{ARGIEF}

20 Okt 2013 ~ Twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd
Luk 18:1-8:      ’n Handelende geloof en Liefde kweek volharding in gebed

Die openingsvers maak dit vroeg duidelik dat dit hier gaan oor die aanhou van gebed, toegewydheid in gebed en veral oor die besit van die dryfvere vir gereelde en volgehoue gebed. Soos die weduwee die noodlydendes, randfiguurmense en armes verteenwoordig, so verteenwoordig die regter die rykes, maghebbendes en gesagsfigure in ’n wêreld van onreg, politieke en ekonomiese ongelykheid, ’n wêreld van “have and have-not”.

Die weduwee kan gekomplimenteer word vir haar volgehoue en toegewyde gebedslewe, juis omdat dit nie net by woorde en hande-vou-in-gebedshouding gebly het nie, maar en veral dat sy haar gebedslewe gedryf het deur praktiese werke. Sy het haar gelowige afhanklikheid van en staatmaak op volharde gebed gerugsteun deur ‘n handelende geloof, wat ‘herhaaldelik (hom) kom vra het: “Doen aan my reg in my saak teen my teenparty” (vers 3b).

Reg en geregtigheid is dit wat ‘n mens met moed vul en ‘n mens inspireer om uit te hou en aan te hou, en kan ‘n mens baie vermag. Net so kan onreg en ongeregtigheid ‘n mens in mismoedigheid en wanhoop laat verval. Kan die aanhoudende weiering of afwesigheid van reg en geregtigheid ‘n mens depressief maak, ‘n mens oorhaal om reg in eie hande te neem of ja ‘n mens selfs tot selfmoord dryf. Dit is dié  konteks wat die weduwee se liefde vir gebed en haar trou aan en geloof in gebed so radikaal dinamies maak. En wil dit ons almal oproep tot ‘n dinamiese volhardende en toegewyde gebedslewe, ‘n gebedslewe wat deur ons praktiese dade gerugsteun word. Opregte, gelowige en toegewyde gebed kan nie net op ons knieë geskied nie. Dit moet deur ‘n handelende geloof onderhou en onderbou word.

Naas ‘n handelende geloof, moet gebed ook deur ons liefde vir dit waarvoor ons bid, gedra word. Die weduwee het uiteraard oor ‘n liefde vir reg en geregtigheid beskik, daarom kon sy herhaaldelik die regter besoek en by hom vra en pleit om reg aan haar in haar saak teen haar teenparty te laat geskied. Haar liefde vir reg en geregtigheid het haar gebedslewe oorwinnend gemaak. Die regter aan die anderkant, omdat hy geen eerbied vir God of agting vir mens gehad het, het daarom ook geen liefde vir reg en geregtigheid geopenbaar nie, want, hy het nie net gesloer om die weduwee te help nie, maar ingegee omdat hy óf bang was sy gaan hom te lyf, óf dalk het hy vir omkoopgeld gewag, óf selfs persoonlike gunsies verwag, óf dalk was hy net moeg om deur haar lastig geval te word, óf dalk het hy besef sy kan vir hom vorentoe probleme gee. Ja hy het ‘n gebrek aan liefde en gebrek aan omgee gehad, daarom het hy gesloer om haar tot hulp te kom.

So is God tog nie. God is tot veel meer in staat. God verhoor ons gebede – selfs die gebed van die onregverdige en mees randfiguurmense van ons samelewing. God is getrou en oorgehaal om ons te help, ons reg en geregtigheid te bewys en ons dit te selfs laat ervaar en beleef.

Gebed wat deur ‘n handelende geloof en liefde gedryf word, is gebed wat nie anders kan as om God te beweeg om ons tot hulp te kom nie. Ja selfs nie die aanwesigheid van korrupsie, onreg, ekonomiese ongelykhede, mag van die magtiges of ons eie situasie van hulpeloosheid, armoede en druk van skuld, kan stand hou teen die krag van aanhoudende gebed en ‘n God wat luister na die geroep van sy kinders in nood nie. Amen.

Donald Katts
Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/nt/42-Lukas/Lukas%2018-1-8.doc
Seisoen van Luister: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/824_c10503d438a88722569ffb45688e3604