{ARGIEF}

Sondag 20 Januarie 2013 ~ Derde Sondag ná Epifanie: Nehemia 8: 1-3, 5-6, 8-10

Jerusalem se mure is opgebou. Die gemeente vra dat die wet van Moses waarin die Here se bevele opgeteken is, aan hulle gelees word. Die gemeente het ’n behoefte aan die stem van die Here.

Hulle word met diep ontsag gevul wanneer die Woord gelees word. Eers staan hulle op, steek die hande in die lug en dan kniel hulle en buig diep terwyl hulle luister na die Woord. Die Leviete lees, en lê uit sodat die mense kon verstaan.

By die aanhoor van die Woord raak hulle aan die huil. Moontlik ’n teken van verootmoediging en belydenis. In elk geval duidelik dat hulle aan die hart gegryp word wanneer hulle die wet van Moses, die stem van die Here hoor.

Elke Sondag gaan die gemeente na die kerk (leraar) om die Woord te hoor. Ek wonder wat is die ingesteldheid van die gemeente? Ook ’n diep ontsag? (Dit is in elk geval al ’n goeie vraag wat ons in vandag se tyd met die betekenis en relevansie van die Woord gemaak het.) En dié van die leraars? Ook so dat die gemeente kan verstaan?
Ek wonder of die gemeente (ons) vandag nog aan die hart gegryp word as hulle (ons) die boodskap hoor? Met die wonderlike vermaak van kuns en musiek en sport; die aaklighede van geweld, korrupsie, uitbuiting, en verdagmaking – hét ons nog die emosionele energie oor vir die inhoud en impak van die Woord? Kan die Woord, en laat ons toe dat die Woord, ons so in kontak met onsself bring dat ons selfs ontsteld of bly kan raak? Watter woord, boodskap, sal ons so kan beweeg?

Die wet, as ’n teken van God se ooreenkoms/verbond en trou aan ons behoort ons ook te beweeg. Beslis behoort dit die boodskap van God se genade te wees wat ons aangryp. Die boodskap aangaande die Een in wie die wet volbring is. Die Beliggaamde van die belofte van ’n Nuwe Jerusalem (nie net ’n herboude-Jerusalem nie).

NT Wrigt skryf in sy Boek, Hope dat die Bybel op sy beste is (my woorde) wanneer dit gelees word vanuit die perspektief van die nuwe skepping. Die Bybel vertel ons nie net van die nuwe skepping (die nuwe Jerusalem) nie, maar is inderdaad die instrument wat die Gees gebruik om ons te transformeer sodat ons ook nuut, verwonderd, hoopvol kan wees.

“It is the book whose whole narrative is about creation, that is, about resurrection, so that when the gospels each end with the raising of Jesus from the dead, and when Revelation ends with new heavens and new earth populated by God’s people risen from the dead, this should not come as a surprise, but as the ultimate fulfillment of what the story had been all along.” (p295)

Vatbaar vir die werking van die Gees van God sal die Woord ons help om diepte te vind in ons verhouding met God en ander en onsself en die lewe. Soos ’n boom met ’n diep penwortel wat die lewegewende water ver gaan haal.

(Bogenoemde sluit aan by die NT Wright se bespreking van Act Five, sy beeld van die tyd waarin ons nou leef waar ons saam met God en Sy Woord medeskeppers is aan die nuwe skepping.
NT Wright: The Last Word
Artikel van John Piippo: www.johnpiippo.com waar hy Act Five bespreek
Communitas wat ook ’n handleiding en CD’s oor Act Five uitgewerk het)

Preekriglyn in Argief: http://www.communitas.co.za/leesrooster/ot/16-Nehemia/Nehemia%208_1-10.htm

Seisoen van Luister:  http://www.seisoenvanluister.co.za/produkte/powerpoint-en-word/kerkjaar-volgorde/kerkjaar-2012-13/files-download/688_55a0f5701b5c43e7469aac9102ae067a