{ARGIEF}

2 Desember 2012 ~ 1ste Sondag in Advent ~ Lukas 21:25-38

In beide die liturgiese riglyne en die preekvoorstel beklemtoon die skrywers dat eerste Adventsondag bekend staan as “Sondag van hoop”. Die tekste nooi die gemeente om ʼn “nuwe jaar” te begin en bring die gemeente van aangesig tot aangesig met die verwagting van Christus se wederkoms en die hoop wat daar by gelowiges oor die toekomstige verlossing leef.

As ʼn mens gaan kyk na die tyd waarin die sinoptiese skrywers hierdie apokaliptiese gebeure beskryf waarbinne die onderskeie lesers opgeroep word om te bly hoop, naamlik in die tyd van die verwoesting en vernietiging van Jerusalem, kry ʼn mens ʼn baie beter perspektief op die impak van die oproep. Om die hoorders van eerskomende Sondag “in kaart te bring” – sal dit nodig wees om moeite te doen om vir ʼn tydjie by hierdie “haglike omstandighede” van die eerste lesers stil te staan. Of dit nou Markus se beskrywing is (dus direk na die val van Jerusalem) en of dit ʼn tydjie na die gebeure is, soos in die geval van Lukas se beskrywing – die impak en omvang van die gebeure het ʼn enorme effek op hierdie eerste-eeuse gelowiges gehad.

Myns insiens sal dit die moeite loon om ʼn bietjie langer stil te staan by verskillende aspekte wat verband hou met gebeure wat as “apokalipties”ervaar word. ʼn Mens sou jou self kon afvra, wat is hier vanuit ekologiese, ekonomiese en psigologiese perspektiewe aan die orde? Wat is die impak van hierdie tipe gebeure op die psige van die mens (vrees, angs, onsekerheid), watter impak het dit op mense se hoop vir die toekoms as die “sentrum van hulle wêreld” letterlik in duie stort? Waar laat dit jou as jou “plausibility structure” weggekalwe word deur gebeure waaroor jy geen beheer het nie en wat jou psigies, moreel en self fisies laat kwyn?

Dit is nie moeilik om op die oomblik parallelle in ons eie konteks vir hierdie “apokaliptiese gebeure” te vind wat Lukas met groot grafiese detail binne sy konteks beskryf nie. Dit hang natuurlik af van waar jy jou self in die land bevind. As jy in die Noorde is, kan die Marikana-gebeure gebruik word om iets van die tragiek van ons eie ervaring van angs, onsekerheid en hooploosheid, te beskryf. Nie alleen die visuele detail van wat gebeur het (deur die TV in ons woonkamers ingebring) maar veral die emosionele en sosiale trauma wat daarmee verband hou, behoort van nader bekyk te word. Die indink in die situasie van ʼn moeder wat by ʼn graf staan en totsiens moet sê aan ʼn kind wat die broodwinner was. Die groter sistemiese ongeregtigheid wat hierdie tipe gebeure voorafgaan en die enorme impak wat dit laat op jou vooruitsigte en vertroue in die toekoms.

Indien jy jouself in die Wes-Kaap bevind, sou die impak van die opstande en onluste wat die vrugte- en wynbedryf tot gevolg gehad het, as verwysingsraamwerk kon dien. Weereens dink ek dit is nodig dat daar gepoog moet word om vrae te vra na wat die onderliggende faktore vir hierdie gebeure is? Wat motiveer mense om tot sulke dade oor te gaan? Hou dit met interne party-politieke kwessies verband, ʼn ANC-regering wat die provinsie wil destabiliseer omdat hulle nie die mag het nie? – of gaan dit oor die onbeheerbare instoming van seisoenale werkers uit buurlande met niks om te verloor as hulle begin plunder nie – of hou dit werklik verband met ʼn dagloon wat dit vir mense onmoontlik maak om in die basiese daaglikse behoeftes te voorsien? – of is dit materialisme en ʼn verbruikerskultuur wat tot gevolg het dat ons reken dat ʼn klomp goed ons toekom, en as ons dit nie kry nie, dan vat ons dit deur geweld? Jy sal weet wat die vrae in jou konteks is.

Dit is ook nie moeilik om aansluiting te vind by wat in die VSA ʼn maand gelede gebeur het met die storm “Sandy” wat veral New York geheel en al lam gelê het nie. Daar is aangrypende en ontstellende foto’s op die internet van hoe een van die grootste stede in die wêreld voor die geweld van die natuur swig en die enorme impak wat dit op mense se lewens gehad het. Om toe te sien hoedat dit wat jy jou lewe lank aan bou en bymekaar maak in sekondes vernietig word, gryp ʼn mens aan die hart.

Die feit bly, ons kan eers ons koppe begin oplig oor die moontlikheid dat die evangelie goeie nuus vir ons aankondig en dat die Verlosser vir ons redding bring, as ons bewus is van ons magteloosheid voor gebeure waaroor ons nie beheer het nie. Soos Ronell Bezuidenhout tereg in die preekstudie (p.10) skryf: “Wanneer die lewe lekker is, dink ons verlossing is onnodig. Maar God se uitkoms is goed vir mense wat nood het. Vir mense vir wie die lewe slegte nuus is. As jou lewe onderstebo is, wil jy uitkoms hê. As jy ʼn daaglikse lewe van geweld moet trotseer, of dit nou fisieke mishandelinge in ʼn gesin is of uitsigloosheid as gevolg van armoede, sulke mense hou vas aan hoop.”

Apokaliptiese gebeure stroop ons dus van baie pretensies en dwing ons om te reflekteer oor wat werklik belangrik is, nie net vir onsself en ons eie mense nie, maar vir ons gesamentlike oorlewing en voortbestaan hier aan die Suide van Afrika waar God ons roep om ons koppe op te lig en die oproep te hoor “bly waaksaam”. Hierdie waaksaamheid hou volgens Ronell verband met die feit dat ons “nou” – verstaan moet word as deel van God se koninkryk. En as ons mooi kyk sien ons dalk tussen die rommel van die hede die groen spruite van nuwe lewe, die nuwe lewe van ʼn nuwe jaar en die moontlikheid van ʼn nuwe verbintenis aan Hom wat reeds in die toekoms vir ons wag. Wat ʼn voorreg om die draer van hierdie goeie nuus te wees!

Ian Nell

Preekriglyn in Argief: http://communitas.co.za/wp-content/uploads/2012/11/Lukas%2021_25-36.doc