{ARGIEF}

 Sondag 3 Februarie 2013 ~ Vierde Sondag ná Epifanie

Wanneer jy swaarkry, neem God dit persoonlik op ~ Jeremia 1:4-10

Jeremia se naam beteken “hy wat deur God verhoog is”. Maar dis nie hoe ons Jeremia leer ken het nie. Van kleins af hoor ons maar van Jeremia en sy Klaagliedere.
In ons teksvers ontmoet ons Jeremia waar God hom roep. En ook hieroor kla Jeremia. Nee, Here, sê hy, U kan my nie roep nie, ek is te jonk. En weer, nee, Here, U kan my nie roep nie, ek kan nie goed praat nie.

Ja-nee, Jeremia is ‘n klaagpot.

Maar wag ‘n bietjie. Miskien hoor ons Jeremia verkeerd. Miskien is Jeremia juis nie besig om te kla nie. Hy is besig om sy vrese voor God te lê en met Hom te bespreek. En dan luister God – en maak Jeremia sterk.

God roep Jeremia tot ’n moeilike lewe. Dit is die jaar 627 vC. Dis ‘n lang tyd gelede, en eintlik is dit veronderstel om goed te gaan met die Judeërs. Maar God roep Jeremia om vir die mense te gaan sê:  Julle moet julle regruk. Los julle afgodetjies en selfgesentreerde gewoontetjies en vals sekuriteitjies. Jerusalem gaan val en die tempel gaan verwoes word.

Die mense is nie lus om na Jeremia se gekla te luister nie. Natuurlik wil hy nie kla nie. Hy wil, soos met God, sy vrese en kommer voor hulle lê. Hy wil met hulle ‘n nuwe lewenswyse en ingesteldheid vir die volk onderhandel.

Maar hulle wil niks weet nie. Eers is hy te jonk, vir wat moet hulle na so ’n knapie, bogsnuiter verbeel jou, luister?  Jeremia was maar 18 jaar oud toe God hom geroep het. Die manne sou nie na hom luister nie. En hy praat wat hulle betref ook nie goed nie. Hy kla dan heeltyd. Wat hulle nie hoor nie, is dat hy hulle welsyn en toekoms op die hart het, en met hulle daaroor wil onderhandel, hulle aan God se kant kry.

Veertig jaar lank hou Jeremia so aan. Maar die mense luister nie vir hom nie. Veral die konings, een na die ander, begin hulle vir hom vererg. Hy word gespot, geslaan – en later selfs in die tronk gegooi.

Watse nonsens is dit? vra die mense. Watse malgeit het die man nou al weer in sy kop?  Die tempel wat Salomo gebou het, staan al 400 jaar lank. Jerusalem is onoorwinlik!  Watse doempraatjies kom Jeremia nou weer hier mee aan?

En toe gebeur dit. In die jaar 586 kom die Babiloniese koning Nebukadnesar en verower Jerusalem. En verwoes die tempel. En… hy – die vyand se koning – bevry Jeremia uit die tronk waar sy eie mense hom gesit het.

Die Judeërs word weggevoer na Babilon, waar hulle in bannelingskap sou sit. Die Judeërs se koning vlug na Egipte … en vat ’n teensinnige (om die minste te sê) Jeremia met hom saam. In Egipte slyt Jeremia sy laaste tien jaar, ver van sy geliefde land af.

Dis dan nou nie ’n geheim dat Jeremia ’n moeilike lewe gehad het nie. As geroepene van die Here mag hy nie getrou het nie, nie feestelike geleenthede soos troues – of begrafnisse – bygewoon het nie. En hy moes altoos simboliese dinge in die openbaar doen om die volk aan hulle slegte lewenswyse te herinner, soos om met sy hande gebalk soos ’n prisonier rond te loop.

Dis nou ’n stuk of 2640 jaar later. Wat kan ons in hierdie moderne tye by Jeremia leer?

Nie ‘n klaaglied nie, hoop ek. Kom ons leer hoe Jeremia oorlewe het te midde van teenstand en persoonlike swaarkry.

Nou, hier aan die begin van die jaar, kom ons kyk na vyf dinge wat Jeremia gedoen het om te oorlewe terwyl sy omstandighede dik en moeilik en selfs gevaarlik was.

Die eerste ding wat Jeremia gedoen het, was om te kies om gesond te bly. In sy kop. Of beter nog, hy het die mense altyd voor ’n keuse gestel:  julle kan nog gesond word van julle verkeerde lewens en koppe wat verkeerd aangeskroef is. Gaan lees maar Jeremia 8:22. En dis ’n les wat ons by Jeremia kan leer: ’n Mens het altyd ’n keuse. Daar is nie ’n quick fix nie, maar daar is altyd ’n keuse.

’n Tweede ding wat Jeremia laat oorlewe het, is dat hy geplant en gebou en gehoop het, al was dinge dof en donker. Lees Jeremia 29:11. Om die waarheid te sê, toe hy verseker geweet het Jerusalem gaan val, het hy nog ’n stuk grond gaan koop (Jer 32). Martin Luther het mos ook gesê:  As ek weet die wêreld vergaan môre, sal ek vandag nog ’n boom plant. En wat ’n les om by Jeremia en Luther, God se manne uit en uit, te leer:  Plant, bou en hoop. Dis die besigheid waarin ons gelowiges is.

Die derde ding wat Jeremia aan die gang gehou het deur tye van wanhoop en waansin, was natuurlik sy verhouding met God. God, so het ons in ons teksvers gelees, het vir Jeremia gesê Hy het hom “geken” toe hy nog in die moederskoot was. Ja, God en Jeremia het mekaar geken“. Daar was ’n diep spirituele band tussen hulle. Nie een van kla en verwyt nie. ’n Groot deel van die boek van Jeremia bestaan uit Jeremia wat met God praat, bespreek, onderhandel, met sy naakte, kloppende hart voor sy luisterende God staan.

Ja, dit leer ons by Jeremia. God is ‘n realiteit. En wanneer jy swaarkry, neem God dit persoonlik op.

Nie ek of jy of Jeremia is alleen op God se boeke nie. Maar elkeen is vir Hom persoonlik belangrik. Ons kan dit maar glo.

Die vierde ding wat ek by Jeremia leer, is dat hy oorleef omdat hy fokus. En hy vertel dit ook vir die volk: Fokus op die regte dinge. Moenie julle hoop op die tempel sit nie. Moenie op die vyand fokus nie. Fokus op die regte dinge. Op ’n God wat trou is. En op die pad wat ons saam met God moet stap.

Vyfdens. Uiteindelik word Jeremia se swaarkry, deel van die sin van sy lewe. Julle sal sê, is dit nie ‘n bietjie siek nie?  As die sin van jou lewe swaarkry word, watse lewe het ’n smartlap?
Om te ly en swaar te kry, het geen sin nie. Om ’n kind te verloor aan die dood of aan dwelms het geen sin nie. Om jou werk te verloor of jou gesondheid, het geen sin nie. Maar ons kan sin daaraan gee omdat ons ’n pad van vertroue met God stap, ’n pad waarin ons gedurig met God oor ons lewens en die sin daarvan onderhandel. Ter goeder trou.

Mag u ’n jaar hê waarin u gesonde besluite oor u lewe neem. Waarin u sal plant en bou en hoop. Waarin God vir u ’n realiteit en ‘n bron van krag sal wees. Waarin u op die regte dinge sal fokus. En waarin u lewe sin sal hê, al is die lewe swaar.

Christina Landman

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/24-Jeremia/Jeremia%2001_4-10.htm

Seisoen  van Luister: http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/688_55a0f5701b5c43e7469aac9102ae067a