die stem van God die duidelikste gehoor!

Ons moet die Bybel met verbeelding lees, benadruk hy, anders volg ons nie die opwindende gang daarvan nie. Wat in die Bybel staan, is nie net die getuienis van mense nie, maar veral ‘n poging om die vlug van Gods verbeelding te volg. Dit waarvan God droom, wat Hy hoop.

God se verbeelding vlieg egter hoog, en menslike pogings om hierdie verbeelding te volg, bly gebrekkig.

Augustus is vrouemaand. In baie gemeenskappe het die vrou oor jare ver agtergebly. In sy boek “Die vlug van Gods verbeelding” vertel Allan dat ons nie God se verbeelding hoef te ontwerp nie. Dis reeds aan die werk, ons moet dit slegs raaklees, raaksien. Veral in die lewe van vroue wat aan die “voetekant” van die geskiedenis lewe, in die skadu van die maghebbers. Anders bly die kerk en gemeenskappe gevangenes van onbybelse denkbeelde, van knellende verbeeldingloosheid en van ‘n uitgediende patriargale oorheersing …

Die Christendom se “tweede sondeval” gaan terug tot by die apostels – toe hulle daardie eerste keer die vroue, só sentraal in Jesus se bediening, eenkant toe gestoot het!