{ARGIEF}

20 JANUARIE 2013 ~ Tweede Sondag ná Epifanie ~ Jesaja 62:1-5

Dit wil vir my voel Suid-Afrikaners moet Jesaja verstaan, moet ten volle empatie kan hê met die gemeenskap vir wie Jesaja preek en profeteer. Inteendeel, as mens die eksegese van die leesrooster in ag neem, besef jy dat die oorheersende gevoel van daardie tyd moedeloosheid en onsekerheid was. Teleurstelling. Daar was nie hoop nie, net vrees. Met hierdie gevoel kan ten minste twee-derdes van die mense op aarde identifiseer. Dis absoluut relevant vir die groeiende getal armes en werkloses die wêreld oor. Selfs die rykes en die maghebbers is benoud vir 2013… want die wêreld se ekonomiese sisteem is op bitter dun ys. As dit inplof en ʼn resessie tref die wêreldekonomie, wil niemand weet wat die rampspoedige gevolge gaan wees nie. Nasies begin oorloë om so ʼn totale verlamming te voorkom.

Is daar hoop? Is daar ʼn verlosser? Jesaja 62 sê met volle oorgawe aan ʼn moedelose volk wie en hoe God is. Hy het hulle lief. Daar is ʼn alternatiewe toekoms. Transformasie, ʼn totale ommekeer van omstandighede is moontlik. Kyk na die ander skrifgedeeltes wat die bespreking noem. In Jesus Christus se koms, in die “dans van die Drie-eenheid” waar God deur die Heilige Gees “alle mag in hemel en op aarde” beskikbaar stel, is God met ons. Immanuel.

Hoekom realiseer dit dan nie?
Kyk na die groter prentjie, na vier taferele. Eerstens: die geskiedenis van Israel self. Die profete en Jesus self verduidelik oor en oor die waardes van die Koninkryk van God wat vrede laat deurbreek en voorspoed vir almal bring. Dit spel uit wat die afgode is waardeur al die ellendes kom. Vat dan drie of vier taferele uit ons eie geskiedenis: Die kolonialisasie van Suid-Afrika, die boere-republieke, die boere-oorlog. Volgens watter etiese waardes het die rolspelers in dié geskiedenis te werk gegaan? Afrikaners sal die motiewe van die Britse Ryk in sy hebsug na die land se minerale rykdom nie vergeet nie – ook nie die lyding wat dit teweeg gebring het nie (en die scenario speel hom by herhaling oral in Afrika af: VANDAG). Toe kom die apartheidsera. Was die politieke motiewe en stelsel van die Afrikaanse regering eties, Bybels korrek? Min mense het terugskouend daaroor onduidelikheid. Laastens: kyk na die ANC-era sedert 1994, in die besonder die Zuma-jare. Wie het twyfel oor die verregaande korrupsie en magspel wat in en deur die regering gepleeg word? Min mense is bewus van ʼn vyfde tafereel, die neo-liberale kapitalisme wat globaal in ʼn groot mate die spel van onreg voortsit op ʼn skaal wat die wêreld voorheen nog nie geken het nie. Hier is die groot kanonne meestal onsigbaar agter rekenaarskerms en somme maak.

En steeds is daar hoop. Jy kan Jes 62:1-5 lees en glo. Jy kan dit in gesinne en gemeentes en dwarsdeur die geskiedenis bewys sien: Waar gelowiges die Koninkryk van God se waardes volg, God as hulle Vader/Moeder en Verlosser en Leidsman volg, waar mense en gemeentes soos ʼn bruid net oë en hart het vir die Bruidegom, daar verander alles. Dit kan uitkring van om jou eie lewe, van om jou eie gesin, van om jou eie gemeente. Dit begin altyd klein. In Jesus Christus se koms het dit begin. Johannes het Jes 62:1-5 in Johannes 3:16 in sy eie woorde herhaal.

Ons het ʼn nuwe Naam nodig. ʼn Nuwe handelsmerk. Christene se Naam moet weer Christus as inhoud kry – en geleef word. Dis ʼn lewe van gee, nie van vat nie; van diens, nie van bedien word nie.

Jurgens Hendriks

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/23-Jesaja/Jesaja%2062_1-5.htm

Seisoen van Luister:
http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/685_6a78acf20b6b8b9a696364ee766a107f