{ARGIEF}

19 Desember 2010 ~ Vierde Sondag van Advent: Mat 1:18-25

Elke jaar rondom Kersfees word ‘n mens met ‘n klompie (wêreldse) advertensies, wat op ‘n manier met die inhoud van die Kersboodskap verbind sou kon word, gekonfronteer.

Ek onthou ‘n advertensie in 1999 in die Kerstyd nog redelik goed: “What would Christmas be without Bell’s?” Wat sal Kersfees sonder klokke wees? As dít maar die bedoeling was. Maar uit die spelling lei ons af dat Bell’s met ‘n hoofletter en afkappingsteken geskryf is, maw: Wat sal Kersfees sonder Bell’s whiskey wees?

Ek onthou dat ‘n hele klomp gelowige mense hierdeur ontstel was – erg omgekrap. Hulle het redeneer: Ja, dis nou net soos die wêreld is. Kersfees sonder drank is nie vir hulle Kersfees nie!

Ander het weer reageer: Ja, dis nou net soos die Christene is. Hulle is met niks tevrede nie! Altyd téén … Kersfees behoort mos net aan hulle!

Wat kan ons leer uit bogenoemde, indien enigiets? Voordat ons hierby stilstaan, kom ons kyk eers in ‘n enkele gedagte of twee krities hierna. Beide se bedoeling sou beskou kon word as onder verdenking. Die advertensie, sou ‘n mens kon sê, staan onverskillig teenoor Christus. Die reaksie óp mense wat daarteen te velde getrek het, sou weer as vyandig teenoor die Christendom geïnterpreteer kon word. Beide kan dus so maklik vir Christus en die wêreld uitmekaar hou!

‘n Mens sou die gelese gedeelte – eintlik die hele geboorteverhaal van Christus – kon saamvat met die woorde: Christus IN die wêreld, VIR die wêreld! Let wel, nie: Náás Christus, die wêreld, soos die advertensie verstaan sou kon word nie. En ook nie: Christus in plaas van die wêreld nie. Maar: Christus ín en vír die wêreld! Dalk is dít wat ons uit bogenoemde kan leer?

Ons dink so maklik dualisties oor God en die wêreld. Ons hou dit soms so gerieflik uitmekaar. Ons posisioneer onsself teenoor mekaar. Maar God word mens ín die wêreld vír die wêreld. Só glo en bely ons. ‘n Doodgewone vrou word swanger. Die brug word geslaan. Ons lees ook iets hiervan in die onmiddellike volgende gedeelte (Mat 2) wat vertel van die sterrekykers (2:2) en Herodes (2:8) – wat albei die Kind op húl eie maniere aanbid het. Die Jode verwerp die Kind, die heidene neem Hom aan.

Matteus wil vir ons vertel dat die geboorte van Jesus nie die wêreld of dan die heidendom uitsluit nie, maar juis insluit! Ontneem ons die wêreld sy belangrike plek in die Kersgebeure, maak ons van die geboorte van die Christuskind net ‘n mooi storie wat 2 000 jaar gelede plaasgevind het. Want so lief het God die wêreld gehad …

In die aanspreek/beveg van die kommersialisering van Kersfees byvoorbeeld, loop ons Christene die gevaar om die geboorte van die Kind net vir onsself in te palm, en vergeet ons dat God vír die wêreld mens geword het. Sonder die wêreld word Kersfees ‘n leë godsdienstige ritueel – sonder werklike deernis en liefde.

Kom ons plaas Christus hierdie Kerstyd terug in die wêreld, want dis waar Hy wil wees. Kom ons wees versigtig om die Christuskind net vir onsself op te eis. Hy is Verlosser van die wêreld. Dit kan net gebeur as ons gesindheid teenoor die wêreld verander. En dit moet ‘n gesindheid wees wat korreleer met die gesindheid wat Jesus self teenoor die wêreld openbaar en uitgeleef het. Dís ons enigste kans. Christus ín en vír die wêreld!

Hierdie Sondag staan dan ook bekend as die Sondag van liefde. Die Nederlandse predikant Jan Overduin het op ‘n keer geskryf daar is liefde omdat en liefde ondanks. Indien ek iemand liefhet omdat hy so aangenaam is en my simpatiekgesind is, omdat hy niks van my vra en eis nie, kos my liefde my geen moeite, geen opoffering, geen selfverloëning nie. Dit is maklik. Dit is goedkoopliefde. Die wêreld kan ook so liefhê. Maar as ek liefhet ondanks die feit dat iemand onaangenaam is en onsimpatiek teenoor my staan, ondanks die feit dat sy so veeleisend is en baie verg, dan kos my liefde my iets. Ja, dan kos dit myself. En dit is duur liefde!

Dis die soort liefde waarvan ons in die Bybel lees. God het ons nie liefgehad omdat ons sulke aangename, goeie en voorbeeldige mense is nie, maar ondanks die feit dat daar eintlik niks goeds in ons is wat Hom tot liefde kan dwing nie. Die bewys van God se liefde is Jesus in die krip, Jesus aan die kruis. Jesus het nie gesterf vir sy vriende nie, maar vir sy vyande; nie vir vromes nie, maar vir goddeloses, nie vir die kerk nie, maar vir die wêreld.

Weerkaats ons lewe iets van hierdie duur liefde, iets van hierdie opofferende, selfverloënende liefde? Dikwels is dit nie die geval nie, want ons lewe is vol goedkoop liefde. Wanneer ons hierdie ondanks-liefde begin weerkaats, bring ons dalk ‘n ligpuntjie in die donker hart van ons medemens. En waar die donker- en skadukolle in ons medemens se hart verlig word, dáár word weer liefde gebore!

Terwyl ons begin het met die Bell’s advertensie, net die volgende om iets van God se “vreemde” liefde vir die wêreld te illustreer. Muus Jacobse skryf in een van sy gedigte die volgende. Ek het dit vry uit Nederlands vertaal:

Ek haat hom vir sy drankneus en sy psalms:
Wellustig, trillend loop hy dit en sing.
Here, sê ek, straf hierdie skynheilige.
Maar miskien glimlag God, en maak geduldig
vir hom, soos ook vir my wat hom beskuldig,
‘n woning in sy wye hemel klaar!

Nie een van ons het ‘n voorsprong op enigiemand anders nie. Ons elkeen staan bankrot voor God – deur die sonde, gelyk gemaak met die grond. Maar Goddank, niémand is benede God se liefde nie!

Chris Jones

Seisoen van Luister Powerpoint

Preekriglyn in argief