{ARGIEF}

12 Augustus 2012 ~ Elfde Sondag in Koninkrykstyd ~ 1 Konings 19:4-8  Saam uit die woestyn uit

Die Bybel is vir my wonderlik want dis vol wysheid en insig wat die toets van die tye deurstaan het. Veral is die Bybel vir my asemrowend omdat dit mense toelaat om altyd weer op te staan. Vir elke verordening en oortreding wat beskryf word, word daar ook gesê hoe iemand weer hom- of haarself kan herstel.

As jy dalk eendag die krag het, kan jy ‘n bietjie al die wette in die Bybel tel. In die Ou Testament sal jy meer as 900 kry. Maar wat so fantasties is – en ons vergeet dit dikwels – is dat daar vir elke wet ‘n regmaak is. Vir elke ding wat jy oortree, word beskryf hoe jy dit weer reg kan maak.

So, regmaak, herstel … hierdie is belangrike dinge vir God.

In 1 Konings 19 word daar ‘n lieflike “intieme” toneel tussen God en sy profeet Elia beskryf. Elia oortree nie. Maar hy verloor dit. O, dis so ‘n eg menslike ding wat met Elia gebeur. Sy reaksies daarop is so hoogs menslik. Maar God stap die hele pad met hom deur tot by sy herstel.

In 1 Konings 18 begin daar ‘n groot drama. Elia kom te staan voor die 450 profete van Baäl en die 450 profete van Asjera, wat almal salaris van Isebel ontvang. Hyself is die enigste profeet in Israel wat oorgebly het. Te midde van ‘n groot skouspel kan hierdie profete nie hulle altaar aan die brand kry nie, maar God steek Elia se vuur skouspelagtig aan die brand, en al Isebel se profete word doodgemaak.

Dit behoort Elia in ‘n goeie bui te bring, sou ‘n mens dink. Maar nee, Isebel laat weet vir Elia sy laat hom more doodmaak, en hy begin te vlug. Hy hardloop van Jisreël na Berseba, ‘n afstand van ten minste 32 kilometer, en toe nog ‘n ent in die woestyn in. Jy Elia hardloop ‘n hele marathon weg van Isebel af. Daar gaan lê hy – ‘n gewisse dood tegemoet. Geen water, geen kos.

Elia toon die tipiese trekke van iemand wat uitgebrand is. Hy is moeg, lewensmoeg. Hy is paniekerig, angsbevange. Hy is depressief, heeltemal onder in die put. En hy is jammer vir homself.

En nou kom God. En God is stunning. Eers sien God om na Elia se fisiese behoeftes en gee hom kos. En toe kom God Elia besoek. Hy kom nie in ‘n sterk wind, in ‘n aardbewing, of in ‘n vuur nie. Hy kom in ‘n fluistering. In ‘n koel briesie. God nooi Elia om op te staan. God luister na Elia se besware en sy ellendes. En dan maak God vir hom die toekoms oop. Hy gee hom ‘n plan. Gaan salf Elisa as jou medewerkers en opvolger.

God laat Elia nie los voor hy weer op sy voete en oppad is nie.

En dis so aangrypend … dat God hom so moeiteloos met mense bemoei. Ek dink nou sommer ook aan Hagar, en hoe sy daar in die woestyn gesit het met haar kind, en begin afskeid neem het van die lewe. En toe sien God haar. Sy gee dan ook vir die God wat sy nie eers voorheen geken het nie, ‘n naam. Sy naam is “God wat my sien” (Gen 16:13).

Ek dink dit is wat dit beteken om in God se koninkryk te lewe, en om nou spesifiek in koninkrykstyd te wees:  om weer daaraan herinner te word dat God ons sien.

En dis ‘n spesiale soort sien. God kyk nie net toe terwyl ons val en aanstruikel nie. Hy sien en raak betrokke. Hy maak homself teenwoordig. Hy begelei ons uit die woestyn uit.

En so gee hierdie verhaal van Elia en God ons hoop. God sien nie neer op ons menslike swakhede nie. Hy straf dit nie. Hy steek ‘n hand uit en begelei ons, die woestyn uit. En so kry ons nie net hoop nie, maar ‘n voorbeeld ook. Om mekaar se hande te vat en saam die woestyn uit te stap, die koninkryk in.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2012/08/1%20Konings%2019_1-4%20-%208-18.doc

1 Konings 19:4-8 – 11de Sondag in Koninkrykstyd en 2de Sondag in Seisoen van Barmhartigheid – 12 Augustus 2012

1Konings19_4-8Die verhaal van Elia onder die besembos leen hom tot ’n dramatiese vertelling vir families. Kinders sal kan identifiseer met die wyse waarop God hom help met kos, rus en krag. Dit gee ’n goeie oorgang na die preekriglyn wat werk met die feit dat God ook in Elia se donkerste oomblikke vir hom sorg. Dit is waarom ons nie maskers voor God nodig het nie, en oop en eerlik oor ons swakhede kan wees. Maar God sorg nie net vir Elia nie. Hy help hom om voort te gaan om sy roeping te beliggaam. Die Here help hom om sy vrees en selfbejammering te oorkom, sodat hy getrou aan sy identiteit en roeping kan bly optree.

1 Konings 19:4-8.ppt     931.5 KB Aug 06, 2012 15:36 Download  
1 Konings 19:4-8.pptx     581.27 KB Aug 06, 2012 15:35 Download  
1 Konings 19:4-8.doc     107 KB Aug 06, 2012 15:32 Download